Kweekgras: ’n Moeilik beheerbare kalant

3026
Dr Maryke Craven,
LNR-Graangewasse: Potchefstroom
Marlene van der Walt, 
LNR-Graangewasse: Potchefstroom
Dr Jeanetta Saayman-du Toit, LNR-Graange-wasse: Potchefstroom

Tydens ’n meningspeiling wat onlangs onder 41 kommersiële produsente gedoen is, is kweekgras (Cynodon dactylon) aangewys as een van die topdrie-onkruide waarmee produsente die meeste sukkel. Internasionaal is kweek gemeld as ’n probleemonkruid in 40 verskillende gewasse in meer as 80 lande.

Dié onkruid word gekenmerk deur sy vinnige indringingsvermoë in bewerkte lande waar dit tot groot oesverliese lei. In ’n Brasiliaanse studie is gevind dat kweekgras opbrengste in katoen met 40% verlaag het, terwyl die onkruid tesame met rooi-uintjies (Cyperus rotundus) mielieopbrengs met tot 90% verlaag het.

Kweekgras is legendaries moeilik om uit te roei wanneer dit eers posgevat het. In hierdie artikel word gefokus op aspekte wat daartoe bydra dat kweek so ’n moeilik beheerbare onkruid is (Foto 1a en Foto 1b) asook op watter beheerstrategieë voorgestel word.

Biologie
Kweek is ’n kruipende meerjarige onkruid wat hoofsaaklik versprei deur middel van bogrondse uitlopers (stolons) en ondergrondse wortelstokke (risome) (Foto 2). Die onkruid het ’n gemiddelde areatoename van 0,9 m2 per maand, wat aansienlik laer is as byvoorbeeld die 2,8 m2 per maand van rooi-uintjies.

Hierdie onkruid word nie baie hoog nie – met die bloeiwyse aan gewoonlik nie hoër as 40 cm nie. Die bloeiwyse bestaan uit drie tot sewe are van 3 cm tot 6 cm lank wat vingervormig gerangskik is (Foto 3). Ongeveer 85% van die wortelstokke is in die boonste 20 cm van die grond geleë, met min wortelstokke wat dieper as 30 cm voorkom.

Wanneer temperature gedurende die lente begin verhoog, verleng nuwe uitlopers en spruit nuwe lote (stingels). Saad begin ontkiem wanneer daaglikse temperature bo 18ºC is. Gedurende die somer groei die onkruid lateraal in konsentriese sirkels vanaf die oorspronklike wortelstok. Betekenisvolle groei vind plaas by temperature bo 24°C, terwyl maksimum groeitempo’s voorkom by 38°C.

Internasionaal is gevind dat saad wat deur die spysverteringstelsel van skape en beeste beweeg hul lewenskragtigheid behou en in sekere gevalle selfs verbeterde ontkieming toon. Saad kan oorleef en onder veldtoestande lewenskragtig bly vir tussen drie tot vier jaar.

Kweek is aangepas by ’n wye reeks van grondtipes en toestande. Dit groei beter op swaarder kleigronde as op sandgronde in droë streke, moontlik weens die hoër waterhouvermoë van kleigronde. Verder kan kweek lang periodes van versuiptoestande oorleef, alhoewel min tot geen groei plaasvind sonder voldoende gronddeurlugting nie. Agt dae van versuiptoestande onder lopende water asook vier weke onder staande water het byvoorbeeld geen effek op die spruitvermoë van die onkruid gehad nie.

Alhoewel die onkruid in ’n wye reeks pH-gronde kan groei, verdra dit alkaliese gronde beter as suur gronde. So is groei byvoorbeeld bevorder wanneer kalk toegedien is op gronde met ’n pH van 5.5.

Beheer
Kundiges is dit eens dat alhoewel kweekgras beheerbaar is, daar geen kitsoplossing beskikbaar is nie. Ten spyte van die feit dat meganiese beheer dikwels net die probleem vererger deur die stolons en risome in steggies op te breek, het dit wel ’n plek in ’n geïntegreerde beheerprogram.

Studies het getoon dat wortelstokke wat op ’n diepte van 20 cm begrawe is binne een maand lote geskiet het, terwyl dié wat op ’n diepte van 30 cm begrawe is glad nie lote bo die grond gestoot het nie. Laasgenoemde wortelstokke het wel groeiknoppe gevorm, maar dié het verrot voordat dit die oppervlak kon bereik.

Kweekgras is baie vatbaar vir uitdroging. Lang wortelstokke en dormante (rustende) uitlopers vereis egter lang periodes van droging om die aktiwiteit van die groeiknoppe te vernietig. Daar is gevind dat die lugdroging van enkelnode-wortelstokfragmente vir ’n periode van sewe dae tot die inhibering van uitloop gelei het. ’n Drienode-wortelstokfragment het na sewe dae voortgegaan om uit te loop.

Aktief groeiende uitlopers is meer vatbaar vir uitdroging as uitlopers wat dormant is of net uit die dormante stadium kom (post-dormant). Die kritiese vogvlakke wat benodig word om hergroei te belemmer, verskil tussen die uitlopers en die wortelstokke – 39% vir die uitlopers teenoor die wortelstokke se 15%. Groter inhiberende effekte is verder verkry wanneer kweekgras op warm, droë dae gesny is eerder as op koel, vogtige dae.

Kweekgras vereis nie slegs hoë temperature om optimaal te groei nie, maar ook hoë ligintensiteit. Die onkruid benodig direkte sonlig om te groei en sterf af met toenemende skaduvlakke. Hierdie eienskap moet deur produsente uitgebuit word in die beheer van die onkruid deur te kyk na rywydtes, plantestand en die tipe gewas wat geplant word.

Internasionale studies toon dat die afname in groei weens oorskaduwing verhoog word by hoër temperature, moontlik weens die toename in respirasietempo relatief tot die fotosintesetempo. Deur die stikstofvlak te verhoog terwyl ’n lae ligintensiteit gehandhaaf word, word die groei van kweek verder belemmer. Hierdie verskynsel word toegeskryf aan die feit dat stikstof die belemmerende groei-effek van die lae ligintensiteit op die lote en wortelstokke verhoog, terwyl die reserwekoolhidrate verlaag word en die ruproteïene verhoog word.

Onkruiddoders vorm ’n kardinale deel van kweekgrasbeheer. Ongelukkig is daar beperkte opsies beskikbaar vir produsente in hierdie verband, met glifosaat wat maar nog altyd die algemene produk is wat in die stryd teen kweekgras ingespan word. Oormatige of herhaalde gebruik daarvan gee egter aanleiding tot die ontstaan van weerstandige populasies. Dit is dus uiters belangrik dat produsente ook ander middels in hul onkruidbeheerprogramme sal inbring.

Hier speel wisselbou ’n groot rol, omdat dit die spektrum van bruikbare onkruiddoders verbreed. Landbouchemiese agente moet in hierdie verband gekontak word rakende die beskikbare opsies asook die nuutste produkte op die mark.

In die geval van hewige kweekgrasinfestasies moet daar daadwerklik ingegryp word om die onkruid onder beheer te bring. Gedurende die herfs (Februarie/Maart) verander die metabolisme van kweekgras en die plant begin dan voedingstowwe na die wortels vervoer ter wille van oorlewing in die koue maande. Herfs is die aangewese tyd om kweek te bespuit.

Glifosaat (teen die hoogste aanbevole dosis) wat byvoorbeeld op hierdie stadium toegedien word, word dan saam met die voedingstowwe na die wortels getranslokeer en sodoende gaan die hele plant dood. Neem egter kennis van die etiketinstruksies om te verseker dat die glifosaat korrek toegedien word. Waar hergroei in enkele gevalle mag voorkom, kan kolbespuiting die kweekgras beheer. Dit is altyd belangrik om wenakkers en toegangspaaie ook te bespuit voordat kweekgras daar vestig.

Kundiges beveel ’n meganiese winterbewerking aan om die stolons en risome op te breek. Wanneer risome en stolons gedurende die lente en vroeg somer uitloop, kan glifosaat (teen die hoogste aanbevole dosis) weer eens toegedien word. Normale bewerkingspraktyke vir die seisoen kan na drie weke hervat word.

Soos reeds genoem, moet wisselbou egter ook deel vorm van die beheerstrategie – veral deur grasgewasse af te wissel met breëblaargewasse. ’n Grasbeheerprogram word dan gevolg binne die breëblaargewas waarna die winterbewerkingsprogram weer gevolg word deur bespuiting van glifosaat teen die hoogste aanbevole dosis. Indien bogenoemde beginsels herhaaldelik toegepas word, sal dit bydra om die kweekgrasinfestasie onder beheer te bring.

Internasionaal word egter aanbeveel dat geenbewerking glad nie oorweeg word waar baie hoë kweekgrasinfestasievlakke voorkom nie.

Produsente is welkom om die onkruidbeheerafdeling by die LNR-Graangewasse te kontak by 018 299 6100.