Gewasbegrotings vir die nuwe seisoen

202
Petru Fourie,
navorsingskoördineer-
der en produksiekoste-
analis, Graan SA

Die afgelope somergraanproduksieseisoen (2018/2019) het uitdagend afgeskop met goeie wydverspreide reën wat uiters laat voorgekom en aanplantings vertraag het. Produsente het die weer benoud dopgehou weens kommer dat ryp dié laat aangeplante gewasse sou beskadig, maar dit is met groot dankbaarheid dat hulle die impak van die ryp vrygespring het.

Nou is die nuwe plantseisoen vir somergewasse om die draai – alhoewel produsente tydens die skryf van hierdie artikel nog besig was om mielies te stroop as gevolg van die laat aanplantings.

Tyd vir die opstel van begrotings
Met die 2019/2020-seisoen wat nader kruip, is dit weer tyd om sommetjies te maak. Die ontleding van bruto marges is ’n algemene en gewilde manier om die relatiewe winsgewendheid van graangewasse binne ’n boerdery met mekaar te vergelyk.

Hierdie artikel gee ’n riglyn in terme van die winsgewendheid van mielies teenoor sonneblom en sojabone. Die verantwoordelikheid berus steeds by elke produsent om sy eie brutomargeberekening te doen. Produksiekoste verskil radikaal van buurman tot buurman weens elke graanprodusent se eie unieke stelsel, die tipe boerderyeenheid en produksiepraktyke.

Elke produsent word aangeraai om sy eie persoonlike somme te maak en daarvolgens besluite te neem wat die beste vir sy omgewing en situasie is.

Die daarstel van produksiebegrotings voor die aanplant van gewasse raak al meer noodsaaklik en moet nie ligtelik opgeneem word wanneer produksiebesluite geneem word nie. Niemand kan die toekoms met al sy risiko’s en onsekerhede akkuraat voorspel nie, aangesien dit op vooruitskattings, historiese gegewens, aannames en ondervinding gebaseer word. In die lig hiervan moet produsente daarvan bewus wees dat die begrotings wat hulle gebruik asook die aannames waarop dit berus voortdurend aan verandering onderworpe is.

Veranderlike en vaste koste vorm saam die kostestruktuur van begrotings. Indien daar nie van sekere veranderlike koste gebruik gemaak word nie, kan dit van die totale veranderlike koste afgetrek word. Alhoewel vaste koste dramaties van produsent tot produsent verskil, word ’n x-bedrag daarvoor voorsiening gemaak om ’n beraamde totale produksiekoste te bereken.

Kommoditeitspryse
Om die prys van die kommoditeit vir die komende jaar te voorspel, is uiters moeilik. Die Safex-vooruittermynkontrak wat in die berekeninge gebruik is, is soos volg:

  • Mielies vir lewering in Julie 2020 = R2 700/ton
  • Sonneblom vir lewering in Mei 2020 = R5 120/ton
  • Sojabone vir lewering in Mei 2020 = R5 300/ton

Die 2020-termynpryse is bepaal deur die gemiddelde prys sedert die begin van verhandeling vir daardie spesifieke kontrakmaand te bereken. Met inagneming van die liggingsdifferensiaal, hanteringskoste en bemarkingskommissie is ’n produsenteprys toe bereken.

Mieliepryse word tans ondersteun deur relatiewe lae plaaslike produksie sowel as ’n toename in internasionale pryse wat plaaslike pryse ondersteun. Dit is belangrik om kennis te neem dat die mieliepryse wat die afgelope bemarkingsjaar teen relatief hoër vlakke verhandel, produsente plaaslik kan motiveer om meer mielies aan te plant.

Die grootste risiko vir die komende seisoen sal egter die weerstoestande wees wat die aanplantings vir die seisoen sal bepaal. Indien die weerstoestande redelik normaal is en die aanplantings normaal plaasvind, kan daar in die komende seisoen weer ’n groter afwaartse kommoditeitsprysrisiko wees.

Opbrengs
’n Moeilik bepalende faktor tydens die opstel van begrotings is die bepaling van die opbrengs van die gewas vir die komende jaar – juis as gevolg van die onsekerheid van klimaatstoestande. Tydens die vergelyking van gewasse se winsgewendheid moet besluit word watter opbrengs-scenario vir elke gewas gebruik word. Met ander woorde, indien daar ’n gemiddelde opbrengs van 4 t/ha vir mielies gestroop sou word, wat is die gelyke opbrengs wat byvoorbeeld vir sonneblom of sojabone in dieselfde klimaat en grond behaal sou kon word.

Insetpryse
Graan SA bekom en moniteer insetpryse op ’n daaglikse, maandelikse en/of jaarlikse basis. Volgens Graan SA se berekeninge het mieliesaadpryse vir die 2019/2020-produksieseisoen gemiddeld met 4,5% en sonneblomsaadpryse op ’n gemiddelde basis met 4,3% gestyg, terwyl sojaboonsaadpryse met 1,9% gedaal het.

Alhoewel mieliesaadpryse gemiddeld met 4,5% gestyg het, het sekere gewilde kultivars se prys egter gedaal. Verskillende aannames word met die opstel van die begrotings gemaak. In die geval van kunsmis (die grootste deel van ’n produsent se veranderlike koste), is ’n gemiddeld van al die kunsmismaatskappye se pryslyste vir stikstof (N), fosfaat (P) en kalium (K) bereken en in die begrotings geïnkorporeer. Op ’n gemiddelde basis het die samestelling van N, P en K in die mieliebegrotings jaar op jaar met ongeveer 5% gestyg.

Met die berekening van byvoorbeeld brandstofkoste is vooruitskattings met behulp van toekomstige rand/dollar-wisselkoerse en toekomstige ruoliepryse vasgestel (September 2019, Desember 2019 en Junie 2020). Die toekomstige brandstofprys is baie moeilik om te bepaal, maar die verwagting is dat pryse relatief sywaarts behoort te beweeg.

’n Gemiddelde styging van 12% vir chemiese produkte is in berekening gebring. Geen kortings is in ag geneem tydens die opstel van die begrotings nie. Aangesien produsente prysnemers aan die inset- so­wel as die uitsetkant is, kan hoër insetkoste nie bloot net aan verbruikers deurgegee word nie. Produsente word dus gedwing om prysstygings te absorbeer.

Brutomargevergelyking vir 2019/2020-produksieseisoen
In hierdie artikel word drie tabelle en drie grafieke ten toon gestel. In elk van die tabelle word beraamde produksiekoste (veranderlike sowel as vaste koste) vir die komende produksieseisoen (2019/2020) uiteengesit. Die tabelle en grafieke vergelyk die insetkoste per gewas, gelykbreekprys en opbrengs asook die bruto marges met mekaar.

Oostelike produserende streek
In Tabel 1 word die produksiekoste vir die oostelike dele van die land (Oos-Vrystaat en oostelike Hoëveld) uiteengesit. Die produksiekoste van mielies, sonneblom en sojabone met hul onderskeie opbrengsmikpunte word vir die Oos-Vrystaat vergelyk, terwyl slegs mielies en sojabone in die oostelike Hoëveld vergelyk word.

Volgens Graan SA se produksiekosteberekeninge beloop die veranderlike koste om mielies in die Oos-Vrystaat vir ’n 5 t/ha-opbrengsmikpunt te produseer ongeveer R9 900/ha, terwyl dit ongeveer R11 542 vir ’n 6 t/ha-opbrengsmikpunt in die oostelike Hoëveld is.

Indien die relatief hoër Safex-prys teen die beraamde begrote insetkoste (uitgesluit vaste koste) realiseer, moet ’n produsent in die Oos-Vrystaat 4,15 t/ha stroop om gelyk te breek, waar ’n produsent in die oostelike Hoëveld 4,79 t/ha moet stroop. Wanneer die gelykbreekopbrengste vir die totale koste (ingesluit vaste koste) egter bereken word en al ’n mielieprodusent se koste kan nie gedek word nie, raak dit ’n probleem en bekommernis.

Tabel 1 illustreer verder die uiteensetting van insetkoste vir die verbouing van sojabone en sonneblom. Aannames wat met die opstel van die sojaboonbegroting gemaak is, is dat 50% van die saad deur produsente teruggehou is, terwyl die oorblywende 50% gesertifiseerde saad is. Die begroting sluit ook ’n koste vir N, P en K in sowel as die teling-en-tegnologieheffing op sojabone van R65/ton wat op 1 Maart vanjaar in werking getree het.

Gegewe die insetkoste (uitgesluit vaste koste) soos wat in Tabel 1 vir sojabone aangetoon is en die gemelde Safex-prys, moet ’n opbrengs van ongeveer 1,46 t/ha in die Oos-Vrystaat sowel as oostelike Hoëveld behaal word om gelyk te breek.

Sonneblom word maar op klein skaal in die Oos-Vrystaat aangeplant en was die afgelope seisoen onder geweldige druk weens siektes wat opbrengste baie negatief geaffekteer het. In die geval van sonneblom lyk die winsgewendheidsprentjie relatief goed en kan die gelykbreekopbrengs en Safex-prys in Tabel 1 gesien word.

Grafiek 1 toon die inligting soos geïllustreer en bereken in Tabel 1 in grafiekformaat. In Grafiek 1 word ’n brutomargevergelyking (blou staaf – slegs veranderlike koste) sowel as ’n nettomargevergelyking (rooi staaf – veranderlike koste plus vaste koste) tussen dié gewasse getoon.

Opsommend toon die grafiek dat somergraanverbouing in die oostelike dele van die land grotendeels winsgewend is en dat die verwagte hoër kommoditeitspryse vir die komende seisoen winsgewendheid oor die algemeen ondersteun.

Westelike produserende streek
In Tabel 2 word beraamde produksiekoste vir die westelike dele van die land (Noordwes Provinsie en Noordwes-Sentraal-Vrystaat) uiteengesit, terwyl Grafiek 2 weer eens die brutomarge- en nettomargesituasie vir die westelike dele van die land illustreer.

Produsente in die Noordwes Provinsie was die afgelope paar seisoene met uiterstes gekonfronteer en winsgewende mielieproduksie is al ’n geruime tyd onder geweldige druk. Gegewe dié koste kan mielies steeds nie winsgewend op gronde met marginale opbrengspotensiaal aangeplant word in die komende seisoen nie indien totale insetkoste (vaste koste plus veranderlike koste) in berekening gebring word.

Die mieliewinsgewendheidsprentjie lyk egter heelwat beter indien dit in gebiede met hoër produksie en in gronde met hoër opbrengspotensiaal soos byvoorbeeld in die Noordwes-Sentraal-Vrystaat (Tabel 2, Grafiek 2) teen huidige pryse aangeplant word.

Sonneblom bly maar ’n staatmaker vir die Noordwes Provinsie. Volgens die berekening wil dit voorkom asof sojabone se aanpasbaarheid in die Noordwes Provinsie nog heelwat uitdagings inhou, terwyl die margepotensiaal in die Noordwes-Sentraal-Vrystaat beter is.

Besproeiing
Wanneer die koste per hektaar tussen droëland en besproeiing vergelyk word, is daar ’n aansienlike verskil. Die verskil in veranderlike koste is hoofsaaklik weens die hoër plantdigtheid onder besproeiing wat ’n verhoging in saad- sowel as kunsmiskoste tot gevolg het.

Buiten die insetprysstygings gaan ’n besproeiingsprodusent gebuk onder die konstante verhoging van die koste van byvoorbeeld elektrisiteit, water en spilpuntonderhoud – om maar net ’n paar te noem.

Tabel 3 dui die beraamde produksiekoste vir besproeiingsgewasse vir die Noord-Kaap en Limpopo vir die komende seisoen (2019/2020) aan.

Volgens berekeninge is die veranderlike koste om mielies onder besproeiing vir ’n 14 t/ha-opbrengsmikpunt in die Noord-Kaap te produseer ’n skokkende R29 496/ha, terwyl dit R24 734 vir ’n 12 t/ha-opbrengsmikpunt in Limpopo is.

Indien dié Safex-prys teen die beraamde begrote insetkoste (slegs veranderlike koste) realiseer, blyk dit vir ’n besproeiingsprodusent moontlik te wees om sy veranderlike koste te kan dek. Indien die vastekostekomponent egter ook in berekening gebring word, is winsgewende mielieproduksie onder druk en sal ’n verlies gemaak word.

In Grafiek 3 word die marges weer eens tussen verskillende gewasse getoon. Opsommend toon die grafiek dat winsgewende mielieproduksie onder besproeiing vir albei streke onder druk is indien die totale (veranderlike en vaste) koste in ag geneem word.

Slotsom
Die winsgewendheid van enige gewas is ’n funksie van die kommoditeitsprys, opbrengs en produksiekoste: Indien enige van hierdie faktore gevolglik verander, verander die winsgewendheid van die bepaalde gewas. Weens die Safex-mielieprys wat tydens die skryf van hierdie artikel teen ’n gemiddeld van R2 700/ton die komende seisoen verhandel, behoort mielieproduksie in sekere gebiede meer winsgewend as oliesade te wees.

Volgens verwagtinge kan ’n uitbreiding in mieliehektare in die komende seisoen gesien word. Indien landboutoestande dit toelaat en ’n goeie gemiddelde mielie-oes realiseer, moet produsente kennis neem dat pryse volgende jaar met strooptyd onder druk kan verkeer en by uitvoerpariteit kan verhandel indien ’n surplus geproduseer word.

Daar is natuurlik nog baie wat in die mark kan gebeur. Hoe dit ook al sy, dit is belangrik dat elke produsent sy eie berekeninge doen en dan daarvolgens sy besluite neem.

Produsente en ander rolspelers kan die opsommende produksiekoste op die Graan SA-webwerf besigtig, terwyl die model gratis aan alle opbetaalde Graan SA-lede beskikbaar is.

Stuur ’n e-pos met jou Graan SA-lidnommer na petru@grainsa.co.za om die model te ontvang.

Opregte dank aan al die landboubesighede en individue vir hulle insette tot die saamstel van die begrotings. Graan SA spreek ook sy opregte dank uit aan die Mielietrust vir hulle finansiële steun waarsonder die projek nie moontlik sou wees nie.