Groen is steeds ’n wenkleur…

Gepubliseer: 12 Junie 2020

2362
Alzena Gomes
skakelbeampte, Graan SA
alzena@grainsa.co.za

Die opgewondenheid was tasbaar toe die dreuning van ’n droom uiteindelik op die plaas Klipdrift gehoor kon word. Andries van der Pohl, die 2019 Graan SA/Absa/John Deere Financial Nuwe Era Kommersiële Boer van die Jaar, het in ekstase toegekyk hoe sy splinternuwe John Deere 5075E MFWD-trekker, geborg deur John Deere Financial, op Maandag 10 Februarie 2020 afgelewer word.

Met die laaste paar moeilike seisoene in die Moorreesburg-distrik, het Andries en sy vrou, Jacky, hulle waardering uitgespreek vir die werk wat Graan SA deur sy landbouontwikkelingsprogram en studiegroepe doen. Andries het reeds planne beraam vir dié nuutste toevoeging tot die boerdery: “Ons het ’n klein trekkertjie nodig op die plaas om al die sleepwerk te doen, die voere uit te ry en die voermenger te trek – so hy gaan basies elke dag een van die trekkers wees wat die meeste werk gaan verrig.”

Andries en Jacky van der Pohl en hul seun, Jacqeuon, by hulle splinternuwe John Deere 5075E MFWD-trekker, geborg deur John Deere Financial.

AFGRI Malmesbury het die trekker afgelewer en terselfdertyd ’n oorsig van sy spesifikasies en vermoëns verskaf. Juan Schreuder van dié AFGRI-tak, as naaste dienssentrum, het aan Andries die nodige opleiding gegee om sodoende die beste uit hierdie wonderlike prys te haal.

Andries het die beoordeling van die Nuwe Era Kommersiële Boer van die Jaar-kompetisie met selfvertroue aangepak en is vol lof vir die proses waarvan hulle deel was. “Ons was gemaklik met die hele proses, want ek glo voorbereiding is uiters belangrik in enige iets wat jy doen. Om voorbereid te wees, kweek selfvertroue. Ek weet ons is op die regte pad. Selfs met ’n paar regstellings hier en daar waar nodig, weet ons wat dit is en waarheen ons op pad is,” het Andries gesê.

Verder was die Dag van Feesvieringe vir die Van der Pohl-egpaar ’n uitsonderlike funksie. Om met medeprodusente te skakel en ander se stories te beleef, het hulle ’n bietjie uit hul eie kokon laat breek. “Ons is opgewonde oor die toekoms. Dit gaan goed op die plaas en met goeie vooruitsigte hoop ons op ’n goeie jaar,” het Andries en Jacky afgesluit.