February 2019

LOURENS DE KOCK, Grondboonwerkgroep, Graan SA

Die huidige grondboonkultivarproef, Suid-Afrikaanse Grondboonkultivarevaluasie, is nou in sy derde seisoen. Dit is ’n inisiatief van die grondboonbedryf wat saam hande gevat het om kultivars in verskillende produserende streke met mekaar te vergelyk.

Die mees uitstaande kultivar, wat in die 2017/2018-seisoen goed onder droëlandomstandighede presteer het, was ARC-Sellie Plus, terwyl die prestasie van kultivars onder besproeiing meer wisselend was. Die inligting wat uit hierdie evaluasieprojek voortspruit, is van groot belang vir die grondboonbedryf, aangesien hierdie inligting deur produsente benodig word om kultivarkeuses in verskillende grondboonstreke uit te oefen.

Evaluasieprojek
In die grondboonevaluasieproewe word die belangrikheid van aanpasbaarheid, opbrengs en kwaliteit uitgelig. Belowende ontwikkelingslyne, sowel as geregistreerde kultivars, word deur proefdata geëvalueer om te verseker dat die nuutste relevante data vir die produsente en die bedryf beskikbaar is.

Dit is krities dat die verskillende kultivars in die belangrikste grondboonproduksiegebiede geëvalueer word, aangesien dit beter insig oor die aanpasbaarheid van die kultivars in die ver­skillende seisoene verskaf. Hierdie data word gebruik om ’n SA Grondboonkultivarevaluasieverslag saam te stel.

Metodiek
Twaalf geregistreerde kultivars van drie maatskappye (LNR, Countrywide Nuts en Golden Peanut) en agt potensiële kultivarteellyne van die Landbounavorsingsraad (LNR) is op agt verskillende lokaliteite getoets. Elk van hierdie lokaliteite het ’n unieke klimaat en grondtipe, wat verteenwoordigend is van die grondboonproduksiegebiede van Suid-Afrika.

Die proewe is in twee groepe verdeel: Vier besproeiings- en vier droëlandproewe. ’n Volledige, ewekansige blokontwerp is vir die proefuitleg gebruik. Drie herhalings is per proef gedoen. Elke proef het belangrike data beskikbaar gestel vir die gebied waarin dit geplant is.

Standaardlandboupraktyke is toegepas. Plantdatums was in die eerste helfte van Desember. Dit is uiters belangrik dat voldoen word aan voorgeskrewe plantdatums, aangesien ’n afwyking vanaf daardie datums tot groot opbrengsverliese kan lei. Alle proewe is op 150 dae na plant geoes om eenvormigheid oor al die proewe heen te verseker.

Resultate
Die resultate per proef word in inkomste per hektaar, per kultivar, uitgedruk (sien Tabel 1 tot Tabel 8). Die R/ton pitte is ’n gerealiseerde prys volgens gradering tydens die 2017/2018-seisoen. Die kultivars by elke lokaliteit is gerangskik van die hoogste randwaarde per hektaar tot die laagste. Die volledige kultivarevaluasie-uitslae kan op die LNR-Graangewasse se webblad (www.arc.agric.za/arc-gci) verkry word.

Publication: February 2019

Section: Mini-Focus on groundnuts