Waar is Justitia?

Gepubliseer: 24 Februarie 2020

1520

Beste Grootneef

Sy was ’n mooi vrou – lank en slank met hare wat oor haar skouers val. Sy staan steeds effe vooroor en luister. Haar oë is bedek met ’n blinddoek, sodat sy met totale fokus alles om haar kan inneem. In haar regterhand is ’n skaal met twee leë bakke. In haar linkerhand, ’n swaard met die snykant na bo gerig. Kaalvoet en met ’n wit kleed, staan sy deur die eeue gereed om te hoor, te weeg, te bevind en wanneer nodig, die swaard van geregtigheid te gebruik.

Justitia, die godin van reg en geregtigheid, leef na al die eeue voort in uitbeeldings voor talle hofgeboue oor die hele planeet. Selfs by ons in die Suidland kry jy Justitia nog plek-plek te sien.

Sy moes ’n besonderse vrou gewees het. Geseën met wysheid en insig om te onderskei tussen feite en fiksie. Sodanig so, dat sy steeds inspireer in die soeke na waarheid, alreeds sedert ’n eeu v.C.

Justitia is nog stil teenwoordig in hofsale met strafsake, skeisake of bedrogsake. Strome argumente vloei oor haar skaal, waarmee waarheid of onwaarheid geweeg word. Sy toets steeds alles wat beweer word met koue, kliniese oordeel. Die skaalbakke kantel voortdurend soos ’n oorwig van waarskynlikhede en bo-redelike-twyfels gemeet word.

Die swaard van geregtigheid bly gereed – afwagtend en omhoog om skuldiges te straf.

Saam met Justitia is die Suidland se mense ook in afwagting oor waarheen die skaal gaan kantel. Wat gaan die swaarste weeg – waarheid of verdigsel? Wie sal sy gewig ingooi om seker te maak dat niks verborge bly nie? En sal soveel tyd met al die ondersoeke verbygaan dat dié wat die regte ding wou doen, net langs die pad tam raak en verdwyn?

Ou Neef, in die Suidland word alles nou uitgehaal om in die skaalbak van reg of onreg te plaas. Die Zondo-fontein borrel al baie maande met verhale van hóé skeef dinge kan loop. Die vraag is of dit genoeg is om die skaal in Justitia se hand te laat swaai na ’n staat sonder kapings?

Vanoggend op pad die stad in, moes ek twee keer kyk. Op die muur langs die hof waar Justitia met ’n vorige besoek gepryk het, was net gate in die muur. Justitia was weg.

Die vreemdste van die dag was toe ons die middag naby Brandfort verby ’n ou vrou in ’n verslete, wit rok ry. Sy het moeilik geloop en ’n gebreekte swaard agter haar aangesleep.

Ou Neef, wat ’n ramp sal dit nie wees indien Justitia besluit het om die Suidland finaal vaarwel toe te roep nie.

Groete op die oosgrens.

 

 

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.