Die rand se negatiewe effek op plaaslike kunsmispryse

1996
Luan van der Walt
Senior ekonoom, Graan SA
corne@grainsa.co.za

In hierdie artikel word gefokus op internasionale kunsmisprystendense en hoe dit deursyfer na die plaaslike kunsmismark. Omdat so ’n groot hoeveelheid van Suid-Afrika se kunsmisbehoeftes ingevoer word (meer as 80%), het internasionale pryse en die wisselkoers ’n geweldige impak op die vorming van plaaslike pryse. Die tydsberekening van wanneer invoere plaasvind en die wisselkoers wat geld, is bepalend.

Die wisselkoers
Die rand het vanaf Maart 2018 tot Maart 2019 met 13,1% teenoor die dollar verswak. Dit beteken dat invoere heelwat duurder plaasvind as verlede jaar dieselfde tyd. Die effek hiervan word in Tabel 2 getoon. Grafiek 1 toon die rand/dollar-wisselkoers oor tyd aan.

Internasionale kunsmispryse in dollarwaarde
Behalwe vir kaliumchloried het kunsmisgrondstowwe internasionaal oor ’n jaartydperk gedaal (Tabel 1). Die wisselkoers het vanaf Maart 2018 tot Maart 2019 met 13,1% verswak – ’n swakker rand beteken ingevoerde produkte word duurder ingebring.

Internasionale kunsmispryse in randwaarde
Tabel 2 toon internasionale kunsmispryse in randwaarde aan. Dit toon duidelik dat die verswakking in die wisselkoers ’n beduidende rol kan speel in hoe internasionale pryse na die plaaslike mark deursyfer.

Internasionale pryse van ammoniak, ureum en DAP, wat in dollarwaarde gedaal het, het oor dieselfde tydperk in randwaarde gestyg – onderskeidelik met 0,9%, 8,3% en 5,7% – hoofsaaklik as gevolg van die verswakking in die waarde van die rand. In randterme toon die prys van kaliumchloried ’n skerp styging oor ’n jaartydperk van 26,6%.

Plaaslike kunsmispryse
Tabel 3 toon die gemiddelde plaaslike kunsmispryse aan (pryslyspryse). Dit impliseer dat plaaslike prystendense redelik goed korreleer met dié van internasionale pryse in randwaarde.

Dit is nie die pryse wat belangrik is nie, maar die persentasieverandering. Internasionale pryse is gebaseer op pryse in internasionale hawens en plaaslike pryse is gebaseer op gemiddelde pryslyspryse.

Grafiek 2 toon byvoorbeeld aan hoe die prys van plaaslike ureum met dié van internasionale ureumpryse in randterme op ’n indeksbasis vergelyk. Dit is duidelik dat pryse redelik goed korreleer oor ’n sesjaarperiode.

Wat word verwag vir die res van 2019?
Op internasionale markte bly die verwagte produksie van kunsmis hoër as die verwagte vraag vir die res van 2019. Dit behoort pryse in bedwang te hou. Energiepryse sal wel dopgehou moet word – indien dít styg, sal dit die produksiekoste van veral stikstof en fosfate (MAP) opjaag. Grafiek 3 toon die prysbeweging van natuurlike gas teenoor internasionale ureumpryse oor tyd aan. Hieruit kan gesien word dat daar wel ’n noue verband is.

In die plaaslike mark speel administratiewe koste soos elektrisiteit tesame met vervoer ’n belangrike rol in die uiteindelike prys wat produsente vir kunsmis betaal. Verhoogde elektrisiteitskoste en stygings in brandstofpryse kan plaaslike pryse dus verder verhoog.