Aanbevelingskaarte: Hoe fyn behoort die interpolasie te wees?

Gepubliseer: 2 Julie 2024

82
Johan Jordaan, bemarkingsbestuurder, Bastion Lime

Esmond Coen, bestuurder: Ag Solutions, Case IH

Die sentrale graanverbouingsareas beleef tans ’n groot uitdaging as gevolg van vinnig toenemende ondergrondse versuring.

Hierdie situasie kan toegeskryf word aan onoordeelkundige kunsmisgebruik asook oorbemesting met stikstof. Die probleem word vererger deur swak en selfs verkeerde monsternemingstegnieke wat lei tot onakkurate toedieningskaarte.

Dit is van kardinale belang dat daar nie net ’n vlak bogrondse monster geneem word nie, maar dat monsters op verskillende dieptes geneem word om te sien waar die werklike probleem lê. Die reaksie op ’n kalktoediening, die kwaliteit van kalk asook die fynheid van die kalk kan vir eers geïgnoreer word aangesien dit net so goed is soos die inligting wat ingesamel is.

Terratek het ’n studie gedoen waar monsters in lande op ’n 0,5 ha-roosterpatroon geneem is. Tydens die verwerking is die data verminder om sodoende ’n datastel te hê wat op ’n 0,5 ha-, 1 ha-, 2 ha- en 4 ha-rooster voorgestel kan word. Daar is vergelykings gemaak tussen die werklike ontledings en die verwerkte data om die persentasie van akkuraatheid vas te stel teenoor die kostekomponent van die hoeveelheid ontledings. Daarna is aanbevelings gemaak op elke datastel en die aanbevelings is geëvalueer. Die slotsom was dat ’n 1 ha-rooster die mees ekonomiese en geskikte rooster is om op die meeste gronde te gebruik.

Tradisioneel was die gewone boeremonster ’n aanvaarbare metode om monsters in ’n land te neem. ’n Studie deur Cobus Burger van NviroCrop het getoon dat tot 321 ton (35%) meer kalk toegedien word op ’n 357 ha-land indien die boeremonstermetode gebruik word in vergelyking met ’n goeie 1 ha-roostermetode. Verder kan die impak ook bereken word op die hoeveelheid hektare wat nié die regte hoeveelheid kalk gekry het volgens die grond se behoefte nie.

Produsente se insetkoste verhoog jaarliks teen ’n baie vinniger tempo as wat die produkpryse verhoog. Gevolglik is daar voortdurende margedruk en moet daar gepoog word om maksimum opbrengs op be­legging in kalktoediening te verdien.

Vandag beweeg al hoe meer produ­sente na presisieboerderypraktyke en ’n akkurate aanbevelingskaart is van kardinale belang om die bes moontlike opbrengs op kapitaal gespandeer te verseker. Die produsent wil seker wees dat sy opbrengste sal verbeter waar hy wel kalk toegedien het vir die komende seisoen. Kalk beweeg in wese stadig deur die grondprofiel en aanpas­sings moet gemaak word om seker te maak die kalk kom by die geaffekteerde area uit, hetsy met gipsmengsels, gebruik van hidrok­siede of deur kalkplasing. Daar kan ook gefokus word op die inwerk en vermenging van die kalk met die grond.

Toediening van kalk
Hier speel die oplosbaarheid of fynheid van kalk ’n groot rol. By kalktoediening word na die volgende aspekte gekyk:

  • pH gekombineer met uitruilbare suurheid en suurversadiging van die gronde.
  • Plantvoedingstowwe soos kalsium (Ca) en magnesium (Mg) se beskikbaarheid vir opname deur die gewas se wortelstelsel.
  • Om fisiese eienskappe van die bogrond te beïnvloed om struktuurloosheid en/of dan die toeslaan van bogrond na ’n goeie reënbui te hanteer.

Die bostaande drie punte kan alles met een bekalkingsaksie getakel word. Moet dus nie net vir pH bekalk nie, want die beskikbaarheid van bostaande nutriënte asook goeie bogronddeurlugting beïnvloed ook opbrengsresultate. Grondontledingsinligting word aanbeveel by besluitneming ten opsigte van die hoeveelheid kalk asook tipe kalk wat toegedien moet word.

Om die maksimum effek van regstellings te bewerkstellig, is dit duidelik dat die regte inligting ingesamel en verwerk moet word. Dit is ewe belangrik om die plasing van die kalk en/of gips op die regte plek in die regte hoeveelhede op die land te kry.

Met die gevorderde toerusting wat beskikbaar is, moet onthou word om die kompleksiteit van die data te verminder om die praktiese uitvoering en toediening daarvan te vergemaklik.

Dit gebeur gereeld dat die data wat op toerusting ingevoer word te kompleks is vir die effektiewe interpretasie en verwerking daarvan. Daar moet in gedagte gehou word dat die toerusting gelyktydige berekenings moet doen ten opsigte van die aanbevelingshoeveelheid, geografiese lokaliteit, spoed van toerustingbeweging en spoedaandrywing van die toedieningstoerusting. Dit is waarom die aanbevelingsinligting so eenvoudig, effektief en so klein as moontlik in die aanbevelingsdatastel ingevoer moet word om die interpretasie daarvan deur die toerusting te vergemaklik.

Die algemene dataformaat wat gebruik word, is ESRI se Shape- of SHP-lêers. Die aanbevelingsdata kan in rooster- of kontoerformaat uitgeskryf en aangebied word. Die volgende moet in ag geneem word waar daar beperkings is op datagrootte en aantal entiteite (poligone) wat deur monitors op toerusting aanvaar kan word. Die Pro 700/IntelliView 4-monitors kan net 2 000 poligone (areas) en 500 lyne se attribuutinligting per datastel lees, met die Pro 1200/IntelliView 12 wat 20 000 poligone per datastel kan lees en interpre­teer. ’n Poligoon sal ’n geografiese area wees wat deur die datastel aangedui word.

Indien ’n 10 m x 10 m-rooster gebruik word vir die interpolasie van die aanbevelingsdata, beteken dit dat daar 100 poligone in een hektaar sal voorkom. Indien die land 100 ha groot is, sal daar 10 000 poligone in die land voorkom wat die poligoonbeperking gaan oorskry vir die Pro 700/IntelliView 4-monitors. In die geval van ’n 200 ha-land sal daar 20 000 poligone wees wat die poligoonbeperking vir die Pro 1200/IntelliView 12 gaan oorskry.

As ’n toediening op die 10 m x 10 m-poligoonrooster teen 12 km/h gedoen word, sal dit die area binne drie sekondes oorsteek en teen 18 km/h in twee sekondes. Soos reeds genoem, is daar baie berekenings en verstellings wat gedoen moet word op die toerusting om die regte hoeveelhede op die regte plek toegedien te kry. Indien opeenvolgende poligone dieselfde toedieningshoeveelheid het, sal die toerusting die waarde weer bereken en verstellings probeer maak om die regte toediening te bewerkstellig. Dit is duidelik dat onnodige hoeveelhede ekstra las op die toerusting plaas sonder dat dit nodig of van waarde is.

Die aantal inskrywings in die attribuutdata vir die data aangedui in Figuur 1 is 8 025 lyne. Daar word aanbeveel dat die aanbevelingsdata uitgeskryf word in kontoerformaat waar al dieselfde toedienings­hoeveelhede saam as een poligoon of as meervoudige poligone uitgeskryf word. Dit veroorsaak dat die datastel eenvoudiger en kleiner is en dus makliker verwerkbaar vir die toerusting. Indien data in die roosterformaat ontvang word, kan ’n geoprosesseringsfunksie (dissolve- of oplosfunksie) gedoen word waar die aaneengrensende poligone van dieselfde toedieningshoeveelhede saamgesmelt word om die totale hoeveelheid poligone te verminder.

Figuur 1: ’n Voorbeeld van data in roosterformaat.

Met dié funksie kan die aantal lyne van attribuutinligting in roos­terformaat (Figuur 1) verminder word vanaf 8 025 tot net 16, soos aangedui in Figuur 2. Die toerus­ting vertolk die attribuutinligting as toedieningspeile, want dit moet met elke poligoon gelees word. Met hierdie wyse van aanbieding of voorbereiding van die aanbevelingsdata word die werkslas op die toerusting verminder en komplikasies met data amper heeltemal uitgeskakel. Dit sal meebring dat die regstellingswerk vir die produsent met minder komplikasies uitgevoer kan word.

Figuur 2: ’n Voorbeeld van data in roosterformaat waarop die oplosfunksie gedoen is.