Dié lede gee die stokkie aan

Valerie Cilliers, redakteur, SA Graan/Grain
Gepubliseer: 30 Maart 2021

868

Jaap van der Westhuizen, wat Streek 16 die afgelope vier jaar as Graan SA-hoofbestuurslid verteenwoordig het, tree hierdie jaar uit die pos, met Wessel Hattingh wat die leisels sal oorneem.

Jaap is reeds 17 jaar by Graan SA betrokke en het op die Sorghum- en Oliesadewerkgroepe gedien. Hy was ook betrokke by die Sorghumtrust. “Dit is ’n voorreg om deel van landbou en deel van die Graan SA Hoofbestuur te wees. Aan Streek 16 wil ek baie dankie sê vir die vertroue wat julle in my gestel het. Met my uittrede beplan ek om meer tyd aan my boerdery en gesin te spandeer. Dit was vir my lekker om julle saak te kon dien.”

Hy bedank die personeel by Graan SA en medehoofbestuurslede en sy raad aan die Hoof- en Dagbestuur is om te bly fokus op die kommersiële produsent se voortbestaan. “Moet nie die oog van die bal af neem nie. As produsent wil ek deel wees van ’n organisasie wat vir my as kommersiële produsent veg.”

Rudolf Fourie, wat ook uittree as hoofbestuurslid, het tydens Kongres sy dank uitgespreek teenoor God, sy familie en sy medehoofbestuurslede. “Dit was vir my ’n voorreg om elkeen van julle te leer ken en vriende te maak waarmee ek nóú saam kon werk.”

Hy het Jannie de Villiers in besonder bedank en voorspoed toegewens vir sy toekomsplanne en aftrede. Daarmee saam het hy die personeel by Graan SA bedank vir hulle toewyding aan landbou in Suid-Afrika.

Vir Streek 12 wat hy binnekort verlaat omdat hy verhuis, wens hy alles wat mooi is toe. “Baie dankie aan Ebert du Plessis wat by my oorneem, ek weet jy sal ’n bydrae kan lewer, geseënd wees en dit baie geniet.”

Michel Gildenhuys, wat ook hierdie jaar as hoofbestuurslid uittree, vertel hoe hy Kongres vir die eerste keer in 2008 bygewoon het om sy streek te verteenwoordig. Dit was ’n geleentheid om met ander produsente van regoor die land te skakel. Michel het die hoofbestuurlid van die nuwe Streek 32 geword toe daar in 2017 besluit is om Streek 27 in ’n oos- en wesstreek te verdeel.

“Ek het nog altyd geglo in georganiseerde landbou en tydens my eerste hoofbestuursvergadering in Julie 2017 het oom Kallie Schoeman ons geïnspireer om meer betrokke te raak.” Michel sê sy tyd op die Graan SA Hoofbestuur was onvergeetlik en elkeen op die span het ’n bydrae in sy lewe gemaak. Hy bedank ook die personeel van die organisasie, wat na sy mening soms ’n ondankbare taak moet verrig. “Dankie vir julle menslikheid, dit was ’n openbaring en ’n voorreg om saam met julle te werk.” Rossouw Swart neem by Michel oor as hoofbestuurslid.

Streek 21 is tans vakant en Tom van Rooyen is die nuwe hoofbestuurslid van Streek 23.

Uittredende hoofbestuurslede het tydens Kongres virtueel ingeskakel met ’n boodskap aan hul streke en Kongres. Michel Gildenhuys is hier aan die woord.