August 2016

image

JANNIE DE VILLIERS, uitvoerende hoofbestuurder/CEO

Ek sit en lees berigte oor die landbousektor in verskeie lande en raak só bewus van ander produsente se unieke probleme. Die droogte, politieke onstuimigheid en swak ekonomiese toestande in Suid-Afrika het mos maar die geneigdheid om jou net op jou eie dilemma te laat fokus.

Ek lees die betoog van die Britse produsente wat tot 55% van hulle jaarlikse inkomste van die EU se subsidiesisteem gekry het. Dalk is dit erger as ‘n droogte! Ek spot baie keer met die Europeërs en Amerikaners só daaroor: “In South Africa we farm our land to get an income and you farm your government to get an income.”

Die ironie is dat ons nou ‘n stryd het om daardie grond te behou waarmee ons ons inkomste moet verseker en hulle weer het ‘n stryd om hul regeringsubsidies te behou sodat hulle hul inkomste kan handhaaf. Albei die situasies is sleg vir landbouers, maar wat is nou eintlik die ergste?

‘n Professor van die besigheidskool in Genève, Switserland, het eendag vir ons in ‘n klas gesê dat beleid soos verkeersreëls behoort te wees: Voorspelbaar. Jy moet met redelike sekerheid kan sê dat alle motors gaan stop wanneer die verkeerslig na rooi toe oorslaan. Dan weet al die padgebruikers min of meer wat om te verwag en wat om te doen. Nou ja, nodeloos om te sê dat dit sy eerste besoek aan Suid-Afrika was en dat hy nog min ervaring van ons taxibestuurders gehad het. Sy beginsel bly egter steeds soos ‘n paal bo water staan.

Graanprodusente in Suid-Afrika beskik oor die vermoë om deur droogtes te werk en ‘n plan te maak. Ons weet daar is sulke tye en probeer voorsien en planne beraam, maar vir die onvoorspelbaarheid van beleid kan nie maklik voorsiening gemaak word nie. Graan SA probeer daagliks om daardie voorspelbaarheid te verbeter en om seker te maak dat beleidmakers die implikasies van lukrake veranderinge beter insien.

Met die plaaslike verkiesings, hoë voedselpryse en groter-wordende ongelukkigheid onder veral die werklose jeug, is die brandasem beleidmakers baie opsigtelik in die vergaderings wat ons hier in Pretoria bywoon. Dit is nie net hul onkunde oor die landbousektor wat dan na vore kom nie, maar ook die ondeurdagte instruksies van die politici wat net eenvoudig dit of dat nóú moet laat gebeur.

Baie keer moet die belaglike verwagtinge van sulke amptenare en die uitkomstes wat daaraan gekoppel is, dan buig voor die natuur en die seisoen: “Meneer, ons kan nie nou mielies plant nie – al het dit gereën. Dit is winter in die Vrystaat. Ons plant eers weer in Novembermaand!”

Hierdie buig voor die natuur (en nie soos hulle soms dink voor hardkoppige produsente nie) maak ‘n deur oop om die gesprek oor beleid te kan voortsit. Die harde realiteite van die droogte en die uitwerking van hoë voedselpryse op die arm gemeenskappe is vir beleidmakers ‘n reuse kopseer.

Daar is nie kitsoplossings hiervoor nie. Goeie langtermyn, voorspelbare beleid is al wat die negatiewe uitwerking kan versag. Versag ja, nie wegneem nie. Landbou is soos ‘n groot boot, jy draai dit nie sommer in ‘n uur om nie.

As ek die manne in die suide reg aanhoor, dan lyk dit of die droë jaar in die Swartland gedraai het en die wintergraanoeste mooi aankom. Wat die noorde betref, is ons nou in die sessie na tee op die vyfde dag van ‘n kriekettoets. Ons kolf vir ‘n gelykopuitslag. Daar is nog so paar paaltjies in die bank, maar wen kan ons nie meer nie. Vasbyt, manne! Ek raak saam met julle opgewonde en sien uit na ‘n nuwe, nat seisoen.

Publication: August 2016

Section: Features