Bewaringslandbou: Só reageer kanola op stikstofbemesting

Gepubliseer: 8 Februarie 2022

1553

Dr Johan Labuschagne, Wes-Kaapse Departe-
ment van Landbou

Dr Pieter Swanepoel, Universiteit Stellenbosch

Dr Izane Crous,
AB InBev

Annemarie van der Merwe, Wes-Kaapse Departement van Landbou

Die oorgrote meerderheid kanolaprodusente in die Wes-Kaap pas reeds vir jare sekere aspekte van bewaringslandbou in hul boerderystelsels toe. Bewarings­landbou behels die toepassing van sekere basiese beginsels, naamlik so min as moontlik grondversteu­ring, die verbouing van (waar moontlik) drie of meer onverwante gewasse in wisselboustelsels en laastens om die grond so lank as moontlik met gewasreste te bedek.

As gevolg hiervan verander die fisiese, chemiese en biologiese samestelling en mikrobe-aktiwiteit binne die grondprofiel – onder meer kom verhoogde vlakke van organiese koolstof voor. Verskeie voordelige gevolge vir die gewas spruit uit hierdie hoër koolstof­vlakke, waaronder verhoogde mikrobiologiese aktiwiteit. Groot hoeveelhede organiese stikstof (N) word ook in die meeste van die gronde wat volgens bewaringslandboubeginsels bestuur word, aangetref. Die verhoogde mikrobiologiese aktiwiteit het tot gevolg dat meer plantbeskikbare N in die nitraatvorm vrygestel word. Hierdie vrystelling van nitraat kan tot gevolg hê dat kanola met minder toege­diende N steeds topopbrengste kan lewer.

Aangesien die huidige bemestingsrig­lyne vir kanola in die Wes-Kaap afgelei is van navorsing wat op koring gedoen is of van buitelandse navorsing op kanola, is daar besluit om self navorsing te doen wat spesifiek op die kanolaproduserende streke van die Wes-Kaap gerig is. Die kanolaproewe is onder leiding van dr Johan Labuschagne van die Wes-Kaapse Departement van Landbou in samewerking met dr Pieter Swanepoel van die Universiteit Stellenbosch (US) gedoen. Proefwerk het in 2016 ’n aanvang geneem en is vir vyf jaar tot 2020 uitge­voer. Die Sasol-landboutrust het gedurende 2016 tot 2019 ruim bygedra om die kanola­projek moontlik te maak. Dr Izane Crous het pas haar doktorsgraad in Agronomie aan die US behaal deur data te gebruik wat tussen 2016 en 2019 versamel is.

Om die reaksie van ka­nola op verskillende N-peile te ondersoek, is vyf lokaliteite om verskillende produksie­streke te verteenwoordig, in die Wes-Kaap geïdentifiseer. Die lokaliteite was Riversdal (Uitkyk), Riviersonderend (Tygerhoek), Moorreesburg (Langgewens), Darling en Porterville. Op al die lokaliteite het kanola na koring in die wisselboustelsel gevolg. Die N-behandelings het bestaan uit ’n kontrole waar geen N toegedien is nie asook behandelings waar 25 kg N/ha­tydens plant (’n gedeelte met planter toegedien in die ry en ’n gedeelte breedwerpig met die hand voor die planter uitgestrooi), ge­volg deur naplanttoedie­nings (kopbemesting) van onderskeidelik 0, 25, 50, 75, 105, 135 en 165 kg N/ha. Naplant­toedienings is so na as moontlik aan stamverlenging (vier- tot vyfblaarstadium) toegedien. Die anorganiese stikstofinhoud (ammonium en nitraat) in die grond is tydens plant, voor en ongeveer 14 dae ná naplanttoedienings en tydens oes in die boonste 30 cm van die grond bepaal. In hierdie artikel word slegs gefokus op die gewasreaksie betreffende saad­opbrengs en olie-inhoud van die saad.

Daar is gepoog om soveel moontlik van die verskillende gronde wat in die kanolaproduserende gebiede voorkom, in te sluit. Die grondeienskappe van die verskillende lokaliteite word in Tabel 1 opgesom.

Reënval is een van die deurslaggewende faktore wat die reaksie van enige gewas op stikstofbemesting beïnvloed. Reënval is gedurende die proeftydperk gemeet en word saamgevat in Tabel 2. In die Wes-Kaap word die effektiewe reënval wat kanola se groei, ontwikkeling, opbrengs en olie kan beïnvloed tussen April (verkieslik die laaste twee weke in April) en September geneem. Uit die reënvalsyfers blyk dit duidelik dat die totale seisoenale reënval asook die verspreiding van reënval redelik gevarieer het. Hierdie reënvaldata is ’n belangrike faktor wanneer die N-bemestingsriglyne gefinaliseer word.

Opbrengs en produksiekrommes
Die gemiddelde saadopbrengs oor die vyf jaar van die proeftyd­perk was 2,01 t/ha, 2,28 t/ha, 1,92 t/ha, 2,17 t/ha en 1,68 t/ha vir Riversdal, Riviersonderend, Darling, Moorreesburg en Porterville onderskeidelik en het uiters swak asook uiters goeie jare ingesluit. Die invloed van seisoen is duidelik waarneembaar in die saadopbrengsresultate saamgevat in Grafiek 1 tot Grafiek 5. Indien verskillende letters bokant verskillende stafies in die figure voorkom, verskil die opbrengs tussen stafies betekenisvol. Soos te wagte, het saadopbrengs oor die algemeen verhoog namate die N-peil verhoog is – tot ’n maksimum waarna geen positiewe reaksie met verdere N-verho­gings waargeneem is nie. Hierdie reaksie is nie waargeneem in uiters droë seisoene waar die plante nie al die beskikbare N kon benut nie.

Grafiek 1: Kanolasaadopbrengs soos beïnvloed deur die verskillende N-peile gedurende die proefperiode te Riversdal (Uitkyk).

Die opbrengsinligting vervat in Grafiek 1 tot Grafiek 5 gee ’n uitstekende aanduiding van wat verwag kan word as N-peile verhoog word en wat die opbrengsverwagting onder sekere omgewingstoestande sal wees. Om stikstofbemestingspeile aan te beveel uitsluitlik op grond van die inligting in die grafieke is ietwat riskant, alhoewel skattings wel gewaag kan word. Die beskikbare riglyne (Fertasa, 2016), wys dat in die Suid-Kaap tussen 50 kg N/ha en 70 kg N/ha in ’n graanstoppelstelsel wat jaarliks tussen 350 mm en 425 mm reënval ontvang, benodig word om 1,5 ton kanola/ha te produseer. By die Suid-Kaapse lokaliteite, Riversdal (Grafiek 1) en Tygerhoek (Grafiek 2), kan gesien word dat met slegs 25 kg N/ha tussen 1,2 t/ha en 2,8 t/ha en 1,7 t/ha en 3,3 t/ha onderskeidelik geproduseer is. Net by Riversdal was die opbrengs vir twee uit die vyf jare onder 1,5 t/ha.

Grafiek 2: Kanolasaadopbrengs soos beïnvloed deur die verskillende N-peile gedurende die proefperiode te Riviersonderend (Tygerhoek-navorsingsplaas).

Vir die Swartland is die N-riglyn in die streke waar minder as 325 mm reën voorkom, 70 kg N/ha tot 90 kg N/ha vir ’n opbrengspo­tensiaal van 1,25 t/ha. By Darling (Grafiek 3) is met slegs 25 kg N/ha tussen 0,8 t/ha en 2,1 t/ha gestroop (net een jaar minder as 1,25 t/ha), by Moorreesburg (Grafiek 4), 0,8 t/ha tot 2,8 t/ha (twee uit die vyf jaar minder as 1,25 t/ha) en by Porterville (Grafiek 5) 0,8 t/ha tot 2,3 t/ha waarvan twee jare minder as 1,25 t/ha was. Dit lyk dus asof met redelike sekerheid afgelei kan word dat die kans baie goed is om met minder N die opbrengste wat in die Fertasa-bemestings­handleiding aangetoon word, te verkry. Die werklike reënval wat op die plase gemeet is, is egter nie hier in aanmerking geneem nie. Van betekenis is die feit dat plase gekies is waar bewaringslandbou ’n uiters belangrike be­stuurskomponent uitmaak en waar dié beginsels sterk toegepas word.

Grafiek 3: Kanolasaadopbrengs soos beïnvloed deur die verskillende N-peile gedurende die proefperiode te Darling (Klipvlei).
Grafiek 4: Kanolasaadopbrengs soos beïnvloed deur die verskillende N-peile gedurende die proefperiode te Moorreesburg (Langgewens-navorsingsplaas).
Grafiek 5: Kanolasaadopbrengs soos beïnvloed deur die verskillende N-peile gedurende die proefperiode te Porterville (Nuhoop en Groenvlei).

Die navorsingspan is tans besig om die riglyne te verfyn en die inligting meer gebruiksvriendelik te verpak. Dit word gedoen deur eenvoudige passings te doen waarvan die vergelykings nuttig gebruik kan word om te voorspel wat die produksie by ’n sekere N-peil onder sekere omgewingstoestande behoort te wees. As voorbeeld word Riviers­onderend se data ingesluit (Grafiek 6). Relatiewe opbrengs word bereken deur die opbrengs by ’n sekere peil uit te druk as persentasie van die maksimum opbrengs verkry vir daardie jaar. Hierdie benadering verminder dan ook die effek van jaar betreffende opbrengsverskille tussen verskillende groeiseisoene. Deur van die vergelykings gebruik te maak, kan die N-behoefte om by ’n voorafbeplande opbrengs uit te kom, bereken word. In teenstelling met die koringproef waaroor in 2020 berig is, is die passings minder akkuraat by kanola. Die beste pas­sings in Grafiek 6 is die 2017-, 2018- en 2019-lyne en -vergelykings.

Grafiek 6: Relatiewe saadopbrengs van kanola soos beïnvloed deur die verskillende N-peile gedurende die proefperiode te Riviersonderend (Tygerhoek-navorsingsplaas).

Addisioneel tot hierdie inligting word beplan om ’n tipe indeks te gebruik om area­spesifieke riglyne daar te stel. Hierdie indeks behoort grond- anorganiese N, C:N, reënval, wisselboustelsel en grondtekstuur in te sluit. In samewerking met dr Willem Hoffman van die Departement Landbou-ekonomie by die US word die ekonomiese implikasies van verskillende N-peile ook tans ondersoek en sal dit as verdere hulpmiddel gebruik kan word om die bepaling van N-bemestingspeile te verfyn.

Olie-inhoud van die saad
In teenstelling met Australië, waar produ­sente ’n premie ontvang vir saad gelewer met ’n hoë olie-inhoud, word produsente in Suid-Afrika net vergoed per ton saad gelewer. Tydens hierdie studie is gevind dat die persentasie olie in die saad ’n afwaartse neiging toon namate N-peile verhoog is (Grafiek 7 tot Grafiek 10). Dit is ook duidelik dat die seisoen ’n belangrike invloed op die gemiddelde olie-inhoud oor al die N-peile uitoefen.

Grafiek 7: Kanola-olie-inhoud soos beïnvloed deur die verskillende N-peile gedurende die proefperiode te Riversdal (Uitkyk).
Grafiek 8: Kanola-olie-inhoud soos beïnvloed deur die verskillende N-peile gedurende die proefperiode te Riviersonderend (Tygerhoek-navorsingsplaas).
Grafiek 9: Kanola-olie-inhoud soos beïnvloed deur die verskillende N-peile gedurende die proefperiode te Moorreesburg (Langgewens-navorsingsplaas).
Grafiek 10: Kanola-olie-inhoud en saadopbrengs soos beïnvloed deur die verskillende N-peile gedurende die proefperiode te Porterville (Nuhoop en Groenvlei).

Gedurende die studietydperk is van baie goeie tot baie swak jare wat betref reënval gedurende die groeiseisoen sowel as verspreiding van reënval by van die lokaliteite ondervind. Dit skep die geleentheid om aanbevelings vir swak sowel as goeie seisoene te formuleer. Die navorsingspan wil weer eens dank betuig aan die Sasol-landboutrust vir die finansiering van die studie asook die produsente Nicolaas Loubser, WG Treurnicht en Jan-Hendrik Joubert wat grond op hul plase beskikbaar gestel het om die navorsing te kon doen.

Vir verdere navrae kontak dr Johan Labuschagne by johanl@elsenburg.com, dr Pieter Swanepoel by pieterswanepoel@sun.ac.za of dr Izane Crous by izane.crous@za.ab-inbev.com.

Graan SA-fotokompetisie– Rory Daniel Blok, Julie 2021