Deel 4: Koring
Dié reeks handel oor die algemene belangrikheid en die gebruik van inligting in die Suid-Afrikaanse graan- en oliesademarkte. Deel 3 van die reeks het na die geelmielie-inligting verwys, terwyl hierdie artikel op die koringinligting gaan fokus.
Aangesien die reeks grootliks fokus op die waarde van inligting in die graanmarkte, word daar veral gekyk na die inligting en wat daaruit geleer kan word. Ten einde hierdie doel te bereik, is dit belangrik om die tendense tussen die fundamentele markinligting en die pryse oor tyd met mekaar te vergelyk. Die vergelykings van die tendense word gedoen deur middel van seisoenale-indeksberekeninge.
Seisoenale indekse
Die seisoenale-indeksberekeninge word gebruik om die tendense van die verskillende aspekte, wat die prys- en voorraadvlakke insluit, ten toon te stel en vergelykings te doen. Die seisoenale indekse druk die maandelikse pryse en beskikbare voorraad uit as ’n persentasie van die twaalfmaande- bewegende gemiddeld.
Hierdie is ’n goeie manier om vergelykings van die verskillende aspekte met mekaar te doen aangesien dit op dieselfde basis uitgedruk word. Die indeksberekening van die data gee die leser ’n goeie oorsig oor wat wanneer in die mark verwag kan word. Dit kan gebruik word wanneer bemarkingsbesluite geneem word.
Agtergrond van die koringmark
Wat die plaaslike koringmark betref, is dit duidelik dat Suid-Afrika sedert die ontstaan van die vrye mark baie meer afhanklik van invoere geraak het om in die totale plaaslike aanvraag te voorsien. Plaaslike koringproduksie het begin afneem en invoere het begin toeneem.
Grafiek 1 wys dat Suid-Afrika in die laat 1990’s ongeveer 20 tot 25% van die plaaslike verbruik ingevoer het. Volgens die langtermynsyfers word daar tans ongeveer 49% van die plaaslike verbruik ingevoer (2024/2025). In die afgelope dekade het hierdie persentasie gereeld tussen 40 en 58% gewissel, met uitsonderlike jare soos 2015/2016, waar invoere selfs 168% van plaaslike verbruik uitgemaak het.

Bron: SAGIS en Graan SA
Die groter afhanklikheid van invoere beteken dat plaaslike produksie minder bepalend is vir prysvorming terwyl internasionale pryse en die wisselkoers veel groter drywers van plaaslike pryse geword het. Gevolglik het veranderings in internasionale pryse en die wisselkoers ’n beduidend groter impak op plaaslike koringpryse as plaaslike produksievlakke.
Die seisoenale tendense
Grafiek 2 dui die seisoenale indekse van die daaglikse koringpryse aan, die Desember-termynkontrakprys, die beskikbare voorraad en die invoere. Die daaglikse koringpryse (Safex-koring) is oor die algemeen tussen Mei en Oktober bo die jaarlikse gemiddeld, met die hoogste punt gedurende Mei wanneer pryse 4% bokant die jaarlikse gemiddeld is. Pryse bly ook relatief hoog gedurende Junie (2%), Julie (2%) en Augustus (2%).

Bron: SAGIS en Graan SA
Die Desember-termynkontrakprys is meestal tussen Mei en Oktober hoër as die jaarlikse gemiddeld Desember-prys, met ’n piek van 4% in Mei. Ook van Junie tot Augustus bly die Desember-pryse stabiel op +2%, waarna dit effens daal na die gemiddeld teen Oktober.
Die beskikbare plaaslike koringvoorraad bereik sy laagste vlakke net voor die nuwe seisoen se stroopwerk. Dalk hierdie sin andersom stel: Dit begin afneem vanaf Augustus (72%), is reeds baie laag in September (58%) en daal tot 50% van die jaarlikse gemiddeld in Oktober.
Hierdie afname in voorraad gaan gepaard met ’n toename in invoere, wat reeds vanaf Junie (112%) begin styg en ’n hoogtepunt bereik in Oktober, wanneer invoere tot 167% van die jaarlikse gemiddeld oploop. Soos gebruiklik in die koringmark, bestaan daar ’n duidelike verband tussen voorraadvlakke en pryse: Namate beskikbare voorraad daal, beweeg pryse oor die algemeen opwaarts.
Grafiek 3 toon die wisselwerking tussen die Suid-Afrikaanse daaglikse koringpryse, die Desember-termynprys, die Amerikaanse koringpryse en die invoerpariteitsprys. Die indekse dui daarop dat Amerikaanse pryse en invoerpariteitsvlakke benede die jaarlikse gemiddeld verhandel van Januarie tot April, met die laagste vlakke teen 95 tot 96% van die gemiddeld, en dat hierdie ondergemiddelde vlakke voortduur tot Augustus. Vanaf Oktober beweeg die Amerikaanse pryse egter na of effens bo die jaarlikse gemiddeld op vlakke van 100 tot 101%. Plaaslik wys die Safex-koringprys ’n ander patroon: Dit is bo gemiddeld tussen Mei en Julie op 102 tot 104%, daal weer na die gemiddeld teen Oktober, en bly relatief stabiel vir die res van die jaar.

Bron: SAGIS en Graan SA
Ten slotte
Alhoewel hierdie artikel slegs enkele aspekte van dit waarvoor die inligting gebruik kan word bespreek, is dit belangrik om die waarde van langtermyninligting te verstaan. Daar is verskeie soorte inligting wat deur verskillende instansies bymekaargemaak word. Dit sluit daaglikse, weeklikse, maandelikse en jaarlikse inligting in.
Die instandhouding van hierdie databasisse is noodsaaklik om die inligting aan die mark bekend te maak. Dit dra ook by tot die monitering van die werking van die mark, aangesien die verskillende fundamentele aspekte van die mark in ooreenstemming met die prysbewegings in die markte geanaliseer kan word.
In die volgende gedeelte sal na sojabooninligting gekyk word.
Redakteursnota:
Die outeur het voorheen – toe hy in diens van Graan SA was – hierdie relevante reeks van ses aflewerings geskryf. Navrae kan gerig word aan Heleen Viljoen, landbou-ekonoom by Graan SA. Kontak haar per e-pos by heleen@grainsa.co.za of 086 004 7246. Volg ook Graan SA se gereelde markverslae op die organisasie se webtuiste by grainsa.co.za onder Graanekonomie.















