Grondboonsiektes in perspektief

Gepubliseer: 7 Februarie 2020

2292
Loureine Muller,
grondboonagronoom, Triotrade

Vandag se produsent moet vele hoedens dra om sy boerdery suksesvol te bestuur. Een daarvan is dat hy peste en plae in die grondboonland moet kan identifiseer. Sodoende kan daar vroegtydig ’n plan gemaak word met siektes wat groot skade kan berokken.

Die wisselvalligheid van weerstoestande dra by tot die verskyning van minder algemene blaarsiektes by grondbone. Botrytis, wat algemeen voorkom in besproeiingslande, kan met gereelde reënval selfs kop uitsteek in droëlandaanplantings. Dit is een van die blaarsiektes wat moeilik beheerbaar is, aangesien dit gewoonlik nader aan die einde van die groeiseisoen voorkom, naby aan oestyd.

Botrytis (Foto 1) vorm in die middel van die blaredak waar die mikroklimaat warm en vogtig is. Hierdie siekte kom veral voor wanneer die plante reeds die rye toegemaak het. Die beste voorkoming vir Botrytis is om goeie deurligting in die blaredak te verseker. Rywydtes moet van die begin van die seisoen af aangepas word, veral in areas waar die produsent al vantevore met hierdie siekte te doen gekry het. Die siekte is moeilik beheerbaar, aangesien die spuitstof nie ’n digte blaredak kan binnedring nie.

Simptome van Botrytis op grondbone.

Spatselvlek (Foto 2), wat ook bekend staan as web blotch, is nog ’n kalant wat dopgehou moet word. Hierdie blaarvlek kom normaalweg in die middel van die blaredak voor, maar kan ook met tye sy verskyning in die onderste blare maak. Die siekte kan kol-kol in die land voorkom, maar versprei baie vinnig. Spatselvlek kan ’n grondboonland binne drie weke heeltemal ontblaar. Die beheer van spatselvlek is net so moeilik soos die van Botrytis, aangesien die toediening van spuitmiddels nie altyd tot in die middel van die blaredak binnedring nie. Voorkoming is altyd beter as beheer.

Spatselvleksimptome op grondbone.

Sclerotinia (Foto 3) is ’n ander skurk in die grondboonland. Sonneblomprodusente weet dat hierdie siekte groot verliese veroorsaak – dieselfde geld vir grondbone. Sclerotinia kom op die grondoppervlak, dig teen die grondboon se stam, voor. Om Sclerotinia te onderskei van Botrytis moet daar opgelet word vir klein, ronde balletjies wat op die stam teen die grond voorkom. Die ander nagevolge van Sclerotinia kan gesien word na oes op die saad self. Pers ringe vorm op die pit wat soos ’n bull’s eye lyk. Dit is as gevolg van die toksiene wat in die pit lê. By gradering lei die voorkoms van die bull’s eye tot afgradering as gevolg van gevlekte pitte. Voorkoming van Sclerotinia is die enigste beheer. Moenie grondbone op lande produseer waarop daar die vorige seisoen sonneblomme geproduseer is nie.

Simptome van Sclerotinia op grondbone.

Behalwe bogenoemde is daar steeds die algemene siektes, naamlik vroeë en laat blaarvlek (Foto 4 en 5), waarna opgelet moet word. Die belangrikste is om te onthou dat voorsorg altyd beter as nasorg is en dat gereelde landinspeksies uiters belangrik is vir die identifisering van siektes sowel as die beheer daarvan.

 

Vroeë blaarvleksimptome op grondbone.
Simptome van laat blaarvlek op grondbone.