Hou koers met NAMPO-TOEP

Gepubliseer: 3 Mei 2022

872

Die selfoontoepassing wat ontwikkel is om sake vir besoekers, uitstallers en sakelui tydens NAMPO makliker te maak, bied al die basiese inligting om ’n doeltreffende en genotvolle Oesdag te beleef.

Enigiemand wat die NAMPO-toep aflaai, sal onder meer kan sien watter uitstallers by NAMPO is en hoe om maklik by elkeen van hulle uit te kom, sê dr Dirk Strydom, hoof: Bemarking, NAMPO en Navorsingskoördinering by Graan SA.

“Die NAMPO-toep, wat die eerste keer in 2019 vir NAMPO Kaap ontwikkel is, is verder verfyn. Dit gaan help met navigasie om by uitstallers uit te kom. Besoekers sal NAMPO 2022 in geheel en ook in kategorieë kan sien wat elke dag se beplanning aansienlik sal vergemaklik.”

Dr Strydom sê die toep sal nog tot kort voordat die hekke oopmaak aangepas en gefinaliseer word. “Dit is ’n regstreekse satelliethulpmiddel wat nog tydens NAMPO aangepas en uitgebrei kan word.”

Besoekers wat die NAMPO-toep aflaai, kan verwag dat hulle die volledige program daar sal sien. In elke kategorie op die toepassing, soos “Animals”, “Agronomy”, “Crops” of “Equipment” sal elke uitstaller se ligging, produkte, kontakbesonderhede en selfs kort video’s en kort en langer beskrywings wees.

Om die NAMPO 2022-ervaring weer eens ’n belewenis te maak, sal uitstallers op ’n maklike, interaktiewe manier gelys wees, sê dr Strydom. “Elke uitstaller kry sy eie bladsy met korporatiewe kleure op die toep. Deur interaktiewe Google Maps en Graan SA se GIS-stelsel sal besoekers presies weet hoe lank die staptyd tussen uitstal­lers is en ’n digitale beplanner op die punte van hul vingers hê.”

Laai die NAMPO-toep af vanuit die Playstore op Android-selfone of vanuit die Apple Store.