So skaars soos hoendertande

    994

    Beste Grootneef

    Ek hoop dat jy ’n mooi bui reën of twee ontvang het sedert ons laas gesels het. By ons rammel en dreun die weer smiddae, maar dan dryf die noordwestewinde die wolke verby, net om saans om te swaai met ’n koue oostewind. Die reënseisoen is besig om verby te gaan. Ons hoop dat al die buitjies saam die verskil sal maak om die veld voor die winter te laat uitgroei. Met die veld nou al skaars en met minder mieliereste, gaan Augustus baie moeilik vir die vee wees.

    Ou Neef, oor Desember het ons ’n naald in ’n hooimied loop soek. Al die pad van die Kolonie tot in die noorde op die spoor van ou ystermeesters. Op Robertson het die man gesê hy het baie lanklaas een gesien – dalk is die laaste een saam met die Groot Trek vort. Op Barrydale het die mense geweet waarvan ek praat en selfs agter iemand aangebel. Dié man het laat weet dat hy wel een het, maar dat die neus afgesaag is. Ou Neef, wie op aarde skend ’n ou ystermeester op so ’n verskriklike wyse?

    Op Calitzdorp het ’n oompie saggies gelag oor die vraag of hy dalk weet van een wat te koop is. Hy het een, maar dié is nie te koop nie. Hy het agter sy huis ’n stoor oopgesluit en trots die ou grote aan ons gewys. Op die penskant, ’n datum dof geëts, 1680. As die ou net kon praat oor alles wat beleef is totdat hy op Calitzdorp staangemaak is! Van Calitzdorp het ons die pad deur Oudtshoorn gevat oor die Swartberg-pas, Willowmore se kant toe. Oral navrae gedoen, maar niemand het van ’n ou ystermeester in die kontrei geweet nie. In Willowmore het ons ’n gelukslag gehad om weer een raak te loop, agter in die motorhawe se werkswinkel. Dié een het duidelik nog daagliks sy roeping geleef met merke van kop tot neus. Verkoop wou die man egter nie. Hy het ons vertel dat die goed so skaars soos hoendertande is. En boonop gebruik hy dit om sy brood en botter te verdien.

    By Noupoort en Middelburg was dit een en dieselfde storie. Die mense by wie ons navraag gedoen het, kon die ou meesters vaagweg onthou, maar het jare laas een in lewende lywe gesien. So is ons padlangs verby Bloemfontein en Winburg, sonder dat iemand ons in die rigting van een kon beduie. Op Heilbron het ons gehoor van ’n grote wat op Petrus Steyn staan. Op Petrus Steyn gekom het ons rondgevra en uiteindelik by die regte adres uitgekom. En dit was ’n bielie. Groot en gewigtig, ten minste agt man sou moes vat om daardie een te verskuif. Maar nee, die man wou nie verkoop nie. Hy het ook begin vertel van hoendertande. Maar hy het wel onderneem om sy neef op Lindley te bel om te hoor of daar nie dalk een onder ’n boom op die werf rondlê nie. Nodeloos om te sê, van die man of sy neef het ons nooit weer iets gehoor nie.

    En so is ons deur die Goudstad tot by die familie in die noorde vir Nuwejaar. By Warmbad (deesdae Bela-Bela) het iemand ons beduie na ’n veilingskraal net buite die dorp. Die tante agter die toonbank het geduldig na ons navraag geluister. En toe haar kop geskud. Sy het vertel dat sy baie jare laas een onder oë gehad het, maar as sy op een afkom, sal sy ons bel. Sy het ook van hoendertande beduie. Op Nylstroom was alles toe vir die feesdae. Maar ek het tog ’n briefie in ’n ougoedwinkel se deur gelos met die navraag. Ons is verder deur Potties en Naboom tot by Polokwane. Oral het navrae oor die ou meesters dieselfde reaksie ontlok – ’n glimlag vol heimwee met mense wat hul kan onthou, maar baie jare lank laas een gesien het.

    Ou Neef, baie van die ou ystermeesters is destyds met die Voortrekkers of effe later met transportryers uit die Kolonie noorde toe. Op elke dorpie of staning was een by ‘n smidswinkel wat wa-bande moes heg of perdeskoene moes pasmaak. Die ou ystermeesters was harder as al die ander ysters, want hul moes dié uit die smeltkroes help vorm tot nut of werktuig. Die meester van alle ysters. Maar nou is daar baie min van hulle oor. Baie van die oudstes is vir ’n pot lensiesop by skrootsmelters ingegee. ’n Appel en ’n ei vir iets wat geskiedenis help vorm het. Op pad terug uit die noorde, kry ons ’n oproep uit Nylstroom om te laat weet dat daar ’n ou meester is. Ou Neef, met die instap in die winkeltjie, staan die ou daar in ’n hoek, geroes, verweer en met ’n stukkie neus afgebreek. In stille berusting oor die lot om nie meer as pronkstuk in ’n smidswinkel te dien nie. En net daar en dan doen ek en die oompie besigheid deur die ou meester te ruil vir kontant. Die soektog het na 1 719 km geëindig.

    By die huis gekom was dit ’n gespook en gespartel om die ou vettie van die bakkie af te laai en aan te rol tot naby die voordeur. Die roes is sommer in ’n japtrap afgeskuur en met ‘n olielagie vervang om weer die ysere wil van ’n trotse werktuig ten toon te stel. En die stukkie wat van die neus afgebreek is, gee die ou boonop karakter. En daar staan die aambeeld uit vervloë dae nou trots by die voordeur!

    Ou Neef, dikwels is die soektog lekkerder as om die vonds raak te loop. Dit neem jou na vreemde plek ke om mense te ontmoet van wie se bestaan jy nie geweet het nie. Dis dié dat ek gisteraand vir vroulief sê – die ou aambeeld kort ’n maat. Ons moet loop ry en soek.

    Groete op die Oosgrens.


    Lesers is welkom om ‘n e-pos na Kleinneef te stuur by kleinneef@graingrowers.co.za