Die belangrikheid van markinligting: Wat leer ons daaruit?

19
Luan van der Walt,
landbou-ekonoom,
Graan SA

Deel 1: Algemene agtergrond

Die Suid-Afrikaanse graan- en oliesademark is reeds sedert die laat 1990’s in ’n vrye mark. Een van die belangrikste aspekte vir die optimale funksionering van so ’n mark, is dat daar genoeg markinligting beskikbaar moet wees sodat die verskillende rolspelers in die mark weldeurdagte besluite kan neem.

Ons graanbedryf is in hierdie opsig werklik bevoorreg met die hoeveelheid inligting wat reeds sedert die ontstaan van die vrye mark in die publieke domein beskikbaar is. Die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens (SAGIS) en die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) is onder meer twee instansies wat baie waarde aan die graanbedryf bied in terme van inligting.

Hierdie artikel handel oor die basiese belang van inligting in die plaaslike graanbedryf. Daar sal dan ’n reeks artikels volg wat ’n bietjie meer lig werp op die inligting van die verskillende gewasse en wat geleer kan word uit die langtermyntendense van die beskikbare inligting.

Vraag en aanbod
Vraag en aanbod is die belangrikste aspek van die vrye mark, aangesien dit die hoofbeginsel is waarvolgens so ’n mark funksioneer. Die vraag en aanbod verteenwoordig aan die een kant die kopers van die produk wat bereid is om ’n sekere prys vir die produk te betaal en aan die ander kant die verkopers van die produk wat bereid is om die produk teen ’n sekere prys te verkoop. Die punt waarteen die kopers bereid is om te koop en die verkopers bereid is om te verkoop, is die punt waar die prys vasgestel word.

In die plaaslike graan- en oliesadebedryf is vraag en aanbod ook die grootste aspek wat die pryse van hierdie kommoditeite bepaal. Dit is belangrik om die markdinamiek in gedagte te hou wanneer na hierdie konsepte van vraag en aanbod gekyk word as die fundamentele basis wat gebruik word vir prysbepaling. Aangesien die plaaslike mark in ’n vryemarkstelsel is, is dit feitlik onmoontlik om die plaaslike mark van die internasionale mark te isoleer.

Dit beteken dat die plaaslike graan- en oliesademark altyd op een of ander tydstip met die internasionale mark gaan moet kompeteer, hetsy dit aan die invoer- of aan die uitvoerkant van die mark is.

Die internasionale mark is die “alternatief” tot die plaaslike mark. Indien daar nie plaaslik genoeg van die gewas beskikbaar is nie, sal kopers in die buiteland daarvan moet gaan koop. Wanneer daar weer ’n surplus plaaslik is, moet dit in die buiteland verkoop word.

Dinamiek in die plaaslike mark
Invoer- en uitvoerpariteit is twee algemene konsepte in die graan- en oliesaadbedryf met heelwat verwysing daarna in die algemene inligtingstrukture. Hierdie twee konsepte dui op die prysvlakke waarteen die plaaslike mark kompeterend sal wees met die internasionale mark.

Grafiek 1 toon die basiese beginsel van die pariteitspryse van grane en oliesade in Suid-Afrika. Indien die plaaslike aanbod van die gewas minder is as die minimum plaaslike vraag na die gewas, beteken dit dat daar in die binneland ’n tekort is en dat die balans tussen vraag en aanbod ingevoer sal moet word. Dit sal veroorsaak dat die plaaslike pryse nader aan die invoerpariteitsprys verhandel.

Aan die ander kant van die spektrum is die uitvoerpariteitsprys. Indien die plaaslike aanbod van die gewas meer is as die maksimum plaaslike verbruik van die gewas, beteken dit dat daar plaaslik ’n oorskot van die gewas beskikbaar is en dat die surplus uitgevoer moet word. In hierdie geval sal die markprys van die gewas nader aan die uitvoerpariteitsprys verhandel.

Alhoewel die invoer- en uitvoerpariteitsprys nie rigied is nie, is dit ’n goeie aanduiding van die “grense” waarbinne die plaaslike pryse behoort te verhandel. Die pariteitspryse kan tot ’n groot mate gesien word as die minimum- en maksimumprys­vlakke waarteen die mark behoort te verhandel. Daar is uit die aard van die saak ander fundamentele faktore wat kan veroorsaak dat die plaaslike markprys aansienlik bo of onder hierdie prysbande verhandel. Maar dit sal nie dikwels só plaasvind nie.

Die verskillende inligtingsbronne
Gegewe die inligting rakende die vraag en aanbod asook die plaaslike prysbepalingsmeganisme is dit duidelik dat veral die inligting wat die vraag en aanbod van die verskillende gewasse bepaal, van uiterste belang in die plaaslike mark is. Dit is belangrik om vertroud te wees met die verskillende inligtingsbronne wat beskikbaar is. Dit sluit beide die plaaslike en internasionale konteks van inligting in.

Die internasionale inligting wat hoofsaaklik gebruik word, sluit daaglikse, weeklikse en maandelikse inligting in. Die daaglikse inligting behels daaglikse prysbewegings van die internasionale markte, terwyl die weeklikse en maandelikse inligting die fundamentele aspekte behels.

Weeklikse inligting sluit hoofsaaklik inligting wat deur die Amerikaanse Departement van Landbou bekend gemaak word in, soos die produksietoestande van die Amerikaanse gewasse asook die tempo van aanplantings. Hierdie inligting kan dan met die vorige seisoen asook met die gemiddeld teen dieselfde tyd van die jaar van vorige seisoene vergelyk word. Dit gee ’n goeie oorsig rakende die internasionale produksie-omstandighede en wat verwag kan word van internasionale produksie.

Die maandelikse verslae is die wêreldvraag-en-aanbodsyfers wat ook deur die Amerikaanse Departement van Landbou vrygestel word. Dit toon die verwagte vraag-en-aanbodsituasie vir die seisoen van die grootste lande wat ’n rol speel in die vraag en aanbod van die spesifieke gewas. Hierdie verslag bied waardevolle inligting om ’n goeie prentjie rakende die internasionale konteks te skep.

In terme van plaaslike inligting wat vraag en aanbod betref, speel die NOK en SAGIS die belangrikste rolle. Die NOK skat die verwagte produksie vir die seisoen wat belangrik is in die vasstelling van die plaaslike vraag-en-aanbodbalansstaat vir die seisoen. SAGIS stel ook weekliks en maandeliks verskillende verslae bekend wat inligting rakende die vraag en aanbod van die verskillende grane en oliesade bevat.

Die weeklikse SAGIS-verslae handel oor aspekte soos die werklike weeklikse produsentelewerings van mielies, koring, sojabone en sonneblomme, terwyl die werklike weeklikse in- en uitvoere van mielies en koring ook op ’n weeklikse basis gerapporteer word. Behalwe vir die werklike in- en uitvoersyfers, rapporteer SAGIS ook die intensies van in- en uitvoere van mielies. Hierdie verslag toon die mielie in- en uitvoere wat vir die agt weke na datum van publikasie beplan word.

In terme van die maandelikse inligting rapporteer SAGIS die werklike vraag-en-aanbodsyfers van die verskillende gewasse. Dit sluit aspekte soos die maandelikse verbruik en beskikbare voorraad van die verskillende gewasse in.

Ander instellings soos die Nasionale Landboubemarkingsraad doen op ’n maandelikse basis vraag-en-aanbodprojeksies deur gebruik te maak van onder meer die bostaande inligting om skattings te maak rakende wat verwag kan word vir die seisoen in terme van vraag en aanbod.

Ten slotte
Die nodige inligting wat die vraag en aanbod van die verskillende grane in die land beïnvloed, speel ’n belangrike rol in die optimale funksionering van die plaaslike graan- en oliesademark. Sonder hierdie tipe inligting word die mark in die duister gelaat en sal akkurate besluitneming vir rolspelers in die mark byna onmoontlik wees.

’n Ander belangrike aspek van hierdie tipe inligting, is die feit dat dit reeds vir ’n lang termyn beskikbaar is. Dit bied nie net die geleentheid om die nodige skattings vir ’n spesifieke seisoen te maak nie, maar dit kan ook suksesvol gebruik word om beter kennis rakende die mark te bekom en die funksionering van die mark te bestudeer.