Vrywillige heffings stadig uit die blokke

SA Graan/Grain-redaksie
Gepubliseer: 3 Junie 2021

1421

Die Suid-Afrikaanse Wintergraanbedryfstrust (SAWCIT) wat in Oktober 2020 deur die bedryf in werking ge­stel is, het ’n stadige wegspring gehad en die heffingbetalings is nog nie na wense nie. So vertel Leon du Plessis van L&L Landboudienste (administrateurs van dié trust).

“Dit is alombekend dat vrywillige heffings nie naastenby so suksesvol soos statutêre heffings is nie, maar ons is steeds vol moed dat ons minstens genoegsaam heffings sal vorder om die noodsaaklikste bedryfsfunksies te kan befonds,” voeg hy by.

Die SAWCIT-inisiatief is begin nadat die Nasionale Landboubemarkingsraad nie die bedryf se aansoek vir die voortsetting van sta­tutêre heffings wou aanbeveel nie. Daar is dus sedert 1 Oktober 2020 geen heffings meer aan die Wintergraantrust (WCT) betaalbaar nie.

Richard Krige, voorsitter van SAWCIT.

Leon verduidelik dat die huidige seisoen se heffings eers aangewend sal word vir die befondsing van projekte in die volgende seisoen (tydperk 1 Oktober 2021 tot 30 September 2022). “Daar is dus tyd tot 30 September vanjaar om die heffings in te samel. Die aansoeke vir befondsing in die nuwe seisoen sal eers in Julie 2021 ingedien word en ons sal in die volgende paar weke die uitnodigings uitstuur.

“Voldoende deelname aan die betaling van die heffings is van kritieke belang, anders gaan die funksies skipbreuk ly tot nadeel van alle rolspelers in die bedryf. Daar is nie ander bronne van befondsing vir hierdie noodsaaklike funksies ten behoewe van die bedryf nie en dus is oorbetaling van die vrywillige heffings van kardinale belang. Voedselsekerheid, tegnologiese vooruitgang, groter markdeursigtigheid en -integriteit asook die monitering van oeskwaliteit is van die hoekstene waarop ons vrye mark gevestig is en wat die bedryf se wêreldwye mededingendheid verhoog,” benadruk hy.

Richard Krige, voorsitter van die nuwe bedryfstrust en vise­voorsitter van Graan SA, verduidelik dat die belangrikste funksies wat met die vrywillige heffings van SAWCIT gefinansier sal word, onder meer die Suider-Afrikaanse Graanlaboratorium (SAGL), die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens (SAGIS) en verskeie belangrike navorsings- en transformasieprojekte is. “Die navorsingsprojekte val in vyf kategorieë, naamlik teling (12 projekte), gewasbeskerming (12 projekte), produksiestelsels (14 projekte), kwaliteit (5 projekte) en tegnologie-oordrag (1 projek).”

Wat produsente moet weet

  • Produsente en andere wat graan lewer, moet magtiging gee dat die vrywillige heffings by die verkoop of lewering van die graan afgetrek en oorbetaal word.
  • Die koper, verwerker, prosesseerder, invoerder, uitvoerder of persoon wat die silosertifikaat uitreik, is dan verantwoordelik vir die oorbetaling daarvan.
  • Heffings moet verkieslik voor die einde van die maand wat volg op die maand waarin die heffings gevorder is, aan SAWCIT oorbetaal word.
  • Daar is ses trustees deur die bedryfsrolspelers aangestel om op SAWCIT te dien en hulle sal die gebruik van die heffings namens die bedryf bestuur en beheer.

Kontak sawcit@llagric.co.za vir meer besonderhede.

Betaalbare heffings
Die heffings is R14,50/ton vir koring en gars en R6/ton vir hawer (BTW uitgesluit) en is betaalbaar op alle koring, gars en hawer wat:

  • deur die produsent daarvan verkoop word;
  • ingevoer of uitgevoer word;
  • deur of namens die produsent verwerk of geprosesseer word; en
  • waarvoor ’n silosertifikaat uitgereik word.

Die vrywillige heffings aan SAWCIT moet nie verwar word nie met – en is heeltemal afsonderlik van – die vrywillige heffings wat aan Graan SA betaalbaar is.