Risikobestuur – deurslaggewend vir optimale beheer

Noelene Mostert, Villa Crop Protection
Gepubliseer: 8 September 2020

851

Dit is uiters belangrik om met vandag se praktyke risiko’s te minimaliseer en reg te bestuur. Die doel is om ’n vooruitsig te hê van die komende seisoen, veranderings te kan maak wanneer nodig en dus te verseker dat chemie volgens optimale potensiaal gebruik word. Villa verskaf ’n paar dienste en produkte wat spesifiek hiermee kan help.

Om presisieboerdery nog verder te verbeter, bring Villa in samewerking met Metos SA, weerstasies na die mark. So ’n stasie bied aan die produsent die nodige vooruitsigte om te help om ideale spuittoestande te identifiseer, insekmonitering te verseker, reën- en waterbestuur toe te pas en plantsiekte vooruitskattingsmodelle dop te hou vir die identifisering van moontlike siektes.

Dit word al hoe belangriker om voedingstekorte gedurende die seisoen dop te hou om sodoende optimale opbrengste na te jaag. Villa se NutriSolutions360-program stel die produsent in staat om gedurende die groeiseisoen deur middel van blaarmonsterneming moontlike tekorte op spesifieke fenologiese groeistadiums te identifiseer. NutriSolutions360 maak gebruik van satellietbeelde wat die beperkende faktore op ’n land kan uitwys.

Die MAX-IN-produkreeks, wat deel uitmaak van die Nutri­Solutions360-portefeulje, bevat ’n gepatenteerde byvoegmiddel, naamlik CornSorb-tegnologie. Hierdie tegnologie bevat ’n suikergebaseerde mengsel van ’n unieke benatter en herbenatter, wat tussen 25% en 50% meer mikro-elementopname verseker. Die benatter se eerste funksie is die verlaagde afhop van druppels en verhoogde bedekking. Die spesifieke benatter is ongelooflik effektief op hierdie vlak en baie minder druppels word deur afhop beïnvloed. Hoe meer druppels behou word, hoe meer aktiewe bestanddeel is vir opname beskikbaar.

Tweedens is die benatter se funksie verhoogde druppelverspreiding. Spuitdruppels moet versprei om ’n groter area op die blaar te bedek. Te veel verspreiding is egter soms ongewens, omdat daar ’n verdunningseffek kan wees.

Derdens fasiliteer die benatter die opnameproses en help om die waslaag op die blaar te hidreer sodat optimale opname kan plaasvind.

Die herbenatter in CornSorb se funksie is om die opnameproses nog verder te bevorder. Spuitdruppelneerslae word vir ’n langer tyd vogtig gehou, wat die tydsduur vir opname verhoog. Dit word bewerkstellig deur ’n langer afdroogtyd sowel as die vermoë om vog uit die omgewing te onttrek. Hierdeur word die opname en effektiwiteit van die gewasbeskermingsproduk nog verder bevorder. Die MAX-IN-produkreeks met CornSorb-tegnologie bestaan uit sewe produkte wat aandag gee aan voedingstekorte deur middel van die regte blaarbespuitings op die regte tyd vir die regte resultate.

Nog ’n goeie risikobestuursmiddel in die Villa-stal is INTERLOCK – ’n gepatenteerde byvoegmiddel wat die risiko van vermorsing van chemikalieë wat deur die spuitproses kan plaasvind, verminder. ’n Groot gedeelte van plaagdodertoedienings kan as gevolg van wegdrywing en verdamping van klein druppels verlore gaan. Dit het ’n direkte invloed op produksiekoste en oesopbrengs deur verlies aan plaagdoder binne die gewasteikenarea en moontlike gewasskade buite die teikenarea. Dit kan ook meer kompetisie van onkruide asook verminderde insek- en swambeheer tot gevolg hê, wat alles ’n negatiewe impak op oesopbrengs het.

INTERLOCK verskaf ’n oplossing vir die bogenoemde. Dis ’n unieke nuwegenerasiebyvoegmiddel wat die volume wegdryfbare fyn druppels in spuittoedienings verminder. Dit sluit voordele soos bedekking en diepte van blaredakindringing in, terwyl dit wegdrywing verminder. Plaagbeheer word dus verbeter met ’n gepaardgaande direkte positiewe effek op opbrengs.

Dit is maklik om die produk teen ’n lae dosis te gebruik. Dit verdik nie die spuitoplossing nie en veroorsaak nie mengbaarheidsprobleme nie. INTERLOCK verander nie die spuitpatrone van spuitpunte nie en kan met enige punte, insluitend luginlaattipes, gebruik word.

Villa wil graag in produsente se behoeftes voorsien met gehalteprodukte en datagedrewe insigte om struikelblokke te help takel. Aan die hand van relevante data kan die regte produk of spuit­program op die regte tyd met die regte toerusting gebruik word om sukses te behaal.

Villa, in samewerking met Metos SA, rig hierdie tipe weerstasies op wat produsente toelaat om ideale spuittoestande te identifiseer en te benut.