August 2016

— Hoe gemaak met jou werkers as jy jou boerderybedrywighede staak?

ELIZE VAN DER WESTHUIZEN, senior bestuurder: Arbeidsverhoudinge, Agri SA

Die impak van die huidige droogte kan dalk die produsent noop om sy boerderybedrywighede te staak of die boerderybesigheid te verkoop. Dit is eerstens baie traumaties vir die produsent en sy gesin, maar het ook ‘n geweldige impak op sy werkers en hulle gesinne.

Die ekonomiese impak van die droogte kan ‘n produsent noop om een of meer van die volgende opsies te oorweeg:

  • Aflegging van plaaswerkers;
  • Deelname aan die afleggingsopleidingskema (training lay-off scheme).

Die Wet op Arbeidsverhoudinge (Artikel 189) handel met afleggings en tref onderskeid tussen grootskaalse en kleinskaalse afleggings. Aflegging van 50 of meer werkers word as ‘n grootskaalse aflegging beskou. Raadpleeg gerus die Wet in hierdie verband.

Afleggings van plaaswerkers

Indien ‘n produsent sou oorweeg om een of meer van bogenoemde opsies uit te oefen, moet die implikasies van arbeidswetgewing asook die Wet op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg in ag geneem word.

Wanneer die boerderybesigheid gestaak word, sal die produsent sy werkers moet aflê. Hierdie soort beëindiging van die diensverhouding tussen die produsent en sy werkers word na verwys as “geen fout” aflegging en word slegs gedoen indien die oorsaak van die aflegging vanweë ekonomiese omstandighede (die droogte in hierdie geval) is, of ‘n verandering in tegnologie of strukturele verandering in die boerderybedrywighede.

Goeie advies is om so spoedig moontlik die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (CCMA) betrokke te kry by die proses.

In die geval van afleggings moet die produsent as werkgewer ‘n regverdige proses volg. Die proses begin deur ‘n skriftelike kennisgewing aan die werkers uit te reik. Daarna tree die produsent in konsultasie met sy werkers. Die werkers moet die geleentheid kry om voorstelle oor alternatiewe opsies te maak wat oorweeg moet word deur die produsent. Dit kan gedoen word deur die werkers of die verteenwoordigende vakbond.

Indien daar voortgegaan word met afleggings, moet die afleggingspakket met die werkers onderhandel word. Die Wet skryf voor dat die werkers in hierdie geval ten minste een week se vergoeding vir elke voltooide jaar gewerk moet kry. Daar kan natuurlik op ‘n hoër pakket ooreengekom word. Daar moet ook gesamentlik besluit word oor wanneer die reëlings in werking gaan tree.

Werkgewers wat beoog om werkers wat afgelê is uit hul behuising te sit, moet verseker dat hulle volledig voldoen aan die voorwaardes van die Wet op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg (Extension of Security of Tenure Act [ESTA]).

Beëindiging van die werker se verblyfsreg mag slegs volg op ontslag wat voldoen het aan die vereistes soos uiteengesit in die Wet op Arbeidsverhoudinge. Uitsetting kan ook slegs gebeur indien die bewoner se diensverhouding die enigste rede vir sy verblyf op die plaas was.

Die voorgeskrewe prosedure van kennisgewing moet dan gevolg word en ‘n hofbevel moet verkry word. Hierdie prosedure behels kortliks dat die werker, die plaaslike munisipaliteit en die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming op voorgeskrewe tye kennis moet kry van die voorgenome uitsetting.

Die beskikbaarheid van geskikte alternatiewe akkommodasie sal bewys moet word. Mediasie is ‘n opsie wat oorweeg kan word. In hierdie geval is die advies om eerder die dienste van ‘n ervare prokureur te verkry om met die saak te handel.

Deelname aan die afleggingsopleidingskema

‘n Opsie vir boerderybesighede wat in nood is, is die afleggingsopleidingskema (TLS). Die TLS is vir geaffekteerde werkers en behels ‘n tydelike onderbreking van werk deur werkers. Die werkers ontvang opleiding gedurende sodanige onderbreking. Deelname aan die skema sal afhang van ‘n ooreenkoms tussen die werkgewer en die individuele werkers of/en die vakbond indien werkers verteenwoordig word.

Die TLS help werkers wat moontlik deur afleggings geraak kan word om nuwe vaardighede aan te leer wat hulle dan in staat sal stel om herontplooi te word of elders in diens geneem te kan word. Die CCMA fasiliteer ook weer eens die proses en help om die spesifieke rolspelers bymekaar te kry vir die implementering van die skema.

Deelname aan die opleidingskema is vrywillig. Terwyl opleiding geskied, bly die werkers in diens, maar hul normale loon word verruil vir ‘n opleidingstoelaag. Die werkgewer betaal die werker se volle bydrae tot die Werkloosheidversekeringsfonds, die Vergoedingskommissaris en pensioen/voorsorgfonds.

Na voltooiing van die opleiding sal die werker óf herontplooi word by dieselfde werkplek óf afgelê word nadat die nodige prosedure (soos verduidelik) gevolg is.

Ter afsluiting

Die aflegging van werkers behoort altyd as laaste uitweg gesien te word en ander maatreëls behoort eers oorweeg te word voordat werkers afgelê word.

Deel jou praktyke met medeprodusente
Graan SA-lede is welkom om wenke vir goeie arbeidspraktyke en -verhoudinge op die plaas of praktyke wat hulle op die plaas toepas en wat vir hulle werk, met medeprodusente te deel. Stuur ‘n e-pos na estiedv@mweb.co.za en ons sal jou kontak.

Publication: August 2016

Section: Relevant