Verstaan en hanteer jou grond beter

1823
Jan Greyling,
SA Graan/Grain medewerker

Produsente moet ’n kopskuif maak en besef dat grond ten eerste biologies van aard is. Die fisiese en chemiese samestelling daarvan is nie altyd die belangrikste nie. Grond is eerder ’n lewendige, interaktiewe en dinamiese ekosisteem as net ’n blote groeimedium. Deur herlewingslandbou word die boerderystelsel se prestasie met tyd verhoog deur die biologiese werking te verbeter.

Natuurboerdery, soos dit ook genoem word, gaan nie oor toerusting of ’n nuwe stelsel nie. Die belangrikste is om deur kennis jou unieke landbouproduksie-ekosisteem ten beste te verstaan.

Vir afgevaardigdes by Landbouweekblad se afgelope Herlewingslandboukonferensie buite Stellenbosch het die hoofspreker, prof Buz Kloot, nie soos ’n vreemdeling gevoel nie. Prof Kloot is ’n medeprofessor aan die Universiteit van Suid-Carolina in die VSA. Hy is in Namibië gebore en het daar en in Kaapstad grootgeword. Sy liefde vir Suid-Afrika en Afrikaans maak sy passie en boodskap oor grondgesondheid sy hartstaal. Deur sy vlytige gebruik van Afrikaans het die uitdrukking “dit sallie werkie” in Amerika posgevat. Hy het wat natuurboerdery betref dit egter omgeswaai na “hier kan dit werk”.

Prof Kloot was een van sewe sprekers by die konferensie, wat op Morgensrust by Joostenbergvlakte gehou is. Om sy bevindinge en veral die positiewe resultate met herlewingsboerdery oor ’n tydperk van sewe jaar te bevestig, het hy mnr Jason Carter, een van verskeie Amerikaanse produsente wat onder sy leiding herlewingslandboubeginsels in Suid-Carolina toepas, saamgebring.

Me Lisa Smorenburg, ’n navorsingstegnikus by die Tygerhoek-navorsingsplaas van die Wes-Kaapse Departement van Landbou, het haar ervaring tydens ’n onlangse herlewingslandboutoer na die VSA gedeel. Haar fokus was op die impak van dekgewasse en geïntegreerde natuurboerdery in die Kaap.

Vanuit Prieska kon mnr Bertie Coetzee van Lowerland hul sukses met saamgestelde natuur­boerdery, wat mielies, koring, vleis, wyn, pekanneute, pampoen en heuning insluit, aan die gaste oordra.

Nader aan die Wes-Kaapse produsent se eie leefwêreld het mnr Hendrik Pohl, bedryfsbestuurder op ZZ2 se vrugteplaas by Ceres, hul lesse en suksesse met biologiese beginsels in appelboerdery gedeel.

Mnr Johan Reyneke, eienaar van Reyneke Wyne digby Stellenbosch, het afgevaardigdes met sy idees oor die skep van ’n natuurlike terrein vir unieke wynproduksie geboei.

“Om herlewingslandbou toe te pas, beteken om ’n verskeidenheid getoetste en ongetoetste beginsels toe te pas. Dit is nie net die verandering van een of twee stukke “boerderygereedskap” soos kunsmis, beeste, skape, werktuie, rotasiestelsels of dekgewasse nie. Die produsent bepaal self hoe hy dit doen. Grondgesondheid is ’n keuse met langtermynvoordele, waardeur herlewingslandbou aan die gang kom,” meen prof Kloot.

Hy wys daarop dat hoewel “volhoubaar” – veral in Suid-Afrika – ’n baie belangrike woord bly, dit nie meer in Amerika in grondgesondheidsprogramme gebruik word nie. Volhoubaarheid van ongewenste beginsels en van ongesonde grond moet nie aangemoedig word nie.

Die meeste van prof Kloot se navorsing word in oorleg met wat hy “boerewetenskaplikes” noem op hul plase in Suid-Dakota en Suid-Carolina gedoen. So, van watter waarde kan dit dan nou vir Suid-Afrikaanse produsente wees?

Vyf beginsels van grondgesondheid
“Uitstekende vraag,” meen hy. “Soos die VSA is Suid-Afrika se landboutoestande baie uiteenlopend. Daarom is dit belangriker om oor die volgende vyf beginsels van grondgesondheid te dink, eerder as oor boerderymetodes.”

  • Minimale versteuring van jou grond: Fisies, chemies of biologies.
  • Hou jou grond regdeur die jaar bedek met dekgewasse of plantreste.
  • Hou vir soveel as moontlik dae per jaar lewendige wortels in jou grond.
  • Verseker diversiteit deur wisselbou om sodoende die natuur na te boots.
  • Doelgerigte inskakeling van veevertakkings by jou graanverbouingstelsel – iets waarmee die VSA nog stoei, maar waarmee Suid-Afrika goed vorder – aldus prof Kloot.

“Geen bewaringsimplement kon tot nog toe ontwerp word om die gehalte van grond te verbeter nie. Herlewingslandbou het reeds internasionaal en in Suid-Afrika bewys dat grondgesondheid deur bestuur verbeter kan word.”

Hoewel daar rolspelers is wat skepties staan teenoor data, meen prof Kloot die bewyse dat hierdie vyf beginsels deeglik werk, lê in die produsente se eie tevredenheid met hul grond se prestasie. “Ons jaag nie groter opbrengste na nie, maar langtermynverbetering van produkgehalte, landerye, boorde en wingerde. In die VSA sien ons na die eerste drie tot vier jaar van dekgewasse boonop geringe toenames in opbrengs per hektaar.”

Prof Kloot meen daar is verseker besparings vir die produsent in herlewingslandbou opgesluit. “Daar is egter nog nie genoeg huiswerk oor die breër spektrum gedoen nie.”

Sy werk fokus op die afname in kunsmisgebruik weens herlewing in biologiese aktiwiteite in die grond. Dit volg weens minimumbewerking, dekgewasse, wisselbou en beplande inskakeling van vee by saaigewasse.

“Besparing is opgesluit in verminderde insetkoste weens die werk wat die natuur doen om kalk-, stikstof-, fosfaat- en kaliumbehoeftes te verminder.”

Prof Kloot gebruik dr Rick Haney se grondgesondheidstoets om te meet wat die grond se toestand en tekortkominge is. Die resultate wys onder meer dat organiese koolstof en stikstof radikaal deur herlewingslandbou bevoordeel word.

In die VSA is bewese besparings gelyk aan tussen $50 en $70 per akker. Dit sluit nie besparing in deur nuwe grondlewe, toename in organiese materiaal en besparings op plaag- en onkruidbeheermiddels nie. Hy sê wanneer produsente die resultate van multi­spesiedekgewasse na drie tot vier jaar sien, maak dit deure oop na talle nuwe gewasopsies.

Nuwe lewe
Jason plant sedert 2012 ’n multispesiedekgewasmengsel aan op sy plaas in Suid-Carolina. Vanaf April 2014 produseer hy mielies deur middel van geenbewerking. Sedertdien neem die bruto digtheid van sy grond met rasse skrede af en die natuurlike biodiversiteit van die grond keer ten volle terug. Hy bevestig ’n prominente herlewing van erdwurms in sy landerye. Sy sojaboon-, katoen- en mielielande is sonder enige plaag- of onkruidmiddels pes- en onkruidvry.

In Oktober 2015 is ’n intense droogte in die VSA met vloede gebreek. Hy het geen grond verloor nie, maar die biologiese grondlewe het egter skade gely. Sedertdien het hulle reeds teruggekeer na geenbewerking en ’n multispesiedekgewasstelsel op alle landerye. Jason beoog om sy dekgewaskeuse binnekort na agt (vanaf ses) spesies uit te brei.

Vrugtebedryf kyk kat uit die boom
Volgens mnr Matthew Addison (Hortgro Navorsing) word dekgewasboerdery in harmonie met die natuur nou sleutelbelangrik in vrugteboerdery. Hortgro Navorsing ondersoek tans die bestuur van appelherplantsiekte (ARD) en appelbrandsiekte asook die impak op blomvorming. Hy wys op die verskillende dekgewaskeuses vir onder appelbome en in die trekkerspore, waar kompaktering voorkom. Dekgewasse se mededinging vir die bome se water word ook deur profielgatontledings gemonitor. Matthew moedig produsente aan om alle veranderings met foto’s te monitor.

Hendrik (ZZ2) bevestig daar is meer aktiewe mikrobiologiese grondlewe, beter waterinfiltrasie en meer deurlugting in gronde wat lei tot verbeterde appelboomgesondheid met ’n afname in siektes – alles weens natuurboerdery. Hy sien grond- en boomgesondheid as die beste stresbuffer vir beter gehalte vrugte. “In ons harte is ons almal kapitaliste wat boer vir geld. Vir ons is natuurboerdery die antwoord vir groei.”

Johan (Reyneke Wyne) sê hulle het vroeër jare wyn gemaak, maar nou groei hulle dit. Op hul plaas buite Stellenbosch verstaan hulle die biologiese en mikrobiese samestelling van hul grond nou beter. “Ons laat die natuur toe om te bepaal wat in ons wingerde gebeur. Voorheen het ek net met druiwe geboer, nou boer ek ook met grond,” sê hy.

Lisa van die Tygerhoek-navorsingsplaas het bevestig dat goeie vordering met herlewingsboerdery in Suid-Afrika op hande is, met ’n pasgoedgekeurde nuwe dertienjaarnavorsingsplan hiervoor. Dit sal, onder haar leiding, alle aspekte van herlewingsboerdery, natuurboerdery en optimale biologiese grondgesondheid insluit. Kontak haar by lisas@elsenburg.com vir insette in die projek se beplanning.