Duisendpootskade onder die vergrootglas

95
Elrine Strydom,
LNR-Graangewasse, Potchefstroom
Annemie Erasmus,
LNR-Graangewasse, Potchefstroom
Diedrich Visser,
LNR-Groente en Sierplante, Roodeplaat

In Suid-Afrika kom verskeie insekte op sojabone voor, maar in min gevalle is die skade van ekonomiese belang. In die meeste gevalle ontbreek beheerstrategieë vir die insekte wat wel skade kan veroorsaak.

Sommige van die bekende sojaboonplae sluit in die Afrika-bolwurm, gewone snywurm, koolvalslandmeterruspe en die groen stinkbesie. By sommige insekte is dit moontlik dat “wangedragspatrone” kan voorkom, byvoorbeeld wanneer hul natuurlike gasheerplante nie beskikbaar is nie en ander nabygeleë gewasse dan aangeval word.

’n Tipiese voorbeeld is die Bagrada-stinkbesie wat byna enige gewas sal aanval as hul normale koolverwante gashere nie beskikbaar is nie. Hierdie tipe gedragspatroon word ook tipies by duisendpote waargeneem (Foto 1).

Diplopoda
Duisendpote is nie insekte nie, maar val in die klas Diplopoda, wat gekenmerk word deur twee paar pote op die meeste van die liggaamsegmente (insekte behoort tot die klas Insecta). In die volwasse stadia het die meeste insekte slegs drie paar pote, terwyl duisendpote tot 140 paar pote kan hê.

Hoewel dit seldsaam is, is daar gevalle gerapporteer waar duisendpote skade aanrig aan sojabone. Wanneer gewasse beskadig word, is dit gewoonlik ’n simptoom van omstandighede, byvoorbeeld wanneer aanplantings gedoen word in gronde met hoë vlakke van organiese inhoud en onder nat en koel grondtoestande.

Dit wil ook voorkom of duisendpote nie groente sal aanval nie tensy daar reeds insekskade voorkom of wanneer ’n siekte die plante verswak het.

Die meeste duisendpootspesies wat in Suid-Afrika voorkom, voed hoofsaaklik op dooie plantmateriaal, maar kan ook in die groentetuin gewaar word waar groente soos wortels, beet, aartappels en blomme beskadig kan word.

Vroeë skade
In die gevalle wat gerapporteer is, is skade aangerig aan die stingels van sojabone voor die opkoms van die saailinge (wat plante­stand drasties verminder het) asook aan die peule en saad later in die seisoen (Foto 2).

Alhoewel hulle nie normaalweg gewasse soos sojabone aanval nie, kan dit gebeur dat groot hoeveelhede organiese materiaal vanaf die vorige plantseisoen op die grondoppervlak kan lei tot hoër as normale getalle duisendpote.

Duisendpote sal voorts meer volop wees in nat en koel toestande wat ook gunstig is vir ander plae soos slakke. Soos reeds genoem, is duisendpote gewoonlik nie die primêre oorsaak van skade nie, maar is hulle “skuldig deur assosiasie” omdat hulle aan verrottende saailinge of sade vreet.

Daar moet dus seker gemaak word dat die skade wat waargeneem word met die regte plaag geassosieer word.

Dit is veral belangrik aangesien duisendpootskade nie tipies is nie en maklik verwar kan word met skade van ander plae soos slakke, snywurms, draadwurms en ander algemene voeders wat naby aan die grondoppervlak voed.

Saadbehandeling
Deesdae word baie gewasse met ’n neonikotinoïede saadbehandeling beskerm. Hierdie tipe insekdoder is nie noodwendig effektief teen duisendpote nie. Neonikotinoïede saadbehandelings is hoogs wateroplosbaar wat dit moontlik maak vir die plant om die aktiewe bestanddele te absorbeer en vanaf die wortelstelsel tot by die blare te vervoer.

Dit is nie verbasend dat hierdie tipe saadbehandelings nie noodwendig teen duisendpote werk nie, aangesien hulle nie gelys word as een van die plae wat geteiken word deur hierdie middels nie.

Hoewel ander insekdoders wel teen duisendpote op sekere gewasse geregistreer is, byvoorbeeld kanola, sitrus en aartappels, is daar oor die algemeen min inligting beskikbaar oor die chemiese beheer van duisendpote op gewasse.

Sekere middels, wat beter bekend is as slaklokaas, is egter ook teen duisendpote geregistreer op “algemene gewasse”.

Beheer
Die beheer van duisendpote sal tipies meer doeltreffend wees deur op te let na aanplantingsdatums, wisselbou en om grondbewerking toe te pas in areas met hoë infestasiegetalle.

In lande waar bewaringsboerderypraktyke toegepas word, sal ’n goeie mate van biologiese beheer gevind word. Die roofwants, Ectrichodia crux, in beide jong en volwasse stadia, is ’n spesialis- natuurlike vyand van duisendpote (Foto 3 en Foto 4).

Roofwantse is al in groot getalle waargeneem in bewaringsboerdery en kan duisendpootgetalle drasties verminder onder die regte omstandighede.

Geïntegreerde plaagbeheerstelsel
’n Goeie geïntegreerde plaagbeheerstelsel is die beste manier om voorkomend teen sojaboonpeste op te tree. So ’n plaagbeheerstelsel maak gebruik van weerstandbiedende kultivars (teen ander plae), wat gekombineer word met verskeie verbouingspraktyke, insluitend biologiese en chemiese beheer en gewasrotasie.

Aangesien duisendpote algemene voeders is, is weerstandbiedende kultivars en gewasrotasie nie opsies vir beheer nie.

Biologiese beheer behels onder meer die onderdrukking van ’n plaag deur gebruik te maak van natuurlike predatore (byvoorbeeld die duisendpoot-roofwants) wat in landerye teenwoordig is om sodoende skade van plae te beperk.

Chemiese beheer moet oordeelkundig toegepas word om ekonomies en effektief te wees en dit moet slegs toegedien word wanneer skadedrempelwaardes bereik word. Slegs geregistreerde middels moet gebruik word.

Aangesien duisendpote nie insekte is nie, sal die meeste insekdoders nie doeltreffend wees nie. Geen insekdoders is spesifiek teen duisendpote op sojabone geregistreer nie en dus moet middels gebruik word wat op “algemene gewasse” geregistreer is (raadpleeg die AVCASA-webtuiste).

Die etikette van sulke middels moet egter noukeurig gevolg word. Produsente moet ten alle tye bewus wees van wat in hul sojaboonlanderye aangaan. Sodoende kan potensiële plae geïdentifiseer word, waarna die korrekte en mees effektiewe beheer­strategieë ingestel kan word.

Bronnelys

  1. Visser, D. 2009. A complete guide to vegetable pests in South Africa. Agricultural Research Council, Roodeplaat Vegetable and Ornamental Plant Institute, Pretoria. 316 pp.