Rywydtes by mielie-produksie onder die loep

Mauritz van Heerden, Pioneer

1136

“Wat is die regte rywydte en dra nouer rye werklik by tot hoër opbrengste?” is algemene vrae wat deur mielieprodusente gevra word.

Om hierdie vrae te beantwoord, is dit belangrik om eers te kyk na verskeie faktore wat ’n bydrae kan lewer tot besluitneming rakende rywydte:

  • Watter populasie moet geplant word?
  • Is nouer rye die enigste pad om te stap en lei dit tot ’n hoër opbrengs?
  • Is spasiëring belangriker as populasie?
  • Wat van droogtestremming by hoë populasies?
  • Die ekonomiese faset in die produsent se boerderybestuursprogram, soos byvoorbeeld wisselbou met sojabone.
  • Die invloed van omgewing en klimaat.
  • Die finansiële impak op meganisasieveranderinge.

Een van die groot probleme by sulke veranderlikes is dat produsente meestal baie vinnig veranderinge aanbring, sonder weldeurdagte beplanning. Hier word beweeg in ’n uiters wetenskaplike en hoëtegnologie-omgewing wat ’n impak het op bestuursbesluite. Dit lei tot veranderde toestande en nuwe agronomiese besluite. Meganisasie speel hier ’n belangriker rol as basterpotensiaal.

Plantpopulasie
Plantpopulasie is ’n baie belangrike faktor in besluitneming. Optimale plantpopulasie hang van baie faktore af, soos basterkeuse, vogstremming, klimaat, grondvrugbaarheid, grondpotensiaal en opbrengspotensiaal. Die eerste fout wat gemaak word, is dat produsente die aanname maak dat met nouer rye, hoër populasies geplant kan word en dat dit tot hoër opbrengste sal lei. Basters verskil ten opsigte van hoeveelheid en tipe blare asook blaarhoek en reageer verskillend op populasies wat optimale stand laat varieer. Daar is ook genetika wat kan aanpas met hul blaarhoek ten opsigte van stande. Blaarhoek gaan oor bestraling en huidmondjiebestuur.

Goeie opkoms en groeikragtigheid dra by tot goeie plantverspreiding en opbrengs. Goeie verspreiding lei tot meer effektiewe gebruik van beskikbare sonlig wat ’n groot rol speel by blaaroppervlakte/sonligkontak en ’n verhoogde fotosinteseproses. Vinniger skadu oor die grondoppervlakte verminder ook evaporasie en onkruiddruk. Indien evaporasie verlaag word, is transpirasie deur die plant beter.

Navorsing en proewe toon dat populasies kan verskil van seisoen tot seisoen, dus moet ’n optimale populasie vir ’n spesifieke omgewing per baster gebruik word. Saam met blaarhoeke speel die raamgrootte van die baster ook ’n belangrike rol. Hoër populasies in nouer rye kan vereenselwig word met basters wat minder, maar meer regop blare het. Waarna ook gekyk kan word, is die meerkoppige eienskappe van basters. Populasie is een van die belangrikste faktore tot opbrengs.

Nouer rye verhoog die afstand tussen plante in ’n ry, om potensiële verhoogde opbrengste daar te stel, omdat daar meer beskikbare ruimte en hulpbronne gebruik kan word. Belangrik vir nouer ryspasiëring in mielies, is dat die gewas die beskikbare lig, water en voedingstowwe beter kan benut. Dit vind plaas deur die samestelling van plante binne ’n ry te verminder, asook die kompetisie tussen individuele plante. Die wisselvalligheid van mielieopbrengsreaksie op nou rye wat in navorsingstudies waargeneem word, stel egter die vraag hoekom opbrengs in sommige rywydtes toeneem, maar nie in ander nie.

Blaaroppervlakte
Liginteraksie en die blaaroppervlakte-indeks per hektaar is belangrik by optimale plantfunksionering. In die aanwesigheid van water- of nutriëntebeperkings word opbrengs hoofsaaklik aangedryf deur die hoeveelheid sonstrale wat die mielie tydens die kritieke tydperk vir opbrengsbepaling – onmiddellik voor en na bestuiwing – onderskep.

Om die opbrengs te maksimaliseer, moet die mielieblaredak 95% of meer fotosinteties aktiewe straling ontvang gedurende hierdie tydperk. Mielies met ’n konstante digtheid kan ’n groter persentasie sonstraling onderskep wanneer dit in nou rye geplant word. ’n Genetiese faktor soos wortelontwikkeling kan ook ’n rol speel by in-ryspasiëring. Basters met vertikale en dieper wortelontwikkeling sal minder beïnvloed word deur kleiner in-ryspasiëring. Die ideale in-ryspasiëring by besproeiing behoort nie minder as 17 cm en by droëland minder as 23 cm te wees nie.

Regte basterkeuse
Die belangrikste aspek by opbrengs is die regte basterkeuse. Basters reageer verskillend tussen areas, grondpotensiale en omgewingstoestande. Langtermynproefdata vir ’n spesifieke omgewing en agronomiese inligting soos staanvermoë, siekteverdraagsaamheid, stam- en wortelomval is ook belangrik. Bestuurspraktyke wat ’n impak op plantpopulasierealisasie het, soos plantdatum, planterspoed, plantdiepte en onkruidbeheerprogramme moet verder in ag geneem word.

Suksesvolle en aangepasde omgewingsbestuurspraktyke sal definitief ’n positiewe impak op opbrengs hê. Rywydte moet ’n geïnkorporeerde besluit wees in die besluitnemingsproses, veral as dit in ’n wisselbouprogram met sojabone is.

Rywydtes
Navorsing en geskiedenis het bewys dat rywydtes ’n komplekse beginsel is met verskeie interaktiewe faktore. Meerjarige navorsing deur Pioneer het bewys dat nouer rye nie noodwendig beperk is tot spesifieke gewasse vir maksimum produksie nie. Navorsing het ook bewys dat daar nie ’n opbrengsverlaging is as nouer rye gebruik word nie.

Die identifisering van omgewings- en agronomiese faktore wat geneig is om kleiner rye te bevoordeel, kan help om die beste besluit vir die praktyk in huidige en toekomstige mielieproduksiestelsels te bepaal. Belangstelling bly egter nog steeds grootliks te wyte aan die oortuiging dat voortgesette toenames in mielieopbrengs en veranderende agronomiese praktyke, uiteindelik nouer rye kan bevoordeel.

Die regte besluit behoort tog die mees ekonomiese en haalbare bestuursplan te wees, wat optimale opbrengs sal stimuleer.