Vir ingeval of vir seker nodig?

Gebpubliseer: 5 Mei 2023

404

Pieter Taljaard
HUB, Grain SA pieter@grainsa.co.za

Ons het gesien hoe rolspelers in die waardeketting tydens, maar veral na Covid, voorraad begin bestuur het op die beginsel van “net vir ingeval” (just in case) eerder as die meer optimale, koste-effektiewe en beproefde beginsel van “net betyds” (just in time). So was daar verskeie ander (nood)-maatreëls wat besighede moes implementeer in die strewe om te oorleef.

Dit bly egter moeilik om presies te bepaal wat die uiteindelike impak op koste en verbruikersinflasie was. Plaaslike dienslewering- en infrastruktuurbeperkings het die gegewe internasionale situasie vermenigvuldig en die bekostigbaarheid van basiese voedsel bly sekerlik ons land se grootste enkele uitdaging en risiko.

Almal weet werkskepping is die antwoord, maar hoe gedaan op ’n skaal wat werklik ’n impak kan maak? Verder is die mees onlangse verslag van Statistieke SA aangaande die profiel van ouer persone tussen 2012 en 2021 iets wat die oë kan en móét laat rek. Ons sien al vir baie jare die impak hiervan in ontwikkelde lande en ewe skielik is dit op eie bodem ook gedeeltelik ’n realiteit. Die verouderingsindeks meet die getal persone oor die ouderdom van 60 vir elke 100 kinders onder die ouderdom van 15. Die indeks het van 2017 tot 2022 van 30 tot 33 gestyg. Dit beteken die bevolking het effens ouer geword met die mees onlangse meting van 33 persone oor 60 per 100 kinders onder 15.

Demografies wissel die indeks egter drasties van 24 vir die swart popu­lasie, 43 onder die bruin bevolking, 78 in die geval van Indiërs en 181 vir die blanke bevolking. Die grootste verandering in die afgelope vyf jaar was onder laasgenoemde groepe­ring wat gestyg het van 155 in 2017. Dit het ’n impak op versorging, toekomstige familie-ondersteuning en uiteindelik die vermoë om voldoende voedsame voedsel te kan bekostig.

Net soos die negatiewe, is daar ook steeds ongelooflik baie positiewe geleenthede in ons land. Die vraag bly egter hoe ons kan aanhou om die geleenthede te ontgin en wat nodig is om die skaal in die positiewe rigting te bly trek. Die geskiedenis het bewys dat samewerking die enigste werkbare uitweg is. Wat ons ook die afgelope paar maande by Graan SA gesien het, is dat sterk besigheidsbeginsels, gekoppel aan goeie en etiese fundamentele waardes, nodig is om sterk organisasies/besighede te skep. Dit is egter redelik maklik (dalk soms makliker gesê as gedaan) vir sulke sterk besighede en organisasies om ander entiteite waarmee hulle in aanraking kom te beïn­vloed en te help en so­doende op te trek na dieselfde etiese en effektiewe vlak.

Na my mening is dit wat nodig is om te doen – van die eenmansaak tot en met die grootste besigheid, van die kleinste tot die grootste organisasie in die land. Dit is die enigste uitweg om naastenby op die lange duur volhoubaar te kan wees.

Die realiteit is dat internasio­nale mededinging groot is: Elke land veg nie net vir sy eie voortbestaan nie, maar kompeteer globaal vir hulpbronne. Ons as Suid-Afrikaners besef egter terdeë dat die speelveld nie oral ewe gelyk is nie en daarom is dit nodig om voortdurend nuut te bly dink oor hoe ons in die toekoms kan bly wen.

Dit herinner my net weer aan die goue­draadboodskap van eksterne sprekers wat ons gedurende die pas afgelope Graan SA Kongres ontvang het: “Wat jou tot hier gebring het, gaan jou vir seker nie daar voor uitkry nie.” In landbou weet ons gelukkig die veiligheidsgordel moet altyd vas bly, maar ons het almal se oopkop­denke, insette en betrokkenheid nodig!