WAARDEVOLLE grondboonwenke

735

February 2019

KOBUS VAN ZYL, senior landboukundige, Omnia Kunsmis

Grondbone word in Suid-Afrika op ’n heelwat kleiner skaal as die vier groot graangewasse, naamlik mielies, koring, sojabone en sonneblom, aangeplant. Die grondboonbedryf is in vele opsigte uniek met ’n verskeidenheid uitdagings, maar bied ook net soveel geleenthede.

Dink byvoorbeeld aan die bemarkingskanale wat radikaal van ander gewasse verskil. Grondbone is in dié opsig een van die min graangewasse waar ’n mens wel vergoed word vir die gehalte van die graan. Produksiepraktyke moet dus nie net die gewenste opbrengs tot gevolg hê nie, maar ook grondbone van voortreflike gehalte.

By die aanplant van grondbone moet die geskiedenis van die beplande lande deeglik bestudeer word. Gee aandag aan die volgende belangrike aspekte:

  • Maak seker die grond is nie suur nie en dat voldoende kalsium en magnesium vir opname beskikbaar is. Bekalking die jaar voor aanplanting is ’n slim praktyk.
  • Bemes voldoende stikstof (N), fosfaat (P), kalium (K), swael (S), kalsium (Ca) en magnesium (Mg) volgens die potensiaal. Genoegsame fosfaat, kalium, swael, kalsium en sink is belangrik vir normale groei en ontwikkeling om ’n hoë opbrengspotensiaal en bevredigende gehalte te bewerkstellig. Bespreek bemestingsbeplanning met ’n kundige adviseur.
  • Plant verkieslik ’n mielieland wat met glifosaat en grasdoders skoongehou is of waar betreklik min atrasien/breëblaar-on­kruiddoder toegedien is (teen dosisse wat geskik is vir wisselbou met grondbone). Atrasien en ander breëblaar-onkruiddoders kan oordra na die grondbone, en opbrengs en gehalte drasties inperk. Bespreek onkruidbeheer met ’n kundige adviseur.
  • Grondbone is een van die beste wisselbougewasse – veral in rotasie met mielies. Ongelukkig het wisselbou ook nadele soos winderosie wat dikwels die opvolgende mielieoes van potensiaal ontneem.
  • Oesreste van die voorafgaande mielieoes is soms ’n uitdaging en kan vroegtydig ingeploeg word. Waar ’n diep rippraktyk as bewerkingsmetode toegepas word, kan dit bo-op die grond gehou word.
  • Grondbone kan elke vyf jaar op droëland geplant word en elke drie jaar onder besproeiing – mits daar nie voorheen siektes soos swartpeul- of Sclerotinia-vrot voorgekom het nie.
  • Lande wat oorgelê het en skoongehou is, bekalk is en ’n bietjie meer klei (7% – 10%) in die bogrond het, is die beste opsie vir die aanplant van grondbone. Die grootste voordeel hiervan is dat daar met betreklik min reën redelik vroeg in die seisoen geplant kan word.

Die besluit om grondbone aan te plant word agt uit tien keer uit ’n koste-oogpunt geneem. Daar word aanvaar dat die gewas heelwat goedkoper as van die ander graangewasse verbou kan word. Dit is wel waar wat die kort termyn betref, maar beslis nie as dit op die lang termyn betrekking het nie.

As grondbone as ’n marginale gewas bestuur word, sal dit selde die wins per hektaar van ander graangewasse oorskry. Die teendeel is egter waar sou die gewas goed bestuur word – met voortreflike opbrengs en gehalte as resultaat. In hierdie geval is daar geen graangewas wat grondbone sal klop nie.

Lesse tydens planttyd

  • By grondbone is die plantdatum krities en daar moet minstens ’n rypvrye periode van ±150 dae wees ten einde volwassenheid te bereik. Die ideale plantdatum is dus vanaf Oktober tot 25 November.
  • Daar word meestal te yl geplant (Tabel 1). Plant 150 000 plante/ha op droëland en 300 000 plante/ha onder besproeiing.
  • Probeer om ’n inry-spasiëring met ’n minimum van 75 mm te handhaaf.
  • Die grond moet warm genoeg wees, met ’n minimum grondtemperatuur van 15˚C of warmer teen 06:00 die oggend. Grondswamme (Foto 2) kan ’n drastiese invloed op stand hê as die grond koud en nat is.
  • Gebruik ’n hoë gehalte en beproefde entstof om te verseker dat die knoppiesbakterieë voldoende stikstof bind (Foto 3), (Tabel 2).
  • Behandel die saad met geregistreerde swam- en insekdoders.
  • Wanneer grondbone onder besproeiing geplant word, kan die grond voor plant besproei word. Die beste is om die plante kans te gee om op te kom voordat daar weer besproei word.
  • Plant tussen 50 mm – 75 mm diep om te verseker dat die sade voldoende vog het om te ontkiem.
  • Plant met ’n geregistreerde aalwurmbeheermiddel.

Die plantestand wat aangeplant word, realiseer selde. Daarom kan tussen 3 000 sade/ha en 5 000 sade/ha méér aangeplant word om die gewenste finale stand te realiseer.

Lesse tydens gewasinspeksie
Van al die graangewasse verg grondbone gedurende die seisoen beslis die meeste aandag. Bestuursbesluite en tydigheid kan ’n drastiese invloed op die winsgewendheid (opbrengs en gehalte) van grondbone hê.

’n Vroegtydige, korrekte, voorkomende siektebeheerprogram kan byvoorbeeld die verskil wees tussen wins en verlies – as die klimaat bevorderlik is vir siekte-ontwikkeling.

Die belangrikste blaarsiektes wat grondboonopbrengste inperk, is vroeë en laat blaarvlek (veral laasgenoemde, Foto 4a en 4b), asook spatselvlek. Blaarvlek sal gewoonlik die eerste blaarsiekte wees wat voorkom. Die voorkoms van spatselvlek (Foto 5) is meer prominent in koel, nat weer.

Die voorkoms van aktiewe stikstofbindende (pienk) knoppiesbakterieë bly altyd ’n belangrike fokuspunt om ’n optimale opbrengs onder die gegewe klimaatstoestande te realiseer. Dikwels wonder ons of daar genoeg knoppiesbakterieë is om voldoende stikstof te produseer. In Tabel 2 word ’n algemene riglyn verskaf om te verseker dat voldoende stikstofbinding wel plaasvind.

Botrytis-vrot (Foto 6a en 6b) kom laat in die seisoen onder vogtige toestande voor sodra die nagtemperatuur begin daal. Kultivars se verdraagsaamheid verskil ten opsigte van verskeie siektes en ook ander ekonomies-belangrike peste. Hierdie inligting is vervat in Grondbone, altyd ’n wenner deur CJ Swanevelder.

Swartpeulvrot (Foto 7) en Sclerotinia-vrot (Foto 8) kan groot skade aanrig – veral onder besproeiing, maar ook wanneer nat toestande by droëlandverbouing heers. Vermy lande met ’n geskiedenis van die siektes.

Gereelde gewasinspeksie sal verseker dat die nodige blaarsiekte- en insekbeheer toegepas word. Moenie plantluise en rooispinmyte onderskat nie. Hulle kan groot skade aanrig – veral as die plante droogtestremming beleef.

Korrekte en tydige siektebeheer sal ook voer van voortreflike gehalte, wat gesog onder veeprodusente is, oplewer.

Goeie, sterk plante met voldoende blare vergemaklik ook die meganiese oesproses. Verkieslik moet die grondbone uitgehaal word voordat dit ryp. Grondbone kan geoes word sodra 75% van die peule volwassenheid bereik het. Die peule is volwasse as 75% van die peule ’n donkerbruin of swart buitewand het wanneer dit geskraap word.

Ter opsomming
Grondbone suig wel aan die agterspeen wat betref kultivarontwik­keling en biotegnologiese verbetering, maar dit bly een van die beste wisselbougewasse in ’n rotasiestelsel met mielies. Die geheim van ’n uitstekende grondboonoes lê in effektiewe produksiepraktyke en tydigheid.

Publication: February 2019

Section: Mini-Focus on groundnuts