Inflasie se impak op die plaaslike verbruiker

Gepubliseer: 7 November 2022

2009
Heleen Viljoen, junior landbou-ekonoom, Graan SA, heleen@grainsa.co.za

10/10/2022

Inflasie word beskryf as ’n styging in die vlak van pryse van goedere en dienste wat huishoudings oor ’n gegewe tydperk aankoop. Dit word gemeet as ’n persentasie wat die tempo van verandering van daardie pryse uitbeeld.

Die bekendste makro-ekonomiese aanwyser wat gebruik word om inflasie te bepaal, is die Verbruikersprysindeks (ook bekend as die Consumer Price Index of CPI). Inflasie, tesame met rentekoerse, speel ’n integrale rol in enige makro-ekonomiese omgewing.

Reserwebanke wat verantwoordelik is vir die implementering van monetêre beleid, bestuur ook lande se inflasiekoers. Rentekoerse is een van die strategieë wat reserwebanke gebruik om inflasie te bestuur. As die reserwebank van mening is dat die inflasie buite ’n vasgestelde stabiele bandwydte beweeg, word daar gewoonlik aanpassings gemaak aan die repokoers (rentekoers waarteen kommersiële banke geld by die reserwebank leen). In Suid-Afrika is die teikeninflasiekoers soos deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) vasgestel, tussen 3% en 6%.

Internasionale faktore
In die periode vanaf 2020 tot en met 2022 is ekonomiese omgewings beïnvloed deur verskeie onvoorsiene wêreldgebeurtenisse met oorspoeleffekte wat tans besig is om ekonomiese besluitneming te beïnvloed. Die Russiese inval in Oekraïne wat gelei het tot wêreldvrese rakende voedseltekorte; die COVID 19-pandemie en gepaardgaande wêreldwye inperkings; wydverspreide droogtetoestande in sleutel- graanproduserende lande asook handelsbeperkings op sleutelkommo­diteite veroorsaak vrese vir verhoogde inflasiekoerse wêreldwyd.

Figuur 1 verwys na ’n opname wat deur die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OECD) gedoen is vir 44 ekonomies betekenisvolle lande. In 37 van die 44 lande het die gemid­delde jaarlikse inflasiekoers in die eerste kwartaal van 2022 verdubbel teenoor die eerste kwartaal van 2020 toe die COVID 19-pandemie die wêreld geannekseer het. Uit die lande wat ingesluit is, het Turkye verreweg die hoogste inflasiekoers­ in die eerste kwartaal van 2022 gehad: ’n ooglopende 54,8%. Turkye ervaar reeds jare lank hoë inflasie, maar die inflasiekoers het laat in 2021 opgeskiet soos wat die regering onortodokse ekonomiese beleid gevolg het, byvoorbeeld om rentekoerse te verlaag eerder as om dit te verhoog.

Figuur 1: Jaarlikse inflasiekoerse vir die eerste kwartaal van 2022.
Bron: Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OECD).

Bogenoemde faktore het daartoe gelei dat die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) se Voedselprysindeks (FPI), wat ’n internasionale maatstaf van verandering in pryse vir ’n mandjie van voedselkommoditeite is, gedurende Maart 2022 ’n historiese hoogtepunt bereik het. Nietemin is die FPI in Augustus 2022 bereken op 7,9%, met die indeks wat oor die afgelope vyf maande geleidelik gedaal het. In Augustus 2022 het al vyf subindekse ook ’n afname getoon (-3,3% maand op maand vir die olieprysindeks; -2,1% maand op maand vir die suikerindeks; -2,0% maand op maand vir die suiwelprodukindeks; -1,5% maand op maand vir die vleisindeks; en -1,4% maand op maand vir die graanprysindeks).

Wat beteken dit vir die verbruiker?
’n Toename in die pryse waarteen verbruikers produkte aankoop, veroorsaak dat die relatiewe koopkrag van die plaaslike geldeenheid daal, aangesien dieselfde hoeveelheid geld nou minder van dieselfde produk of diens kan koop. Sedert 2020 is die plaaslike ekonomie onder geweldige druk, wat oorspoel na ander aspekte van die mark. Hoër inflasiekoerse en gevolglik swakker ekonomieë het swak indiensnemingsyfers tot gevolg. As daar nie genoegsame groei in die plaaslike ekonomie plaasvind nie, word daar nie nuwe werksgeleenthede geskep nie. Dus word die algemene verbruiker onder druk geplaas wat hul besteebare inkomste betref.

Proteïengebaseerde produkte
Proteïengebaseerde produkte word beskou as luukse produkte wat gepaard gaan met hoër besteebare inkomste. In wêreldterme het die FAO se vleisindeks maand op maand (Augustus 2022 teenoor Julie 2022) met 1,5% gedaal. Jaar op jaar het die indeks egter met 8,2% gestyg. In die plaaslike mark was daar ook toenames in rooivleispryse. Prysstygings is aangedryf deur ’n afname in uitset deur die rooivleiswaardeketting. Pluimveepryse het ook jaar-op-jaar-stygings ervaar. Beide pluimvee- en rooi­vleispryse is onder druk geplaas deur aansienlik hoër voerkoste, verhoogde siekterisiko’s (internasionaal het sleutelproduksie­streke in die pluimveebedryf siekte-uitbrekings ervaar) asook ’n swak wisselkoers.

Styselgebaseerde produkte
Jaar op jaar het die FAO se graanindeks met 11,4% gestyg, terwyl plaaslike brood- en graanprysinflasie met 17,8% toegeneem het. Navorsing wat deur die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) gedoen is, dui aan dat hoë graanpryse drie tot vier maande neem om na verbruikerspryse deur te syfer. Hoë kommoditeits­pryse is egter ook die gevolg van aanhoudende droë toestande in sleutelproduksiestreke in die Noordelike Halfrond. Plaaslike kommoditeitspryse word verder ondersteun deur ’n verswakkende wisselkoers en vrese van wêreldwye ekonomiese agteruitgang.

Gevolgtrekking
Hoër inflasie en gepaardgaande swakker koopkrag veroorsaak dat verbruikers in baie gevalle wegbeweeg van luukser produkte (proteïengebaseerde produkte) na meer noodsaaklike produkte (styselgebaseerde produkte). Styselprodukte sluit hoofsaaklik mielies en koring as kommoditeite in. Vir die 2022/2023-produksieseisoen word daar reeds ’n afname in produksie vir beide hierdie kommoditeite voorspel. Dit kan saam met ’n hoër vraag na styselprodukte op die langer termyn ondersteuning aan die plaaslike kommoditeitsmark bied.

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van die inligting nie.