Rekordverbruik van sojabone in die kollig

86
Dr Dirk Strydom,
bestuurder: Graaneko­nomie en Bemarking, Graan SA

Dit is nie ’n geheim dat die Suid-Afrikaanse oliesademark die afgelope paar jaar aansienlik verander het nie. Die sojaboonmark is een van die wat die meeste gegroei het, aanvanklik eers aan die produksiekant en toe het verwerkers goed gereageer en ook plaaslik begin verwerk.

Die oliesademark is baie kompleks, grotendeels omdat die kommoditeit se prys afgelei word vanaf twee ander produkte, naamlik olie en koek. As een van die produkte se pryse verander, het dit ’n direkte impak op die kommoditeit.

Hierdie effek strek ook oor die verkillende oliesade: ’n Verandering in palmoliepryse het ’n direkte impak op die prys van sojaboonolie. As die pryse van oliesade geëvalueer word, moet daar gekyk word na die hele oliesaadkompleks.

In hierdie artikel is die fokus spesifiek op soja-oliekoek, naamlik die veranderinge wat plaasgevind het asook die belangrikheid van oliekoek.

Afgelope seisoen
Die afgelope seisoen is rekordverwerkingsyfers van sojabone aangeteken. Sedert September verlede jaar het die maandelikse verwerking meer as 100 000 ton per maand beloop. Die driejaargemiddeld was 88 000 ton per maand. In November verlede jaar is die hoogste verwerkingsyfer van sojabone nog aangeteken, naamlik 137 633 ton.

In die 2018/2019-bemarkingseisoen is daar, volgens SAGIS se syfers, 1 308 441 ton verwerk – ’n nuwe rekord. Dit is ’n merkwaardige syfer as in ag geneem word dat slegs 260 300 ton in die 2008/2009-bemarkingseisoen verwerk is.

Daar was ook ’n merkwaardige toename in terme van verwerking, spesifiek vir olie en oliekoek: In die 2018/2019-bemarkingseisoen is 1 064 463 ton verwerk, teenoor 122 600 in 2008/2009. Die belangrikste deel van die groei is dat die kombinasie tussen die styging in produksie van sojabone asook die styging in verwerking veroorsaak het dat invoervervanging plaasgevind het.

Sojaboonoliekoekverbruik
In 2008 was slegs 20% van die sojaboonoliekoekverbruik plaaslik, maar die plaaslike verbruiksyfer het in 2018 tot 69% gestyg. Die invoervervanging het nie net die plaaslike produksie-omgewing ondersteun nie, maar ook die plaaslike ekonomie.

Daar was egter nog steeds in die 2018/2019-bemarkingsjaar invoere van oliekoek en die moontlikheid dat Suid-Afrika 100% selfvoorsienend gaan raak, hang baie van logistiek af. Dit bly goedkoper om oliekoek in te voer vanaf Suid-Amerika as om dit vanaf die binneland te verkry.

Toekoms
Die toekoms van soja-oliekoek gaan ook baie afhang van die verbruik binne voerrantsoene. Die grootste verbruiker van soja-oliekoek is die hoenderbedryf. Dié bedryf verbruik 87% van die soja-oliekoek – met braaikuikens die grootste verbruiker. Dit is dus belangrik dat plaaslike produksie van hoender volgehou word om sodoende die verwerking en verbruik van sojabone en sojaboonoliekoek te laat groei.

Uit bogenoemde inligting is dit duidelik dat die Suid-Afrikaanse sojaboonbedryf merkwaardig gegroei het en dat die plaaslike ekonomie die voordeel hiervan geniet. Die bedryf is nou op ’n stadium waar weer nuut oor groei gedink moet word vir volhoubaarheid in die toekoms.

Die grootste drywers in die toekoms gaan wees die organisering van die aanbodketting, verandering in die beleidsomgewing (meer spesifiek invoertariewe op hoendervleis) en laastens die logistieke infrastruktuur. Suid-Afrikaanse produsente kan trots wees op hul bydrae om die bedryf so te laat groei en in die proses te help met die bevordering van die plaaslike ekonomie.