12|06|2019
Oliesaadprodukte: Waarde en geleenthede

1450
Luan van der Walt
landbou-ekonoom, Graan SA,
luan@grainsa.co.za

Die internasionale handel speel ’n kardinale rol in enige land se ekonomie en dit dra grootliks by tot die vloei van buitelandse valuta in en uit die land. Indien die uitvoere meer as die invoere is, beteken dit die land het ’n positiewe handelsbalans – wat positief is vir die plaaslike ekonomie. Indien die invoere meer as die uitvoere is, beteken dit die handelsbalans is negatief en die land betaal meer buitelandse valuta as wat dit inkry. Dit is oor die algemeen nie positief vir die ekonomie nie.

Alhoewel die land se handelsbalans alle in- en uitvoere insluit en die landbou slegs ’n gedeelte daarvan uitmaak, speel hierdie inligting ’n groot rol in die landbou-industrie. ’n Belangrike deel hiervan is die identifisering van geleenthede.

Kyk na die groter prentjie
As daar gekyk word na die groter prentjie van die land se ekonomie en die volhoubaarheid daarvan, is dit altyd beter om selfvoorsienend te wees in terme van plaaslike produksie. Dit beteken dat dit nie vir die land nodig moet wees om enige kommoditeite of produkte in te voer nie – dit is beter as alles plaaslik geproduseer kan word. Dit sal bydra tot meer investering en werkskepping, wat weer positief vir die land as ’n geheel is.

Die Suid-Afrikaanse graan- en oliesademark is steeds aan die uitbrei, met die olie­sade wat die afgelope paar jaar goeie uitbreiding getoon het in terme van produksie en verwerking. Alhoewel die meeste van die groei in die plaaslike produksie en verwerking in sojabone plaasgevind het, speel die ander oliesade ook ’n groot rol in die hele oliesaadkompleks en kan dit nie uitgesluit word wanneer die verskillende produkte oorweeg word nie.

Wanneer na die handelsinligting van die produkte in die oliesaadkompleks gekyk word, is dit duidelik dat daar wel nog heelwat spasie vir groei in hierdie area is.

Ten spyte van die fisiese verbruik van die produkte is dit ook belangrik om die finansiële aspek daarvan te oorweeg en vas te stel wat die monetêre waarde van die groeigeleentheid vir uitbreiding in die verwerking van oliesade is. Daar word na die waarde van die invoere van hierdie produkte gekyk om vas te stel wat die monetêre waarde daarvan is.

Sojabone
Sojabone is die grootste oliesaadgewas wat in Suid-Afrika geproduseer word en die produksie sowel as die verwerking daarvan het oor die afgelope vyf jaar goeie groei getoon. Die uitbreiding wat in beide die produksie en verwerking van sojabone gesien is, is egter steeds nie genoeg om aan die plaaslike vraag na olie en oliekoek te voldoen nie. Dit beteken op ’n jaarlikse basis word steeds groot hoeveelhede van hierdie produkte ingevoer.

Grafiek 1 toon die randwaarde per seisoen van die invoere van sojaboonoliekoek, sojaboonolie asook die totale waarde van die gekombineerde invoere. Die driejaar- gemiddelde waarde van sojaboonolie-invoere was ongeveer R1,772 miljard, terwyl die gemiddelde waarde van die sojaboonoliekoekinvoere sowat R2,455 miljard beloop het.

Die totale waarde van die sojaboonolie en -oliekoek wat ingevoer is, is nagenoeg R4,228 miljard. Grafiek 1 wys dat daar plaaslik nog ’n groter invoervraag na sojaboonoliekoek is as na sojaboonolie, alhoewel daar steeds ruim spasie is vir die uitbreiding in verwerkingskapasiteit om beide hierdie produkte te vervaardig.

Sonneblomsaad
Grafiek 2 dui die waarde van die sonneblomsaadprodukinvoere (olie en oliekoek) invoere sedert die 2016/2017-seisoen aan. Dit is duidelik dat in terme van sonneblomsaad daar meer olie as oliekoek ingevoer word, wat aandui dat daar plaaslik ’n groter tekort aan eersgenoemde is. Grafiek 2 toon dat die gemiddelde waarde van die sonneblomolie wat ingevoer is, ongeveer R1,593 miljard beloop het. Die waarde van die sonneblomoliekoekinvoere was gedurende hierdie tydperk gemiddeld maar sowat R164 714 miljoen. Die totale waarde van die gekombineerde invoere was gedurende die 2016/2017- en 2018/2019-seisoen gemiddeld nagenoeg R1,758 miljard gewees.

Alle plantaardige olie en oliekoek
Behalwe vir bogenoemde invoere word daar ook verskeie ander plantaardige olies en oliekoek ingevoer. Die oliekoekinvoere, soos in Grafiek 3 gerapporteer, sluit die oliekoek in wat verkry word vanaf sojabone, sonneblomsaad, katoensaad, grondbone, lynsaad asook raap- en kanolasaad.

Die invoere van die plantaardige olies sluit die olie in wat verkry word vanaf sojabone, sonneblomme, grondbone, palm en palmkiem asook ander groente-olies.

Dit is duidelik uit Grafiek 3 dat daar nog ’n groot tekort aan plantaardige olies in Suid-Afrika is en dat hierdie tekorte aangevul word deur middel van invoere. Die gemiddelde invoerwaarde van plantaardige olies het oor die afgelope drie jaar ongeveer R7,789 miljard beloop.

Die totale waarde van die oliekoekinvoere was oor die afgelope drie seisoene ongeveer R2,829 miljard. Die totale invoerwaarde van alle plantaardige olie en oliekoek was oor dieselfde tydperk gemiddeld R10,617 miljard.

Ten slotte
Ten spyte van die goeie groei in veral sojaboonproduksie en -verwerking is dit steeds nie genoeg om aan die plaaslike vraag na olie en oliekoek te voldoen nie. Daar moet steeds van hierdie produkte ingevoer word.

Dit is ook die geval met die ander plantaardige olies en oliekoek waarvan nog groot hoeveelhede ingevoer word. Die invoer van hierdie produkte het nie net ’n negatiewe effek op die land se handelsbalans nie, maar dit beperk ook die groei in die landbousektor tot ’n groot mate. Die goeie nuus is dat daar wel spasie vir groei in die verwerking van hierdie produkte is, wat beteken dat verdere uitbreiding in die produksie van dié kommoditeite moontlik is.

Slegs in terme van sojabone en sonneblomsaad, waarvan die plaaslike produksie maklik kan uitbrei, was daar gemiddeld oor die afgelope drie jaar ’n uitvloei van ongeveer R5,98 miljard gewees. Dink net hoe positief dit vir groei sou wees as hierdie geld eerder terug in die plaaslike landbousektor belê kon word.

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar egter geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van hierdie inligting nie.