Foute met saadplasing kos ongesiens baie

1257

“Wat die oog nie sien, doen die hart nie kwaad nie.” Hierdie uitdrukking geld ook vir produsente ten opsigte van saadplasing en plantestand. Dit gebeur vinnig dat 10% van die opbrengs ingeboet word as gevolg van foutiewe saadplasing en die ergste is: Die produsent het dit nie eers geweet nie.

Baie planters is met die beste tegnologie toegerus, maar weens swak instandhouding werk hulle nie soos wat hulle moet nie. Pitte word soms nie opgetel nie, hulle word nie reg gespasieer nie of nog erger: Die planter plant twee pitte tegelyk. Pitte kan soms te na aan mekaar geplaas word en in ander areas weer te ver uit mekaar. Vir die blote oog lyk dit in orde, maar die plante dink nie so nie.

Die planter is egter nie noodwendig die sondaar nie – planterspoed speel ook ’n baie belangrike rol. As die planter te vinnig beweeg, kan die pitte hop en rol of erger nog, die interplantspasiëring word gerek. Die gevolg is dat minder plante per hektaar geplant word, wat lei tot ’n laer opbrengs en ’n verlies in die bank.

Daar is al verskeie proewe gedoen om hierdie verlies te kwantifiseer. Dit is egter nie so eenvoudig nie: Hoe beter die reënvalverspreiding, hoe kleiner is die verlies wat verwag word. In ’n moeilike jaar is die effek egter duideliker.

’n Proef is by Bothaville gedoen waar die effek van swak plantspasiëring getoets is. Die proef is in 1,3 m-rye uitgelê waar die sade met die hand geplant is om die regte spasiëring en plasing te kry. Die res van die bewerkings, bemesting en onkruidbeheer was orals dieselfde.

Die proef het drie handelings ingesluit:

  • ’n 100%-korrekte saadplasing waar die plantestand 30 000 plante/ha was of die interplantspasiëring 25 cm;
  • ’n 30 000 plantestand/ha waar die korrekte saadspasiëring 70% van die oppervlakte was; en
  • waar die plantestand 25 000 plante/ha of 30 cm uitmekaar gespasieer is.

Daar was reeds net na ontkieming al duidelike verskille tussen die behandelings. Die opvolgreën na opkoms was voldoende en betyds om ’n baie goeie opbrengs te verseker. Hierdie tydige reën behoort die effek van die verkeerde plantestand reg te getrek het, maar by die standproewe was die effek ten spyte van die goeie reënverspreiding steeds duidelik sigbaar.

Die jong plante wat teen mekaar geplant is, het van die begin af stres getoon. Dié jong saailinge was merkbaar geler as die ander plante. Die plante wat ver uitmekaar gestaan het, was ook opmerklik swakker. Hierdie waarneming is nie verklaarbaar nie – miskien was die effek van die wind dalk groter op hierdie plante as op die res.

Gedurende die spesifieke jaar was die reënvalverspreiding voldoende om ’n baie goeie oes te verseker.

Waar die plantestand gewissel het, was min verskille sigbaar. By die plante tussen die twee plantestandpersele kon op die oog af geen verskille waargeneem word nie. Dit het gelyk of die koppe ewe groot was, alhoewel daar eerder verwag is dat die koppe by die laer plantestand ’n bietjie groter sou wees. Op die ou end het die skaal gepraat.

Resultate van die plantestandproef
Tabel 1 toon die resultate van die verskillende spasiëring- en plantestandproewe. Alle bewerkings, onkruidbeheer en bemesting was by al die proewe gelyk en is op dieselfde manier gedoen.

Gegewe hierdie besonder goeie reënvaljaar is verwag dat die rol van plantspasiëring dalk nie so groot sou wees nie. Die resultate vertel egter ’n ander storie. Waar daar algemeen verwag is dat die laer plantestand se gemiddelde kopmassa baie groter as die res moes wees, was dit nie heeltemal die geval nie.

Daar was geen beduidende kopmassaverskille tussen die normale plantestand en die laer plantestand nie. Hierdie is dalk ’n aanduiding dat die gewas sy optimale kopgrootte gegewe die reënval en bemesting bereik het.

Die gemiddelde kopmassa van die swak gespasieerde plantestand (30 000 plante) was 9,41% laer as die reg gespasieerde plantestandaanplanting (30 000 plante). Gegewe die klimaat en bemesting is hierdie opbrengste dalk aan die bokant van dit wat bereik kon word. Hierdie kopgewigte verklaar die 0,69 t/ha opbrengsverskil. In droër produksiejare kan verwag word dat hierdie verskille heelwat groter sal wees.

Wat die opbrengsverskille tussen die 30 000-stand en die 25 000-stand verklaar, is die hoeveelheid koppe per meter. By die 30 000-plantestand was daar gemiddeld 6,83 koppe per meter. By die 25 000-plantestand was daar net 6,00 koppe per meter. Dit verduidelik die 0,86 t/ha-verskil tussen die behandelings. In droër produksiejare kan hierdie verskille dalk kleiner word.

Ekonomiese evaluering van die proefresultate
Opbrengs is een ding, maar wat het dit die produsent gekos om die graan te produseer? In Tabel 2 word die ekonomiese resultate getoon. Daar is aanvaar die waarde van die graan is R2 000/ton en die koste per mieliepit R0,04.

Die inligting in Tabel 2 toon duidelik dat die marge in hierdie proef deur die opbrengs en koste per hektaar gedryf word. Hoe hoër die opbrengs, hoe hoër die inkomste. Die marge bo die saadkoste word deur die inkomste en die saadkoste per hektaar bepaal.

Waar die stand reg geplant is en die stand 30 000 plante/ha was, is die marge bo saadkoste R13 961,82/ha. Dit is R1 380,55 (10,02%) meer as waar die spasiëring nie reg was nie en R1 518,05 (11,29%) meer as waar die stand per hektaar laer was.

Moet nooit sommer net aanvaar ’n planter plant reg nie. Planterbakke moet eerder na spesialiste soos Cerealis Precision op Lichtenburg geneem word waar die bakke getoets en herstel kan word. ’n Werktuigkundige behoort ook die planter voor die seisoen goed deur te gaan en veral die elektronika moet nagegaan word. Dit sal verseker waarde vir geld bied.

Laaste, maar nie die minste nie: Oorweeg dalk die aanskaf van nog ’n planter. Dit sal die druk op die ander planters verlig en sodoende kan daar teen die regte spoed geplant word.

Vir meer inligting skakel Pietman Botha by 082 759 2991.