Kopkrap-kwessies vir koringprodusente

Gepubliseer: 13 April 2023

809
Dr Gerhard H Verdoorn, bedryfs-en-rentmeester-skapbestuurder,
CropLife SA
Chana-Lee White,
Agri-Intel-bestuurder, CropLife SA

Die Wes-Kaap se Swartland en Rûens was altyd die koringwêreld van Suid-Afrika. Soos wat die landbou ontwikkel het, het graanprodusente ander streke in Suid-Afrika getoets vir die wêreld se tweede belangrikste graangewas (naas rys) en deesdae word somer- en winterkoring wyd en syd oor die land heen geproduseer.

Die wêreldekonomie se invloed op plaaslike koringprodusente
Enige land met ’n gesonde ekonomie behoort sy eie stapelvoedsels te produseer, want dit skep ’n groot mate van voedselsekerheid vir die nasie en spaar aan buitelandse valuta wat op invoere spandeer moet word. Met die globalisering van die wêreldekonomie en die wegval van voedselkommoditeitsbeskerming in Suid-Afrika, is plaaslike koringprodusente egter feitlik oornag in ’n dilemma gedompel: Hulle moes begin kompeteer met lande soos die VSA, Rusland en die Oekraïne wat massiewe tonnemate koring baie goedkoper as plaaslik kon produseer. Dit het plaaslike koringproduksie so hard getref dat Suid-Afrika noodge­dwonge ’n netto invoerder van koring geword het.

Dit is nie slegs die goedkoper ingevoerde koring wat kopsere veroorsaak nie, maar ook die wisselvallige reënval as gevolg van klimaatsverandering wat veral die Wes-Kaapse koringprodusente ’n opdraande stryd laat voer. Die swakker wordende Suid-Afrikaanse geldeenheid skep dalk welvaart vir uitvoerprodusente, maar veroorsaak presies die teenoorgestelde vir ’n koringprodusent wat die hoër insetkoste as gevolg van hoër invoerpryse moet betaal, maar sy produk plaaslik teen ’n goedkoop internasionale prys moet verkoop.

Peste, siektes en onkruide
Monokultuurgraangewasse is altyd onder druk van plantpeste, patogeensiektes en kompeterende on­kruide. Dit noodsaak produsente om hierdie uitda­gings met plaagdoders aan te pak, alhoewel die sentiment wêreldwyd negatief jeens hierdie tipe middels is. (Boonop is hierdie negatiewe sentiment redelik skrikwekkend, aangesien dit feitlik altyd emosioneel gedrewe is sonder geldige wetenskaplike gronde.)

Ten spyte van die negatiewe gevoel teenoor plaagdoders moet koringprodusente wel peste, siektes en onkruide onder beheer hou as hulle enigsins winsgewend wil produseer. Sekere koringpeste soos koringluis is redelik maklik beheerbaar. Daar is egter sommige “probleemkinders” soos Italiaanse raaigras en ander raaigrasspesies wat hardnekkig teen onkruid­doders baklei.

Navorsing wat deur die LNR-Kleingraan in Bethlehem onderneem is, is redelik skokkend en dui nie alleen daarop dat raaigrasspesies kan kruisbestuif en verbaster nie, maar ook dat daar alreeds weerstand teen die HRAC (Onkruiddoderweerstandsaksie­komitee) se Groep 1- en Groep 2-onkruiddodergroepe­ is. Dit sluit onder meer onkruiddoder- aktiewe bestanddele soos chlorsulfuron, metsulfuron-metiel, sulfosulfuron, triasulfuron, clodinafop-propargiel, diclofop-metiel en tralkosidiem in. In kort beteken dit dat koringprodusente nie meer op hierdie onkruiddoders kan staatmaak om die raaigrasspesies te beheer nie.

Kompeterende onkruide
Die leek mag wonder waarom raaigras so ’n groot probleem vir koringprodusente is. Daar is verskeie redes: Eerstens is onkruide soos raaigras aggressiewe groeiers en kompeteer hulle ernstig met koring vir grondvog en voedingstowwe. Dit beteken dat die koring nie vog en voedingstowwe optimaal kan benut om die verwagte opbrengs vir die produsent te lewer nie. Tweedens is daar die gevaar dat vreemde grassoorte soos raaigras (Lolium-spesies) se saad in die geoeste koring kan beland en gradering ernstig kan benadeel. Derdens is daar die gevaar van allelopatie wat beteken dat onkruidspesies soos Lolium chemiese metaboliete afskei wat die groei en produksie van gewasse kan benadeel. Vierdens is onkruide dikwels gashere vir plantplae en siektes wat ongesiens daar skui­ling vind. Sodra toestande gunstig raak, vaar hulle die produsent se koring in en veroorsaak probleme.

Nuwe chemie teen Lolium?
Lolium-spesies is al vir meer as twee dekades ’n groot kopseer vir koringprodusente omdat verskeie van die geregistreerde onkruiddoders hul effektiwiteit teen raaigras verloor het. Produsente kyk hoopvol na die gewasbeskermingsbedryf vir die ontwikkeling van nuwe gewasbeskermingsprodukte, maar daar is bepaalde uitda­gings wat buite die beheer van die bedryf lê. Nuwe gewasbe­skermingsmolekules is skaars en daar kom jaarliks selde meer as tien nuwes mark toe. Dit is ook nie te sê dat ’n produk wat byvoorbeeld in Europa geregistreer is, plaaslik die gewenste uitwerking sal hê nie, aangesien die Suid-Afrikaanse klimaat beduidend van ander klimaatstreke verskil.

Verder is die kultivars waarmee plaaslike produsente koring produseer ook nie altyd dieselfde as in ander lande nie. Chemiese onkruiddoders moet dus plaaslik aan effektiwiteits- en gewasveiligheidstoetse onderwerp word voordat dit geregistreer kan word. Suid-Afrika is verder in ’n netelige situasie met ’n uiters stadige produkregistrasieproses wat tans menige bottelnek ervaar. Dit beteken dat nuwe tegnologie nie so vinnig in die mark inkom as wat dit behoort nie.

Metodes om uitdagings te oorkom
Tog is daar rede om positief oor die koringbedryf te bly. Die Agri-Intel-databasis van CropLife SA (www.agri-intel.com) dui aan dat daar wel ander aktiewe bestanddele is wat Lolium kan beheer. Dit verg egter ’n ander denkwyse en produksie-arena as waaraan produsente gewoond is. Die konsep van geïntegreerde plaagbeheer raak al hoe belangriker in moderne gewasproduksie en dit sluit in die gebruik van chemiese onkruiddoders teen hardnekkige on­kruide, verandering in bewerkingspraktyke asook gewasrotasie. Gewasrotasie is egter nie so maklik as die grondtipe en klimaat nie juis ander gewasse as koring kan ondersteun nie. Boonop kort die land koring, want haas elke mens eet brood.

Hier volg ’n paar wyse (of uitdagende!) woorde oor bewerkings­praktyke. Die ou dae se gewasproduksie was gegrond op ploeg, plant en oes. Die voordeel daarvan was dat onkruide, peste en siektes onder die grond versmoor is, maar die nadele was dat die grondstruktuur ernstig aangetas is deur grondverdigting, dat partikels fyner opgebreek is met gevolglike erosie en dat dit koste-oneffektief was. Met minimumbewerkingspraktyke is baie van die nadele weggewerk, maar onkruidreste, -sade, siektes en insekte word nie meer deur die meganiese aanslag van ploeg en eg beheer nie. Wat nou gemaak?

Miskien moet meer aandag geskenk word aan voorplant-on­kruidbeheer – waar die klimaat dit toelaat kan onkruide met een parakwataanwending morsdood geslaan word. Dit bly steeds een van die mees effektiewe onkruiddoders, maar verg besondere veiligheidsmaatreëls vanweë die orale en dermale giftigheid daarvan.

’n Tweede aspek wat die hele landbousektor deur as ’n pro­bleem erken word, is dat chemiese beheermiddels dikwels te laat in onkruide se groeistadium aangewend word. Alle lewende orga­nismes, ongeag of dit onkruide of plantpeste is, is meer sensitief teenoor chemiese middels as hulle nog in ’n baie jong stadium is. Grassoorte soos Lolium wat alreeds stewige halms gevorm het, sal baie swak op kontakonkruiddoders reageer, terwyl saailingon­kruide meestal kop sal omdop na ’n goeie aanwending daarvan. Die boodskap is duidelik: Klop die onkruide op die vroegste moontlike stadium en vergeet van volwasse-onkruidbeheer.

Nog ’n konsep wat produsente se nekhare behoorlik sal laat rys, is om oorstaanlande net soos gewaslanderye te bestuur. Alhoewel niks daar geplant sal word nie, moet alle onkruide ook daar uitgewis word so gou as wat hulle kop uitsteek.

Rotasie tussen aktiewe bestanddele is net so belangrik as om goeie saad aan te koop. As dieselfde onkruidspesies jaar na jaar met dieselfde groep aktiewe bestanddele behandel word, gaan daar sonder twyfel sensitiwiteitsverskuiwing plaasvind. Uiteindelik raak die onkruid heeltemal weerstandbiedend teen die aktiewe bestanddeel. Die weerstandskode staan op die hoofpaneel van die etiket gedruk – let op dat dit nie aan die handelsnaam gekoppel is nie, maar aan die aktiewe bestanddeel. Dit is dus noodsaaklik om byvoorbeeld ’n produk soos diflufenikan (Groep 12 of F1) af te wissel met prosulfokarb (Groep 15 of K3). Vir die weerstandskodes kan produsente HRAC se toepassing op hul selfone aflaai en dan die soekenjin gebruik om uit vind aan watter groep elke middel behoort.

’n Laaste woord van wysheid is om altyd die etiketinstruksies streng na te volg. Hou veral die dosis fyn dop, aangesien oordose­ring of onderdosering weerstandsontwikkeling waarborg. Die verantwoordelikheid lê by elke rolspeler om die regte ding te doen.

Graan SA-fotokompetisie – Pieter Burger, Januarie 2021