Grondsuurheid is nie meer onsigbaar nie!

Gepubliseer: 9 September 2020

1818
Dr Pieter Haumann,
hoof- uitvoerende beampte, Fertasa in samewerking met Fertasa se grond­suurheidwerksgroep*

Fertasa, in samewerking met Graan SA, kyk in hierdie reeks artikels na die oorsake, slaggate, invloed van en oplossing vir grondsuurheid. Die reeks sal uiteindelik uit twaalf artikels bestaan. Hierdie is die derde artikel in die reeks en dr Pieter Haumann, hoof- uitvoerende beampte van Fertasa, brei uit oor metodes vir die bepaling van kalkbehoefte.

Daar bestaan verskeie metodes om die kalkbehoefte van gronde te bepaal. Sommige van die metodes soos die Natal-metode, die Eksteen-metode wat in die Wes-Kaap ontwikkel is en die pH-%-klei­tabelle, word in Fertasa se bemestingshandleiding gegee.

Die inkubasiemetode word algemeen beskou as waarskynlik die akkuraatste metode – veral as die spe­sifieke kalk wat toegedien gaan word gebruik word in die inkubasie. Dit is egter meer tydsaam om uit te voer1. Dit is ook belangrik dat die kalkbehoeftebepa­lingsmetode herhaalbare waardes moet gee en spe­sifiseer watter gronddiepte van toepassing is.

Heelwat studies en veral presisiemonsterneming het egter bewys dat hierdie metodes dikwels nie daarin slaag om die presiese hoeveelheid kalk aan te dui om die gewenste grondsuurheidsvlak in die praktyk met die eerste probeerslag te bereik nie. Dit is ten spyte van die feit dat voorsiening gemaak word vir kalkreaksiedoeltreffendheid soos voorgestel in Fertasa se bemestingshandleiding.

Dit is belangrik om vas te stel wat die rede hiervoor sou wees. Moontlike redes sluit die volgende in:

  1. Dit kan bloot wees dat die korrekte hoeveelheid kalk nie toegedien is nie. Dit is die verantwoordelikheid van die strooier om te sorg dat toedie­ningstoerusting reg gekalibreer word en dat die strooipatroon reg gevolg word om die regte hoe­veelheid kalk toe te dien.
  2. Die regte hoeveelheid kalk is toegedien, maar die diepte van inwerking is nie dieselfde as waarop die kalkbehoefte bereken is nie. Die kalk word dan “verdun” met meer grond.
  3. Dit is moontlik dat die hoeveelheid kalk wat toe­ge­dien moet word, inkorrek bereken is deur ’n fou­tiewe aanname te maak oor die bruto digtheid van die kalk en die grond.
  4. Die kalkbehoefte is bepaal op grondmonsters wat nie verteenwoordigend is van die geteikende grondprofiel nie.
  5. Nog ’n rede kan wees dat die kalk wat gebruik is ’n laer neutralisasiewaarde het as wat aangedui is deur die verkoper of verteenwoordiger daarvan.

Wat ook al die rede, die gevolg hiervan is dat die grondsuurheidsvlak nie reg is nie. Dit kan tot oesverliese as gevolg van onderbekalking lei. Indien dit nie gekontroleer word nie, kan gronde versuur sonder dat die produsent daarvan bewus is. Oorbekalking kan natuurlik ook ’n probleem wees.

Dit is duidelik dat onderbekalking plaasgevind het op die sanderige gronde van die Vrystaat en Noordwes5. Die presiese rede hiervoor kan ’n kombinasie van die bogenoemde faktore wees.

Aksies om hierdie potensiële situasie te vermy, kan die volgende behels:

  1. Doeltreffende grondmonsterneming soos behandel in die vorige artikel in hierdie reeks deur Kobus van Zyl (“Ontledings speel groot rol in moderne boerdery”, beskikbaar by sagrainmag.co.za) is die beginpunt.
  2. Dit moet opgevolg word met ’n verdere ondersoek deur profielgate te grawe om vas te stel of wortelgroei enigsins benadeel of gestrem is. Die hele grondprofiel behoort geïnspekteer, gemonster en ontleed te word (Foto 1 en Foto 2).
  3. Sommige navorsers gebruik ’n staalplaat van ongeveer 60 cm x 10 cm met ses vierkantige hortjies van byvoorbeeld 10 cm x 10 cm x 10 cm. Die plaat met die bakkies word dan in die kant van ’n profielgat ingehamer of met ’n hidrouliese pers in die grond ingedruk. Sodoende kan ses monsters op ’n slag geneem word (Foto 3 en Foto 4).
  4. Ontleding van hierdie monsters gee baie insig in die verspreiding van nie net voedingstowwe nie, maar ook van die grondsuurheid, soos aangetoon in Figuur 1. Die versuurde sone wat omkring is, is die resultaat van vooraf diep geplaas­de stikstofkunsmis en lê op ’n ongemaklike diepte (ongeveer 40 cm). Hoewel hierdie metode ’n duidelike prentjie gee van die ver­spreiding van grondsuurheid, is dit eers moontlik om dit te bewerkstellig nadat die grondmonsters ontleed is. Dit is nie visueel sigbaar in die veld nie.
  5. Waarskynlik die mees visueel doeltreffende metode om pH-vlak op die plaas by die verskillende sones in die grond te illustreer, word deur die Australiërs gebruik, naamlik om universele pH-in­dikatorvloeistof direk op die grond te spuit (Foto 5). Die bogrond is groenerig verkleur wat daarop dui dat die pH gunstig sou wees. Direk onder dié laag is daar egter ’n relatief dik laag wat gelerig tot oranje vertoon en daarop dui dat die pH daar ongunstig sou wees en wortelgroei beperk. Dit sou nie opgespoor kon word indien slegs die bogrond gemonster sou word nie. Ondertoe is die aanduiding dat die pH weer gunstig sou wees. Skandeer die QR-kode onderaan die artikel om die metodiek te besigtig. Besonderhede oor die spesifieke universele indikator wat gebruik word, kan op navraag verskaf word.
  6. Die werklike pH sal natuurlik met ontleding geverifieer moet word. Hierdie praktiese metode kan ook baie duidelik die doeltreffendheid van diep inwerking van kalk weerspieël soos onder aangedui (Foto 6 en Foto 7). Hierdie metode sal egter nie gebruik kan word waar die gronde sterk gekleurd is nie.
’n Grondprofielondersoek om wortelverspreidingte bepaal.
Foto: Kobus van Zyl
3. ’n Staalplaat waarmee grondmonsters geneem kan word.
Foto: Jan du Toit, Omnia
4. Geruitepatroon-grondmonsters.
Foto: Jan du Toit, Omnia
Figuur 1: Die pH(KCl) van grondmonsters wat op ’n geruite patroon geneem is.
Illustrasie: Jan du Toit, Omnia
Grondkleur wat pH aandui na behandeling met ’n universele indikator.
Foto: Chris Gazey, State of Western Australia (Department of Primary Industries and Regional Development, WA)
Die doeltreffendheid van diep inwerking van oppervlaktoege­diende kalk. Die pers kleur dui op kalk wat nog nie volledig gereageer het nie en sones waar kalk ingewerk is na toediening op die oppervlak.
Foto: Chris Gazey, State of Western Australia (Department of Primary Industries and Regional Development, WA)
Pers verkleuring as gevolg van bekalking wat diep ingewerk is. Dit dui op onegalige vermenging met suurder grond wat beperkend kan wees.
Foto: Chris Gazey, State of Western Australia (Department of Primary Industries and Regional Development, WA)

Gevolgtrekking
Doeltreffende bekalking van gronde kan slegs plaasvind indien deeglike inspeksie van die grondprofiel en ontleding van spesifieke lae van die grond gedoen word. Die inspeksiemetodes wat bespreek is in hierdie artikel kan beslis daartoe bydra dat die produsent in beheer kom van die bekalkingspraktyke op die plaas.

Grondsuurheid is nie meer onsigbaar nie!

Klik op die QR-kode vir ‘n video oor Soil pH using universal pH indicator.

Bronne

  1. Bemestingshandleiding. 2016. Fertilizer Association of Southern Africa. Agtste hersiene uitgawe. Posbus 75510, Lynnwoodrif, 0040, Suid-Afrika.
  2. Du Toit, J. 2020. Landboukundige, Omnia Kunsmis.
  3. Gazey, C, Davies, S & Master, R. 2014. Soil acidity: a guide for farmers and consultants. Second edition. Bulletin 4858. Department of Agriculture and Food Western Australia.
  4. Van Zyl, K. 2020. Grondontledings se plek in moderne boerdery. SA Graan/Grain, Augustus.
  5. Van Zyl, K & Bornman, K (Omnia). 2019. Soil acidity in sandy soils of the North West and Free State Provinces. (Voorlegging gelewer deur Kobus van Zyl tydens Fertasa se “Soil Acidity, Liming and Ca and Mg Nutrition Workshop” gehou op 22 Mei 2019).