Dít sê prof Roberts se verslag

Luan van der Walt, landbou-ekonoom, Graan SA

53

Na verskeie onderhandelings tussen Graan SA en die JSE, het laasgenoemde ’n onafhanklike ondersoek laat doen om opnuut die effektiwiteit van die liggingsdifferensiaalstelsel te evalueer, gegewe Suid-Afrika se unieke mark.

Graanprodusente wou veral weet of die mark nie nou al volwasse genoeg is om sonder ’n differensiaal te funksioneer nie. Die JSE het vir prof Matt Roberts, wat die plaaslike mark in 2009 ook geëvalueer het, gekry om die samestelling en werking van die plaaslike termynmark te ondersoek.

Die volgende vrae is aan prof Roberts gestel om die studie te rig:

  • Is die bevindinge van die 2009-verslag steeds relevant en indien nie, watter veranderinge kan geïdentifiseer word?
  • Moet die JSE dit oorweeg om die verwysingspunt van elke kommoditeit te verander, gebaseer op die veranderinge wat in die ligging van verwerkingskapasiteit plaasgevind het?
  • Moet daar ’n liggingsdifferensiaal op die Safex-sojaboonkontrak ingestel word?
  • Wat kan die JSE doen om die deelname aan die kontantmarkbasisverhandelingsfunksionaliteit te bevorder?
  • Is daar enige voorstelle vir die verbetering rakende die metodologie wat gebruik word om die differensiale tans te bepaal?

Prof Roberts het Suid-Afrika gedurende die laaste week van Januarie en die eerste week van Februarie vanjaar besoek, waartydens hy vergaderings met verskeie rolspelers in die bedryf gehad het ten einde sy studie te voltooi.

Wat sê die verslag?
Prof Roberts meen die huidige markstruktuur werk goed vir die doel waarvoor die mark daargestel is, naamlik prysrisikobestuur en prysbepaling. Die probleem lê egter nie by die liggingsdifferensiaal as sodanig nie, maar veel eerder by ander aspekte van die mark waarvan die tekort aan markdeursigtigheid asook markkragte die twee grootste probleme is wat in die verslag uitgewys word.

Na aanleiding van die bevindinge wat in die verslag gemaak is, is daar nie drastiese veranderinge vir die liggingsdifferensiaal spesifiek voorgestel in die oorgrote meerderheid van die aspekte nie.

Die voorstelle wat in die verslag na vore gekom het, is in twee hoofareas verdeel, naamlik voorstelle aan die JSE en ander voorstelle. Die JSE-voorstelle het betrekking op die aspekte wat direk gekoppel is aan die werking van die termynkontrakte, terwyl die ander voorstelle meer algemeen van aard is en deur die rolspelers in die breër bedryf aangespreek moet word.

Hier volg die voorstelle wat aan die JSE gemaak is:

Behou liggingsdifferensiaal vir koring, mielies en sonneblomsaad
Prof Roberts stel voor dat die liggingsdifferensiaal vir mielies, koring en sonneblom steeds in werking bly, aangesien hy van mening is dat dit nodig is vir die optimale funksionering van die plaaslike graan- en oliesademark.

Daar is egter vele aspekte wat aangespreek kan word om te verseker dat die huidige stelsel nie net bly funksioneer soos tans nie, maar dat daar daadwerklik klem gelê moet word op die verbetering van die hele sisteem vir alle bedryfsrolspelers.

Implementeer liggingsdifferensiaal vir sojabone en sorghum
Prof Roberts voel sterk oor die feit dat daar ’n liggingsdifferensiaal op die huidige sojaboon- en sorghumtermynkontrakte ingestel moet word. Volgens sy siening in die verslag funksioneer die mark nie optimaal nie en kan die afwesigheid van ’n liggingsdifferensiaal op lang termyn negatiewe gevolge vir die sojaboonmark spesifiek inhou.

Graan SA is egter van mening dat die sojaboonmark juis in die huidige formaat, sonder ’n differensiaal, goeie geleenthede bied vir die plaaslike mark om verder te ontwikkel in terme van die fisiese vloei van sojabone tussen kopers en verkopers.

Behou huidige liggingsdifferensiaalberekeningsmetodiek
Die verslag dui ook aan dat die huidige differensiaalberekeningsmetodiek behoue moet bly en dat daar nie noemenswaardige veranderinge daaraan gemaak hoef te word nie.

Graan SA is van mening dat die huidige berekeningsmetodiek nie noodwendig die optimale berekening van die differensiaal verteenwoordig nie, aangesien dit ruimte laat vir foute in die berekening. Graan SA sal eerder wil sien dat, indien daar dan wel ’n differensiaal is, die inligting wat in hierdie berekening gebruik word die werklike inligting weerspieël om ’n meer akkurate differensiaal daar te stel.

Implementeer herleweringsdifferensiaal
Die implementering van ’n herleweringsdifferensiaal wat in die verslag voorgestel word, is ’n goeie beginsel wat kan bydra tot die verbetering van die huidige sisteem. Daar is egter steeds geen duidelikheid van wat ’n herleweringsdifferensiaal sal behels of hoe dit geïmplementeer kan word nie.

So ’n stelsel se tegniese aspekte sal eers goed deurdink moet word voordat dit geïmplementeer kan word.

Vergroot Randfontein-verwysing/leweringsone
Volgens die verslag is ’n duidelike tekortkoming in die huidige differensiaalsisteem die feit dat daar nie ’n punt is waar daar teen ’n nulbasis op Safex gelewer kan word nie. Die aanbeveling aan die JSE is dat daar wel só ’n punt in werking gestel moet word en dat
hierdie punt nie net ’n enkele opbergingsfasiliteit moet wees nie, maar eerder ’n groter sone waar daar teen ’n nulbasis gelewer kan word.

Graan SA steun hierdie voorstel, aangesien dit ’n fundamentele fout in die huidige marksisteem is wat Graan SA reeds verskeie kere by die JSE geopper het.

Herbesin verwysingspunt vir sojaboonkontrak
Tesame met die voorstel dat daar ’n liggingsdifferensiaal op die sojaboontermynkontrakte ingestel moet word, stel prof Roberts voor dat indien daar wel ’n differensiaal op sojabone kom, die verwysingspunt van sojabone ook aangespreek moet word.

Volgens die verslag sal Randfontein nie die beste verwysingspunt vir sojabone wees nie, gegewe die huidige samestelling van die produksie- en verwerkingskonsentrasies in die plaaslike mark.

Graan SA is van mening dat dieselfde beginsel ook waar is vir die ander gewasse. Daar het sedert die ontstaan van die vrye mark in die laat 1990’s baie veranderinge in die plaaslike mark plaasgevind wat onder meer die ligging van plaaslike verwerking insluit. Dit is egter belangrik dat daar vasgestel moet word waar die beste verwysingspunt vir elke kommoditeit sal wees.

Die fundamentele aspekte van die verskillende kommoditeite verskil hemelsbreed en elke kommoditeit moet apart hanteer word.

Prysdiskonto op alle ingevoerde grane
Die verslag stel voor dat die JSE moet kyk na prysdiskonto’s op alle ingevoerde grane wat op Safex gelewer kan word. Dit beteken dat indien daar grane van ander lande af na Suid-Afrika ingevoer word, dit steeds op Safex-kontrakte gelewer kan word, maar dat dit teen ’n laer prys sal wees.

Dit dui op die belangrikheid daarvan om die plaaslike kwaliteitspremie bo ingevoerde graan te behou.

Anonimiteit van elektroniese verhandeling
Die verslag stel voor dat die JSE anonieme verhandeling moet oorweeg. Dit beteken dat die instansies wat op Safex handel dryf se name nie teenoor die verhandeling sal verskyn soos tans die geval is nie.

Aangesien deursigtigheid in die plaaslike mark ’n kernpunt is, is dit noodsaaklik dat daar nie anonieme verhandeling op die plaaslike beurs plaasvind nie. Omdat die plaaslike mark nie soos die ander internasionale markte ’n commitment of traders– (COT-)verslag het nie, is dit noodsaaklik om die identiteit van die handelaars op die beurs te hou.

Verhoog toegang tot kontant­markbasisverhandeling
Die kontantmarkbasisverhandeling is die funksie wat die JSE geskep het waar silosertifikate verhandel om sodoende premies te bewerkstellig. Tans vind daar nie baie verhandeling op hierdie platform plaas nie en die voorstel uit die verslag hieroor is tweeledig.

Een van die hoofaspekte wat rondom hierdie punt genoem word, is dat die toegang tot hierdie inligting aan die algemene mark verhoog moet word. Dit is belangrik dat die JSE die kontantmarkbasisverhandelingsinligting meer geredelik aan die mark bekend maak op ’n platform waar dit maklik toeganklik is.

Skep aansporings vir beter deelname aan kontantmarkbasisverhandeling
Hierdie is die tweede belangrike aspek van die kontantmarkbasisverhandelingsplatform wat die verslag aanraak. Dit is nie net belangrik dat daar meer deelname aan die huidige stelsel moet wees nie, maar die JSE moet ook kyk hoe die stelsel uitgebrei kan word om moontlik basistermynkontrakte op die JSE te verhandel.

Ten slotte
Die verslag is ’n goeie teoretiese verduideliking van die funksionering van ’n termynmark in perfekte markomstandighede. Die Suid-Afrikaanse graan- en oliesademark, alhoewel baie uniek, is steeds ver verwyder van ’n perfekte markomgewing en baie meer kompleks as die meeste ander internasionale markte.

Ten spyte van vele ooreenkomste, kan die plaaslike mark nie direk met ander internasionale markte vergelyk word nie. Dit is belangrik om te besef dat alhoewel prof Roberts se ondersoek voltooi is, die proses van verbetering van die plaaslike mark ver van afgehandel is.

Graan SA sal aanhou om deel te vorm van alle gespreksforums, aangesien dit vir die organisasie van kardinale belang is om die plaaslike mark uit te brei en te verbeter.