Kanolakultivars presteer ten spyte van swartstam

Jan Botes, Agricol
Gepubliseer: 1 Oktober 2020

634

Swartstam (Leptosphaeria maculans) is ’n wêreldwye pro­bleem en word beskou as moontlik die gevaarlikste siekte op kanola. Dit blyk ook dat daar in 2019 in die Swartland se nasionale kultivarproewe ’n swartstaminfestasie was.

Die swam wat swartstam op kanola veroorsaak, het ’n geslagtelike voortplantingswyse en is derhalwe baie effektief om die genetiese weerstand van kultivars te oorkom. Die ongeslagtelike fase van die swam staan bekend as Phoma lingam en oorleef hoofsaaklik in kanolastoppels aan die einde van die groeiseisoen. Aan die begin van die groeiseisoen na voldoende reën, word die spore vrygestel en word dit deur die wind vervoer na jong kanolasaailinge. Soos met die wisseling van chemie om die effektiwiteit van middels teen onkruide te beskerm, moet kultivarkeuse asook die weerstandsgeen van kultivars in ag geneem word ten einde te verseker dat die weerstand van kanola teen swartstam behoue bly.

Daar is twee tipes swartstamweerstandsgene, naamlik kwalitatiewe weerstand (major) en kwantitatiewe weerstand (minor). Kwalitatiewe weerstand voorkom dat die swartstampatogeen die plant binnedring met die afwesigheid van stam-, blaar- en krooninfeksies – met ander woorde, totale weerstand. Indien ’n kanolasaailing vroeg in die seisoen met swartstam geïnfekteer word, tree die kwalitatiewe weerstandsgeen in om te keer dat die swam die plant binnedring om sodoende die voorkoms van letsels op die blare en kroon te voorkom. Kwantitatiewe weerstand daarenteen is verantwoordelik vir die voorkoming of onderdrukking van staminfeksies (stamkankers) en speel geen rol by die voorkoming van blaarinfeksies nie. Slegs wanneer die kwalitatiewe weerstand van die plant oorkom is, sal kwantitatiewe weerstand na vore kom. Die swartstampatogeen oorkom kwantitatiewe weerstand baie moeiliker en kultivars kan dus hul weerstand oor ’n langer tydperk behou. Kanolakultivars kan dus steeds presteer aangesien kwantitatiewe weerstand nie maklik meetbaar is nie.

Die topkanolakultivars van Agricol in die konvensionele groep (Diamond [ABF], Quartz [ABD] en Tango [B]) asook Alpha TT (BF) in die triasientolerante groep, bied die opsie dat wisselende weerstandsgene aangewend kan word om die swartstamweerstand van kanolakultivars te beskerm. ’n Goeie kultivarpakket met wisselende weerstandgene sal ’n produsent se risiko teen swartstam versprei.

Agricol se kultivars het puik presteer in die afgelope seisoen se proewe, ongeag die swartstampopulasie wat in die proewe voorgekom het. In 2019 se Swartland-kultivarproewe het Diamond eerste en Quartz tweede van al die inskrywings geëindig, ongeag die drie groepindelings, naamlik konvensioneel, Clearfield of triasientolerant. Tango het derde geëindig in die konvensionele groep. Alpha TT het egter uitgeblink en eerste geëindig in die triasientolerante groep.

In 2019 se Rûens-kultivarproewe in die Suid-Kaap, het Quartz eerste van al die inskrywings geëindig. Diamond was in die tweede plek in die konvensionele groep, gevolg deur Tango met die derde plek. Alpha TT het weer eens uitgeblink en eerste geëindig in die triasientolerante groep.

Deeglike beplanning by kultivarkeuse is van uiterste belang en het ongetwyfeld die grootste invloed op produksie van al die besluite wat deur die produsent geneem moet word. Agricol se kanolakultivarpakket het ten spyte van moeilike produksietoestande oor die kanolaproduserende gebiede weer welslae behaal die afgelope seisoen. Die Agricol-kanolapakket is die eerste tree na opbrengssukses.

Bron

  1. CanolaFokus-nuusbriewe, nr. 93 – 94
Die konvensionele kultivar, Quartz, het die afgelope seisoen ’n eerste plek behaal in die Rûens se nasionale kultivarproewe en was tweede in die Swartland-kanolaproewe.