Trekker- en stroperverkope vertoon weer goed

Gepubliseer: 31 Julie 2023

336
Christiaan Vercueil,
landbou-ekonoom,
Graan SA, christiaan@grainsa.co.za

Insette bly ’n klip in die skoen vir alle produsente, met min maniere waarop hulle teen hierdie veranderlike kan verskans. Daar is geen ander genade as om maar op te dok sodat die volgende oes in die grond kan kom nie.

In hierdie maand se Inset-oorsig-rubriek word gekyk na landbou­masjinerie, ’n inset waarsonder geen ander inset effektief sou kon werk en in die regte periode toegedien word nie. Hierdie ongelooflike hulpmiddels maak hedendaagse landbou soos ons dit ken, moontlik.

Jaar-op-jaar-landboumasjineriepryse
Prysveranderings op ’n jaargrondslag van die verskillende kategorieë landboumasjinerie kan in Tabel 1 waargeneem word. Landboumasjineriepryse het vanaf Maart 2023 tot April 2023 gemiddeld met 7,2% gestyg, met trekkers wat die grootse bydrae gemaak het met pryse wat gemiddeld 9,4% gestyg het. Oor dieselfde tydperk het die wisselkoers met 4,6% verswak. Omdat die meerderheid landboumasjinerie ingevoer word, is ’n opwaartse neiging in pryse verwag.

Trekkerverkope
In 2022 is daar ’n rekordgetal van 9 181 eenhede verkoop, wat ’n styging van 16,7% verteenwoordig in vergelyking met 2021. Die gemiddelde trekkerverkope per jaar sedert 1995 is 5 707 eenhede (Grafiek 1). Trekkerverkope vir 2022 tot April, is tans 3,4% laer as dieselfde tyd verlede jaar. Stroperverkope in 2022 was 273 eenhede, wat 27,6% laer is as in 2021.

Grafiek 1: Jaarlikse trekkerverkope.

Interessanthede uit Tabel 2

  • Vanaf 2018 is Oktober die maand met die hoogste verkope.
  • Die tendens in Februarie van belastingjaareinde-aankope is betekenisvol, maar minder in onlangse jare.
  • Die kwartaal met die grootste aankope in 2022 is kwartaal 4 met 29,4% van die jaarlikse verkope.
  • Die eerste kwartaal (2022) se verkope is die laagste met slegs 21,7% van die totale verkope.
  • In 2022 is Januarie, Maart en April die drie maande met die laagste verkope.
  • Die verhouding tussen die eerste en die tweede helfte van 2021 is 45:55.

Grootte en ouderdom van trekkervloot
Die verandering in die grootte van Suid-Afrika se totale trekkervloot (die aantal trekkers in Suid-Afrika jonger as 20 jaar) word in Grafiek 2 geïllustreer, terwyl Grafiek 3 die ouderdomsverspreiding daarvan toon.

Grafiek 2: Grootte van trekkervloot.
Grafiek 3: Verspreiding van trekkervlootouderdom.

Algemene gevolgtrekkings rakende die grootte en ouderdomsverdeling van die trekkervloot (AGFACTS, 2022);

  • Die totale trekkervloot het na die daling van 2005 met ’n opwaartse baan voortgegaan en het die afgelope 17 jaar aansienlik toegeneem.
  • Die huidige trekkervloot van 100 068 eenhede is byna 55% meer as die vloot van 64 850 eenhede in 2002 (20 jaar gelede).
  • Die trekkervloot is tans 54% groter as die laagtepunt wat in 2005 bereik is.
  • Die gemiddelde ouderdom van die trekkervloot is tans 7,5 jaar.

Die totale trekkrag in die Suid-Afrikaanse trekkervloot staan tans op 7,90 miljoen kW. Dit het skerp toegeneem sedert 2003, toe ’n minimum van 4,26 miljoen kW bereik is.

Gemiddelde trekkrag (kW) van trekkers in die totale trekkervloot het die afgelope paar jaar geleidelik toegeneem. Dit het toegeneem van 63,7 kW (20 jaar gelede) tot 75 kW (in 2010) en het in 2021 op 78,1 kW te staan gekom. Hierdie getal het effens verhoog na 78,6 kW in 2022.