Graan SA-heffings: Dít is waarom ek my volle heffing betaal

985

September 2018

DIRK KOTZE, ledebemarking- en kommunikasiebeampte, Graan SA

Met strooptyd verby en meeste graan gelewer, het produsente ook getrou hul heffingsbydrae tot Graan SA gelewer. Daar is egter nog ‘n groot aantal produsente wat glad nie lid is nie of wel lid is, maar nie bydra tot die heffingsfonds nie. Produsente is genader om aan medeprodusente te vertel wat Graan SA vir hom/haar as produsent beteken en ook waarom produsente tot die heffingsfonds moet bydra.

Vul die leemte
George en Liezel Steyn van Ottosdal som dit só op:

In die huidige klimaat in ons land waar landbounavorsing nie die voorkeur kry wat dit in ander lande wat voedselsekerheid eerste stel kry nie, vul Graan SA dié leemte. Bewaringslandbouproewe wat op verskeie plekke in die land gedoen word, het resultate gelewer wat selfs die navorsers en die produsente betrokke, laat besef het dat ons, om volhoubaar te kan boer, ons denke sal moet vernuwe. Dankie Graan SA vir die rol wat julle speel in samesprekings met alle rolspelers in landbou – en veral met die regering, waar die grondkwessie net deur debatvoering opgelos gaan word. Ons weet watter kritiese rol julle gaan speel.

Dankie dat ek weet die heffingsgelde wat ons betaal, word só aangewend dat dit tot voordeel van myself en al die produsente is wat nie betaal nie en tot landbou as geheel se voordeel strek. Ek wil al my medeprodusente aanmoedig: Kom ons dra almal by, dan kan ons dít doen wat ons die beste doen en dit is om te bóér.

Dankie Graan SA.

Help my om weldeurdagte besluite te neem
Louis Wessels van Mareetsane se opinie:

Om ‘n lid van Graan SA te wees, is vir my en my boerdery van kardinale belang. Die toegang wat ek tot daaglikse markpryse, tendense en markverslae van kommoditeite sowel as insette kry, help my om weldeurdagte besluite rakende die verskansing van my produkte te neem en beplanning vir die nuwe seisoen se aanplantings te doen.

Die eerstehandse inligting wat ek vanaf Graan SA kry – hetsy op ‘n daaglikse of weeklikse basis – help my om op hoogte te bly van wat in die landbousektor aan die gang is. Sodoende kan ek my beplanning en besluitneming met betrekking tot my boerderyaktiwiteite aanpas. Die insiggewende artikels wat maandeliks in die SA Graan/Grain-tydskrif verskyn, bevat voldoende en leersame inligting vir my om in my boerdery toe te pas.

Nog ‘n faset van my boerdery waarin Graan SA ‘n groot rol speel, is die dieselrabat. Ons as produsente weet dat die dieselrabat die enigste voordeel is wat ons vanaf ons regering ontvang en Graan SA help ons om te verseker dat die voordeel vir ons behoue bly. Graan SA is ‘n organisasie waarop ek as landbouer en my medelandbouers trots kan wees.

Sien om na my belange
Louis en Sanet Scheepers van Buitendag Boerderye Eiendomme, Thabazimbi, sien dit soos volg:

Die graanprodusent van vandag is vasgevang in ‘n kosteknyptang. Daarom moet die winsgewendheid van sy onderneming geoptimaliseer wees. Graanprodusente moet deel wees van landbou-organisasies wat na hul belange omsien. Graan SA is só ‘n organisasie wat die belange van die graanprodusent eerste stel.

Ons boerdery, wat lid is van Graan SA, kry ‘n legio voordele wat ‘n bydrae lewer tot die volhoubaarheid van ons onderneming. Graan SA het ‘n dieselrabat, wat tot ons voordeel is, met die regering beding. Die kwaliteit van insette en uitsette word ook deur Graan SA gemonitor deur gereeld steekproewe by verskaffers en leweringspunte van grane te doen. Dit is maar enkele voorbeelde van voordele wat ‘n lid van Graan SA kry. Dit hou vir graanprodusente ‘n magdom voordele in om hul ledegelde en graanheffings te betaal.

Die jaarlikse NAMPO Oesdag maak dit vir ons moontlik om blootgestel te word aan die nuutste landboutegnologie – en dat ons dit eerstehands ervaar. Ons kry ook gratis toegang tot die NAMPO-terrein en kan in die ledeparkeerarea parkeer. Ons word hartlik in die ledelokaal ontvang met ‘n koppie koffie en ‘n eetdingetjie. Ons gaan ontspan ook daar nadat ons voete seer geloop is op die skouterrein.

Ek raai al my medegraanprodusente aan om lid te word van Graan SA – en die bestaande lede om by te dra tot die heffingsfonds.

Onderhandel namens my
Dirk Laas van Ottosdal sê:

Landbou in Suid-Afrika is waarskynlik een van die sektore wat die meeste aan politieke, ekonomiese en natuurveranderinge blootgestel is. Die kennis wat daar van jou as produsent vereis word om suksesvol voort te bestaan, is so uiteenlopend dat tyd om aan jou eie boerdery te spandeer, ‘n faktor raak.

Die heffing op my graan hanteer ‘n faset van my boerdery wat ek as individu nie op my eie sou kon behartig nie. Agter die skerms finansier ons bevoegde mense om namens ons as produsente te onderhandel en ons belange en dié van Suid-Afrika eerste te stel.

Kontak ons
Graan SA bedank elke produsent vir sy bydrae. Indien produsente onseker is of hulle wel tot die heffingsfonds bydra en/of ‘n nuwe lid van Graan SA wil word, kan hul Patricia Mahlatsi (012 816 8000), Dirk Kotze (082 492 3313) of Luan van der Walt (072 476 9365) skakel.

Publication: September 2018

Section: Grain SA