Sy uitnemende loopbaan in landbou inspireer

Valerie Cilliers, redakteur, SA Graan/Grain
Gepubliseer: 3 November 2022

582

Voormalige uitvoerende hoofbestuurder van Graan SA, Jannie de Villiers, het by die Graan SA-toekennings­geleentheid op 21 Oktober die Inspirasie-toekenning vir 2022 ontvang.

Dié toekenning gaan aan ’n individu of organisasie in waardering vir hul uitstekende bydrae tot die graanbedryf, wat daarna gestreef het om buitengewone resultate in hul onderskeie velde te behaal en wat die bedryf geïnspireer het om meer mede­dingend in hul toewyding aan uitnemendheid te wees.

Visevoorsitter van Graan SA, Richard Krige, het tydens die geleentheid van De Villiers gesê dat hy ’n sterk meningsvormer is – veral as dit by landboubeleid kom. Hy sê De Villiers se toekomsgedrewe visie vir landbou word hoog geag in die sektor. “Jannie glo dat landbou die land kan genees en dat daar gefokus moet word om die vaardighede van swart boere op te skerp. Sy onderhandelinge met die regering het landbou beslis vorentoe geneem. Sy karakter en sy passie vir die sektor – en daarmee saam sy passie vir God – maak van hom ’n ware leier,” het Krige bygevoeg.

De Villiers was tydens sy tien jaar by Graan SA instrumenteel in die daarstel van die leierskapsakademie, Graan SA se landbou-ontwikkelingsinisiatiewe, die stigting en daarstel van die graannavorsingskonsortiums asook die teling-en-tegnologie-heffings as statutêre maatreëls.

Met ontvangs van die Inspirasie-toekenning het De Villiers erkenning gegee aan Graan SA en gesê dat hy as HUB ’n formidabele span agter hom gehad het. Hy het ook produsente by die geleentheid aangemoedig om mekaar te ondersteun. “Ons glo in julle, hou julle ware noord en as moeilike omstandighede druk, phone a friend and trust in God.”

Jannie de Villiers en sy vrou, Retha, met die Inspirasie-toekenning vir sy bydrae tot die graanbedryf.

De Villiers het in Augustus 2021 uitgetree as HUB van Graan SA waar hy sedert 2011 dié pos beklee het. Hy het sy landbouloopbaan as ekonoom by die destydse Departement van Landbou se bemar­kingsraad begin en daar deel geword van die adviesspan wat deur middel van koste-ondersoeke aanbevelings oor die nasionale broodprys moes maak.

In 1987 het hy ’n aanstelling by die Nasionale Meulenaarskamer aanvaar en in 1992 het hy die hoof daarvan geword. De Villiers was ook betrokke by die stigting van die Suid-Afrikaanse Graan­inligtingsdiens (SAGIS) en die Suider-Afrikaanse Graanlaboratorium (SAGL) en het help skryf aan die grondwette en konsepte vir dié organisasies.

Ter afsluiting het De Villiers sy vrou, Retha, en hul kinders bedank vir hulle ondersteuning en eer gegee aan sy Hemelse Vader vir die geleenthede wat hom gebied is.