Basterseleksie met verwysing na meerkoppigheid en spruite

1727
Corné van der Westhuizen,
landboukundige,
Pannar Saad

Die mieliebaster waarop die graanprodusent besluit, speel ’n sleutelrol in die sukses van die totale verbouingsproses en finale plaasekonomie.

Indien basters oor jare geëvalueer word, sal sekere basters sterker op die voorgrond tree as ander. Só ’n leierbaster word veral deur twee eienskappe onderskei, naamlik opbrengspotensiaal en opbrengswaarskynlikheid.

Baie tyd en aandag word aan basterseleksie en verbouingspraktyke spandeer in ’n poging om goeie risikobestuur toe te pas en steeds opbrengspotensiaal na te jaag. Die bestaande verbouingspraktyke en basterinteraksie met rywydte, plantestand en bemestingspeile in die westelike produksiegebied is daarop gemik om volhoubaar graan te produseer in wat soms ’n uiters ongunstige produksie-omgewing kan wees.

Hierdie artikel fokus kortliks op die agronomiese eienskappe van basters soos geëvalueer deur die LNR (2016/2017-seisoen) in die westelike produksie-area.

Opbrengs
In Tabel 1 word verskeie eienskappe aangedui, waarvan opbrengspotensiaal die eienskap met die grootste ekonomiese belang vir ’n graanprodusent is. ’n Baster sal ’n beperkte markaandeel handhaaf ten spyte van die beste agronomiese eienskappe, indien daar nie aan die opbrengsbehoefte voldoen word nie.

Opbrengswaarskynlikheid of die betroubaarheid van opbrengsprestasie oor verskillende seisoene onder tipies westelike produksietoestande, is een van die belangrikste eienskappe om in aanmerking te neem by basterkeuse.

Die vermoë van ’n baster om in gunstige seisoene te kan kompenseer met bogemiddelde opbrengste is van uiterste belang. In hierdie verband speel meerkoppigheid, soos aangedui in Tabel 1, ’n belangrike rol in die kompensasievermoë van ’n baster onder die relatief lae plantestandpraktyke soos algemeen gevind in die westelike dele.

Vogpersentasie
In Grafiek 1 word opbrengs en vogpersentasie saam aangedui. Opbrengs word uitgedruk as die persentasieverskil teenoor die proefgemiddeld van 6,82 t/ha. In vergelyking presteer Baster 1 16% beter as die gemiddelde opbrengs en Baster 41 17% swakker as die gemiddeld. Die vogpersentasie tydens fisiologiese rypheid word gebruik om die relatiewe groeiklaslengte van verskillende basters te bepaal. Basters kan breedweg in vier groeiklaslengtes verdeel word – sien Tabel 2.

Ultravinnige basters is hoofsaaklik geskik vir besproeiing met hoë opbrengsmikpunte en hoë bestuursinsette of vir die hoëpotensiaal- oostelike droëlandgebiede waar hierdie basters onder hoë plantpopulasies verbou word. In Grafiek 1 verteenwoordig die gemiddelde vogpersentasie van 13,41% die basters wat in die mediumvinnige groeiklas val.

Indien die vogpersentasie reg geïnterpreteer word, val die grootste gedeelte van die basters wat bogemiddeld presteer het in die mediumvinnige tot medium groeiklasse, alhoewel enkele vinnige basters hulle ondersteun.

Onthou egter: Uit ’n risikobestuursoogpunt is dit belangrik om na ’n basterpakket te kyk vir ’n gegewe plantdatum wat die blomdatum en graanvullingsperiode betref. Die basis van ’n pakket moet saamge­stel word uit basters in die mediumvinnige en medium groeiklasse.

Koppe en spruite
In Grafiek 2 word die aantal koppe per plant en die persentasie spruite aangegee vir die betrokke basters geëvalueer in die 2016/2017-seisoen.

Dit is interessant om te sien dat vir die bestaande verbouingspraktyk/basterinteraksie wat algemeen gevolg word, beter graanopbrengste behaal word met genetiese platforms wat bekend is vir hul meerkoppigheid. Nog meer interessant is om die korrelasie tussen meerkoppigheid en die vermoë van die baster om te spruit, in konteks met mekaar te sien.

Vir die 2016/2017-seisoen kan gesien word dat die aantal koppe per plant en die persentasie spruite die selfde tendenslyn toon. Soos die aantal koppe per plant afgeneem het van 2,5 koppe tot 1,8 koppe per plant, neem die persentasie spruite ook af van ongeveer 40% tot 20%.

Uit Grafiek 2 kan ook gesien word dat daar basters is wat minder spruit en ander wat meer geneig is om te spruit, alhoewel alle mieliebasters gespruit het (11% tot 51% spruite). Na aanleiding van hierdie agronomiese waarneming kan gekyk word na die relatiewe waarde van ’n spruit en wat die moontlike bydrae van spruite tot die meerkoppigheid en finale opbrengs van basters kan hê.

Spruitvorming
Spruitvorming is ’n eienskap wat by die meeste lede van die Gramineae-familie voorkom. By kleingrane, graansorghum en weidingsgewasse is spruite meestal voordelig. In die geval van byvoorbeeld koring en graansorghum is spruitvorming ’n belangrike planteienskap wat die gewas in staat stel om in kolle met ’n relatief laer plantestand te kompenseer.

Dit verhoog die aantal graandraende are/m² en help die gewas om sy volle opbrengspotensiaal te behaal. Mielies is ook ’n lid van die grasfamilie, en soos in die LNR-proewe se agronomiese grafiek (Grafiek 2) gesien kan word, was die verskillende kultivars se vermoë om spruite te vorm tussen 11% en 51%.

Waar en wanneer ontstaan ’n spruit?
By die stambasis van die mielieplant kom ’n aantal onverlengde internodiums voor wat die wortelkroon vorm (Foto 1). ’n Spruit is ’n laterale sytak wat uit ’n vegetatiewe okselknop by die wortelkroon ontstaan.

Dit is egter aangeteken dat alle ogies morfologies identies is wanneer hulle geïnisieer word. Bo die grondoppervlak ontwikkel soortgelyke vegetatiewe vertakkings op die mielieplant in mieliekoppe (Foto 2). Spruite verskyn op ongeveer die sesblaarstadium van plantontwikkeling.

In die algemeen is ’n spruit op ’n vroeë stadium gewoonlik ’n indikasie van ’n suboptimale plantestand en is dit dikwels ’n aanduiding dat die opbrengspotensiaal en omgewingspotensiaal op daardie stadium redelik hoog is. Die vorming van spruite is grootliks ’n funksie van plantgenetika en plantdigtheid, maar dit word ook beïnvloed deur vog, voeding en ander omgewingsfaktore soos temperatuur.

Slotsom
Dit is belangrik om ’n basterpakket saam te stel rondom ’n leierbaster. Let op die staanvermoë, siekteweerstand en afdroging van die kultivar. Hierdie eienskappe speel nie net ’n belangrike rol by risikoverspreiding nie, maar bevoordeel ook bestuur en kontantvloei.