Die toekoms van gars as wintergraangewas in SA

252
Luan van der Walt
Landbou-ekonoom, Graan SA,
luan@grainsa.co.za
Ruan Schutte
Junior landbou-ekonoom en bemarker, Graan SA,
ruan@grainsa.co.za

09|05|2019

Soos met alles in die lewe, vind daar ook ontwikkeling en groei in die wintergraanmarkte plaas. Verbeterde tegnologie en nuwe kultivars het verhoogde en beter opbrengste tot gevolg. Die groot vraag is egter: Waarheen is ons op pad met wintergraan?

’n Visie en doelwit waarheen gewerk word en wat bereik wil word, is nodig om aktief by die skepping van ’n blinker toekoms betrokke te raak.

Waar was die garsbedryf?
Suid-Afrika het in 1936 begin gars produseer. Aanvanklik was dit ’n baie klein gewas in die wintergraangebied wat toe nog deur koring gedomineer is. In die daaropvolgende 80 jaar het die gewas gegroei en vandag word produksie beperk met kwotas wat die produsent verhoed om te veel gars te produseer.

Teenoor die sowat 43 000 ha gars wat in 1936 aangeplant is, met ’n produksie van slegs 32 000 ton, is daar in die 2017/2018-seisoen 91 380 ha gars aangeplant en 307 000 ton is geproduseer. Opbrengste het verbeter vanaf 0,74 t/ha tot 3,4 t/ha.

Opbrengste was nog onder 1 t/ha tot en met 1980, maar daarna het dit drasties begin verbeter. In 1978 het Sensako ’n program begin om die beskikbare kommersiële kultivars te evalueer. Die program se doel was om soveel as moontlik verskillende kultivars uit die buiteland te evalueer om sodoende ’n verskeidenheid van variëteite te identifiseer wat suksesvol in die Suid-Kaapse garsproduserende gebied gekweek kon word.

Die program het die gewenste resultate gelewer en produksie het as gevolg daarvan dramaties verhoog.

Waarheen is gars op pad?
Hierdie groei in opbrengs die afgelope aantal jare, asook die feit dat gars een van die winsgewendste gewasse in die winterreënvalgebied is, het gelei tot ’n verhoging in die tonnemaat wat gelewer word, met die gevolg dat invoere afgeneem het.

Die behoefte aan moutgars vir die 2019/2020-seisoen is 405 000 ton in vergelyking met die voorneme om te plant van 495 000 ton. Die kritiese vraag op hierdie stadium is dus: Indien die produksie van die gewas so groei dat Suid-Afrika ’n surplus begin toon, wat is die plan met die ekstra produksie?

Waarna gesoek word, is alternatiewe, konstante en groter uitvoermarkte. Daar is gelukkig heelwat lande in die wêreld wat garsinvoerders is, soos Saoedi-Arabië, China, Iran, Nederland, België, Japan, Duitsland en vele meer.

In Grafiek 1 kan waargeneem word dat die produksie van gars en die verbruik daarvan baie na aan mekaar beweeg. Daar kan ook gesien word dat die verbruik gedurende die afgelope drie seisoene hoër was as die produksie.

Dit beteken dat die wêreldvoorraad besig is om af te neem. Daaruit kan afgelei word dat daar wel ’n goeie mark internasionaal vir uitvoere bestaan omdat voorraadvlakke mettertyd verlaag.

Wêreldgarsvoorrade het vanaf 28,24 miljoen ton in die 2010/2011-seisoen afgeneem tot 23,8 miljoen ton in die 2018/2019-seisoen. Die verbruik van gars het vanaf die 2010/2011-seisoen van 137 miljoen ton toegeneem tot 143 miljoen ton in die 2018/2019-seisoen.

Uit- en invoerders van gars
Grafiek 2 toon die toptiengarsinvoerlande in die wêreld aan. Die grootste invoerders van gars is Saoedi-Arabië en China. Beide voer gemiddeld meer as 5,5 miljoen ton gars per jaar in.

In Grafiek 3 kan die grootste garsuitvoerders gesien word. Australië en Frankryk word aangedui as die wêreld se grootste garsuitvoerlande. Beide hierdie lande voer gemiddeld meer as 5,5 miljoen ton gars per jaar uit. Uitvoere van gars was in die 2010/2011-seisoen 14,73 miljoen ton en het mettertyd toegeneem na 23,8 miljoen ton in die 2018/2019-seisoen. Dit is ’n aansienlike toename.

Prysneigings
Die gars wat in Suid-Afrika op ’n kontrakbasis geproduseer word, se prys is ’n afgeleide van die koringprys. Indien die plaaslike produksie die gekontrakteerde hoeveelheid gars oorskry, beteken dit dat die surplusmoutgars in die veevoermark verkoop moet word wat ’n laerwaardemark is. Dit kan moontlik ’n negatiewe impak op die produsent se winsgewendheid hê.

Indien die garsproduksie in Suid-Afrika aanhou toeneem en die totale produksie oorskry die gekontrakteerde behoeftes, beteken dit dat die surplusgars in Suid-Afrika sal bly toeneem – wat die belangrikheid van alternatiewe markte vir gars in die kollig plaas.

Die alternatiewe markte sluit in: Meer of ander kopers van moutgars, die veevoermark of garsuitvoere. Tans word die surplusgars wat binnelands geproduseer word in die veevoermark verkoop. Die plaaslike voergarsprys moet dus met die internasionale pryse vergelyk word om vas te stel wat die uitvoerwaarde van gars is.

Grafiek 4 toon die maandelikse gemiddelde vry-aan-boord- (v.a.b.-)garsuitvoerprys vanaf Australië en Frankryk asook die gemiddelde Suid-Afrikaanse voergarsprys. Aangesien die Australiese en Franse voergarspryse v.a.b.-pryse is, is dit ’n goeie aanduiding van die prysvlakke waarteen die plaaslike gars verkoop moet word om dieselfde relatiewe waarde as die gars in hierdie lande te hê wanneer dit uitgevoer word.

Dit is duidelik dat die plaaslike voergarsprys sedert 2012 redelik in lyn was met die internasionale uitvoerpryse. Gedurende hierdie tydperk was die plaaslike voergarsprys meestal laer as die internasionale uitvoerpryse tot en met einde 2015 vanwaar die tendens weer gedraai het.

Met die voergarsprys wat so na aan Australië en Frankryk se uitvoerpryse verhandel, moet die prys noukeurig dopgehou word voordat daar net besluit word om uit te voer. Die mark dikteer die mees voordelige opsie en moet daarom konstant in ag geneem word.

Ten slotte
Met die ontwikkeling en groei in die wintergraanbedryf, is dit belangrik om na alternatiewe markte te kyk en om voortdurend potensiële nuwe afsetgebiede te ondersoek. Omdat die tegnologie en kultivars voortdurend ontwikkel, het dit in gunstige seisoene verbeterde opbrengste tot gevolg.

Beperkte kwotas verhoed produsente om alles wat geproduseer word as moutgars in Suid-Afrika te lewer. Daar is egter tans ’n afname in die wêreldvoorraad wat geleenthede aan Suid-Afrikaanse produsente bied om nuwe markte te betree waar surplusproduksie verhandel kan word. Dit skep dus nuwe geleenthede om die bedryf te laat groei en ’n nuwe visie en doelwitte vir garsprodusente te skep.

Uitvoermarkte bied geleenthede om beter pryse vir gars te behaal as wat die plaaslike voergarsmark mag inhou. Dit gesê, moet die invloed op die prys vanuit die wêreldmarkte konstant dopgehou word sodat daar slegs tydens die mees voordelige vensterperiodes aan buitelandse markte verkoop word.

Produsente kan die nuwe wêreldmarkte betree, maar daar moet bemarkingstrategieë in plek wees sodat winste nie met die skommeling van wêreldmarkpryse en -behoefte verlore gaan nie.

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar egter geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van hierdie inligting nie.