Op 86 sien hy steeds kans vir boerdery

Gepubliseer: 4 Junie 2025

615

Mei se held: Danie Kriek

Danie en Ansie Kriek op hul plaas waar Danie op die ouderdom van 86 steeds betrokke is by die boerdery.

In ’n wêreld waar helde dikwels op verhoë vereer word of op sportvelde uitblink, is dit soms die stil, eenvoudige stories van deursettingsvermoë, passie en liefde vir die grond wat die meeste indruk maak. So ’n storie is dié van Danie Kriek, wat hierdie jaar sy 87ste verjaarsdag vier. Danie is deur sy seun Jors Kriek as sy held in die Graan SA/John Deere
My Hero-kompetisie genomineer.

Jors Kriek het sy pa genomineer as Mei se held. Hy vertel dat hy groot bewonde­ring het vir sy pa se deursettingsvermoë.

Vir Jors, wat self ook by Reitz boer, is daar geen twyfel oor wie sy held is nie. “My pa, Danie Kriek, word hierdie jaar 87. Boer is sy passie,” vertel hy trots. Maar Danie se pad plaas toe was nie so reguit soos die paaie van die Oos-Vrystaat nie. Ná sy diensplig kon hy nie onmiddellik terugkeer plaas toe nie, en het eers by die destydse Yskor gaan werk. Tog het sy hart nooit die droom van die plaaslewe en boerdery laat gaan nie – die familieplaas naby Reitz het bly roep.

In 1960 het Danie uiteindelik sy groot droom verwesenlik en voltyds begin boer. Teen daardie tyd het sy pa, Johan, reeds ’n John Deere-trekker op die plaas gehad. Dit was egter in 1985 dat Danie ’n groot mylpaal bereik het toe hy ’n splinternuwe John Deere 2140 aangeskaf het. As deel van die koop het hy ’n toer na Amerika gewen – ’n ervaring wat vir hom ’n leeftyd se herinne­ringe opgelewer het.

Danie se liefde vir John Deere het oor die jare net sterker geword. Hy het altesaam ses John Deere-stropers in sy loopbaan besit en selfs op 86 klim hy gereeld op die stroper om te help met mielies en koring stroop. “Daar is niks lekkerder vir hom nie,” sê Jors. “Hy is vir my ’n voorbeeld van harde werk, passie en deursettingsvermoë.”

Behalwe vir gewasboerdery het Danie ook met vee geboer en sy hand aan verskeie landboubedrywighede gewaag. Sy lewensverhaal is een van ’n man wat, ten spyte van hindernisse, sy droom gevolg en ’n nalatenskap van toewyding en liefde vir die plaaslewe gebou het.

Deur sy nominasie wil Jors nie net sy pa se prestasies vier nie, maar ook eerbetoon bring aan al die produsente wat sonder groot aanspraak of erkenning hul harte en hande in die grond sit, dag vir dag. “My pa is my held,” sê hy. “En ek weet daar’s baie ander kinders wat vandag dieselfde oor hul pa’s en oupas op die plaas kan sê.”