Graan SA op grondvlak in gesprek met lede

    Dirk Kotzé, ledebemarking- en kommunikasiebeampte, Graan SA en
    Toit Wessels, assistent-bestuurder: NAMPO en Bemarking, Graan SA

    1271
    Alzena Gomes Skakelbeampte, Graan SA alzena@grainsa.co.za

    Met ’n onseker seisoen wat die weer en reënval betref, het die jaarlikse Graan SA-streeksvergaderings vol verwagting by Agri Delmas Lapa afgeskop. Die vergaderings het ten doel om graan-, mark- en heffingsinligting asook die fokusareas van die organisasie aan die produsente deur te gee. Probleme wat in die onderskeie streke ondervind word, word dan ook met Graan SA se dagbestuur gekommunikeer.

    Alhoewel daar by sommige ’n afname in bywoning was, wat moontlik toegeskryf kan word aan die laat seisoen en die feit dat produsente in sommige streke nog bedrywig was om te plant of oor te plant as gevolg van die weerstoestande, is die vergaderings oor die algemeen goed bygewoon.

    Die hoofpunt van bespreking tydens vanjaar se vergaderings was die heersende droogte. Tydens vergaderings in die weste was produsente baie bekommerd oor die pad vorentoe, aangesien die reën maar skaars en baie laat was. Ongeag die moeilike toestande was die produsente positief teenoor Graan SA en het lede ook hulle dank uitgespreek teenoor die organisasie en die werk wat gedoen word. Lede was dit eens dat meer produsente betrokke moet raak en heffings moet betaal. Daar was ook tydens die vergaderings geleentheid vir lede om sake te opper wat tydens Kongres bespreek moet word.

    Die stand van die bedryfsheffings tot op datum ontvang asook die lede­statistiek per streek is aan die lede deurgegee. Die heffings per streek ontvang teenoor die potensiaal per streek was veral insiggewend gewees.

    Lede is ook weer aangemoedig om die Joyn-app af te laai en daar is tydens die vergaderings ’n kompetisie hieraan gekoppel. Die wenners is aan die einde van die vergaderings aangewys. Joyn verskaf ’n elektroniese lidmaatskapskaart en lede moet daarop let dat hul NAMPO 2019-kaartjies slegs op die lidmaatskapskaart verkrygbaar gaan wees.

    Tydens die vergaderings is daar ook ’n aanbieding deur mnr Gert Heyns van die South African Cultivar and Technology Agency (SACTA) gedoen oor die teling- en tegnologieheffing wat op 1 Maart vanjaar in werking tree.

    Graan SA spreek sy dank uit teenoor dié lede wat heffings getrou betaal.


    Suid- en Wes-Kaap

    Die streeksvergaderings in die Kaapprovinsie se drie streke is besonder goed deur lede bygewoon. Die vol gehore het verder uit insetverskaffers, landboubesighede, banke en die Departement van Landbou in die Wes-Kaap bestaan.

    Gassprekers by dié jaar se vergaderings was onder andere prof Matthew Roberts oor sy ondersoek na die werking van die vervoer­differensiaal en mnr Francois Koekemoer van Sensako met ’n voorlegging oor die vordering van die teling van hoëropbrengskultivars – veral in koring.

    Op Riversdal het mnr Michel Gildenhuys (hoofbestuurslid vir Streek 32) die voorsitterstoel ingeneem vir ’n goeie opkoms van lede in ’n gebied waar die 2018-seisoen geen oes tot baie ondergemiddelde oeste gelewer het. Produsente was nogtans positief oor graanproduksie in die gebied en het hul waardering uitgespreek vir die rol wat Graan SA speel tot volhoubare graanproduksie.

    By die vergadering op Rietpoel, met mnr Richard Krige (hoofbestuurslid vir Streek 27) aan die stuur, is produsente aan prof Matthew voorgestel, waarna die doel van sy besoek sowel as die JSE-befondsing daarvan, bespreek is. Die sessie was ’n interaktiewe geleentheid waar lede van die vergadering die kans gegun is om vrae aan die spreker te rig. Gevolglik het prof Matthew goeie en weldeurdagte antwoorde verskaf en kon die sessie goed gebruik word om die maksimum inligting te versamel vir die verslag wat voorberei moet word.

    Die laaste vergadering, gelei deur mnr André Kirsten (hoofbestuurslid vir Streek 26), was volgepak met produsente wat naarstiglik na antwoorde op die vervoerdifferensiaalkwessie gesoek het. Prof Matthew het beklemtoon dat die vervoerdifferensiaal nie soseer die probleem is nie, maar hy het eerder na markkragte en die tekort aan koringkopers in die Wes-Kaap verwys. Produsente Hennie Visser, Gert Claassen en Dawie Lombaard was net ’n paar van dié wat insiggewende bydraes gelewer het. Dit het alles bygedra tot prof Matthew se besef van die noodsaaklikheid om ’n vergadering oor die werking van die vervoerdifferensiaal te belê.

    Graan SA bedank al die produsente en gaste wat die 2019-streeksvergaderings kon meemaak en het groot waardering vir die borge wat die geleenthede moontlik gemaak het. Die produsente is vol hoop en geloof vir ’n lekker nat planttyd met mooi oeste wat deur genade kan realiseer.