Fusarium-aarskroei: Beter beheer deur oesreste te verminder

Gepubliseer: 6 November 2023

371
Dr Gert van Coller, Direktoraat: Plantwetenskap,
Wes-Kaapse
Departement van Landbou, Elsenburg

Dr Lindy J Rose, Departement Plantpatologie,
Fakulteit AgriWeten-skappe, Stellenbosch Universiteit

Deel 2

Fusarium-aarskroei is ’n moeilike siekte om te bestuur, omdat die patogeen, Fusarium graminearum, ’n wye reeks gewasse kan infekteer, insluitend koring, gars, mielies en sojabone – wat algemeen in wisselbou op dieselfde lande geproduseer word – asook grasonkruide.

Verder dien gewasreste (stoppels) van die vorige seisoen as bron van nuwe infeksies en boonop is die mees bestande koringkultivars slegs matig weerstandig teen die siekte. Chemiese beheer is nie 100% effektief nie en kan die siekte nie heeltemal onderdruk nie. Daar is tans geen swamdoders teen aarskroei ge­registreer in Suid-Afrika nie.

In die vorige artikel oor Fusarium-aarskroei van koring (SA Graan/Grain, September) is agtergrond­inligting oor die siekte sowel as die verloop van die siekte bespreek. Hierdie inligting is nodig om te verstaan hoekom sekere beheermaatreëls gebruik word om die siekte te bekamp.

Die leser sal onthou dat aarskroei die produsent drie maal skade berokken, naamlik (i) ’n afname in opbrengs, (ii) ’n afname in graankwaliteit en (iii) besmetting van graan met mikotoksiene, veral deoxynivalenol (DON) en zearalenone (ZEA). In hierdie artikel word gekyk na agronomiese praktyke om die siekte te bekamp.

Fusarium-aarskroei van koring.
Foto: Gert van Coller
Fusarium-aarskroei van koring.
Foto: Gert van Coller

Beheermaatreëls vir Fusarium-aarskroei
Soos genoem in die vorige artikel in hierdie reeks is aarskroei meestal problematies by koring onder besproeiing in die binneland en kom dit meer sporadies in die Wes-Kaap voor. Die beheermaatreëls wat hier bespreek word, fokus dus op die binneland.

Bestuur van aarskroei berus op die integrasie van praktyke, naamlik agronomiese praktyke soos wissel­bou en bewerking, kultivarweerstand en chemiese beheer. Geen enkele benadering tot siektebeheer is besonder effektief op sy eie nie, maar heelwat navorsing oor hierdie beheermaatreëls wys dat geïntegreerde beheermaatreëls meer effektief is. Alhoewel daar plaaslik nog min navorsing oor agronomiese praktyke gedoen is, is daar al heelwat navorsing oor kultivarweerstand en chemiese beheer deur hierdie outeurs en medewerkers gedoen. Agronomiese praktyke word in hierdie artikel bespreek, terwyl kultivarweerstand en chemiese beheer in die volgende artikel in die reeks behandel sal word.

Agronomiese praktyke
Wisselbou
Wisselbou met breëblaargewasse is ’n uiters belangrike komponent om aarskroei te beheer. Die rede daarvoor is omdat die gasheerreeks van F. graminearum grootliks beperk is tot die grasfamilie. Sojabone is egter ’n belang­rike uitsondering, waar dit wortelverrotting, verwelking en staminfeksies veroorsaak. Die algemene praktyk van wisselbou met koring, gars, mielies en sojabone verhoog dus die siektedruk. Wisselbou met breëblaargewasse verminder die siektedruk omdat breëblaargewasse swak gashere vir die patogeen is.

Ongelukkig is die keuses van breëblaargewasse beperk vir produsente in die binneland. Lusern is ’n goeie keuse omdat dit ’n swak gasheer van F. graminearum is. Lusern is ook ’n meerjarige gewas en gee genoeg tyd vir die koring/gars/mielie/sojaboonstoppels om af te breek en sodoende die siektedruk te verlaag. Dit is egter uiters belangrik om grasonkruide goed tydens die lusernfase te beheer, aangesien swak beheer van grasonkruide hoë vlakke van Fusarium sowel as vrotpootjie in die daaropvolgende koring kan veroorsaak (Foto 4a en Foto 4b). Sonneblom is ook ’n goeie keuse as wisselbougewas.

Fusarium-beskadigde korrels (regs) teenoor gesonde korrels (links) van dieselfde kultivar.
Foto: Gert van Coller
Kenmerkende wit are as gevolg van vrotpootjie.
Foto: Gert van Coller
Kenmerkende wortelverrotting as gevolg van vrotpootjie.
Foto: Gert van Coller
Vermindering van stoppels is duidelik sigbaar in die geploegde land aan die regterkant vergeleke met die ongeploegde deel aan die linkerkant.
Foto: UFS Plantpatologie
Spilpuntbesproeiing van koring.
Foto: Gert van Coller

Grondbewerking
F. graminearum oorleef op gewasreste en produseer vrugliggame genaamd perithecia tydens gunstige toestande. Askospore word vanaf perithecia vrygestel en dien as die hoofbron van infeksie (sien vorige artikel in hierdie reeks). Deur die hoeveelheid stoppels op die land te verminder deur diep te ploeg (Foto 5) of deur verbranding, kan die hoeveelheid askospore wat vrygestel word verminder word. Omdat aarskroei ’n monosikliese siekte is, is die hoeveelheid siektesimptome wat ontwikkel ’n direkte gevolg van die hoeveelheid askospore wat vrygestel word. Vermindering van stoppels lei dus tot ’n verlaging in siektedruk.

Die teenoorgestelde is ook waar. ’n Toename in die opper­vlakte onder minimumbewerking het daartoe bygedra dat aarskroei van ’n sporadiese siekte na epidemiese vlakke vermeerder het in Noord-Amerika sedert die 1990’s. Die rede daarvoor is dat minimumbewerking ’n groter hoeveelheid stoppels op die land agterlaat. In die binneland van Suid-Afrika is daar al hoe meer druk om konvensionele bewerking met minimum/geenbewerking te vervang. Gegewe die huidige wisselboustelsels wat koring, gars, mielies en sojabone behels, sal die siektedruk geweldig toeneem indien daar oorgeskakel word na verminderde bewerking.

Vanuit ’n Fusarium-oogpunt kan verminderde bewerking alleenlik suksesvol geïmplementeer word indien wisselboustelsels aangepas word om grasgewasse met breëblaargewasse te roteer. Dit is van kardinale belang dat navorsing gedoen word op kombi­nasies van wisselboustelsels en bewerkingspraktyke in die binneland, aangesien dit ’n belangrike komponent van aarskroeibeheer sal uitmaak. ’n Omvattende studie deur hierdie outeurs en mede­werkers op Fusarium-kroonvrot, ’n verwante siekte op koring wat geweldig problematies in die Wes-Kaap is, het die waarde hiervan bewys. Meer daaroor in ’n latere reeks artikels.

Besproeiing
Aarskroei benodig matige temperature tesame met hoë humiditeit tydens die blomfase vir infeksie om plaas te vind (sien vorige artikel in hierdie reeks). Besproeiing kan dus bydra tot gunstige toestande vir infeksie (Foto 6). ’n Interessante bevinding van ’n glashuisstudie in die VSA het egter getoon dat vlakke van die mikotoksien DON beduidend verlaag word deur oorhoofse besproeiing. In daardie studie is drie koringkultivars met F. graminearum geïnokuleer tydens die blomfase, waarna dit die ekwivalent van 132,8 mm reën (oorhoofse besproeiing) ontvang het 7, 14, 21 of 28 dae na inokulasie. Verskillende potte is vir elke benatting gebruik (dieselfde potte het nie meer as een keer oorhoofse besproeiing ontvang nie). Die hoe­veelheid DON het onderskeidelik 36%, 52% en 41% gedaal in die drie kultivars. DON is ook gevind in die afloopwater, wat loging van DON vanuit die besmette are bevestig het.

Neem in ag
Die genoemde studie is in ’n glashuis gedoen en alhoewel dit baie belowende resultate gelewer het, kan dit nie net so van toepas­sing gemaak word op plaaslike koring in landerye onder spilpuntbesproeiing nie. Die effek van hierdie praktyk moet eers getoets word onder plaaslike toestande in die veld om die effektiwiteit daarvan te bepaal. Tweedens kan oorhoofse besproeiing nie die skade as gevolg van aarskroei ongedaan maak nie. Die studie het dit ook bevestig – Fusarium-beskadigde korrels kan nie weer gesonde korrels word nie (Foto 3).

Siektevermyding
Die hoogste konsentrasie askospore in die atmosfeer is in landerye waar die vorige seisoen se mielie/koring/gars/sojaboon-stoppels is. Die askospoorkonsentrasie neem af hoe verder daar van daardie landery wegbeweeg word. Dit halveer min of meer 100 m weg, maar kom steeds 750 m weg van die landery af voor teen baie lae vlakke. Deur nuwe aanplantings so ver weg as moontlik van ’n landery waar ’n vatbare gasheer die vorige seisoen verbou is te vestig, word die risiko vir siekte verlaag. Dit is egter dikwels onprakties, gegewe die uitleg van plase en die ligging van landerye op naburige plase.

Soos genoem is geen enkele benadering tot beheer van aar­skroei baie effektief op sy eie nie. Indien die klimaat gunstig vir infeksie is, kan dit die effektiwiteit van agronomiese praktyke verminder. Dit is waarom dit nodig is om ook van ander praktyke gebruik te maak. In deel drie van hierdie reeks, wat in die volgende uitgawe verskyn, ondersoek die skrywers weerstand en swamdoders as moontlike praktyke.