Kan KANOLAPRODUKSIE en BYE saamleef?

1103

February 2019

DR GERHARD H VERDOORN, CropLife Suid-Afrika

Skaars 20 jaar gelede was kanola net ’n gedagte onder die graangeledere, maar die gewas het vinnig wortel geskiet in baie dele van Suid-Afrika waar die geel blomme geil in die nasomer staan met beloftes van gesonde kookolie en smeermiddels vir vars brood wat meer as die gewone winkelrakprodukte bied.

Sonder twyfel is só ’n kanolaland in volle blom nie net prentjie­mooi vir mense nie, maar ook magneties vir enige sespotige dierasie wat na nektar en stuifmeel soek. Bye is bestuiwers en kan op geen manier ’n kanolalandery vermy nie. Dit is van groot waarde, want dié heuningmakers bestuif die gewas sodat die plant sy kosbare oliedraende saad kan voortbring.

2018 was ’n kneljaar vir sommige produsente, veral vir dié wat met bye boer en bestuiwingsdienste aan gewasprodusente voorsien. Net toe die kanola mooi in blom is, toe begin die bye in die Wes-Kaap die gees gee. Nadere ondersoek het bevind dat die probleem ontstaan het omdat profenofos as insekdoder op die kanola gespuit is terwyl die plante in volle blom was. Nodeloos om te sê, dit het bye ’n nekslag toegedien en letterlik honderde kolonies is uitgewis. Dit het groot onmin tussen byeboere en kanolaprodusente veroorsaak, maar gelukkig het die partye bymekaar gekom en sake uitgepraat.

Die vraag is of kanolaproduksie met bye versoenbaar is, veral gegewe die feit dat insekdoders soms noodwendig gespuit sal moet word om die gewas teen skadelike insekte te beskerm. Die afgelope twee jaar was daar op party plekke ernstige plae van Afrika-bolwurm en almal hou asem op vir die vernietigende herfskommandowurm wat gelukkig nog nie in kanola aangetref is nie. Sonder insek-, swam- en onkruiddoders sal kanolaproduksie swaar kry, maar sal die gebruik van dié middels bye noodwendig benadeel?

Insekdoders giftig vir bye
Daar is volgens CropLife Suid-Afrika se AgriIntel 67 plaagdoders vir gebruik op kanola geregistreer. Onkruiddoders is oor die algemeen nie giftig vir bye nie en dieselfde geld vir die meeste swamdoders. Insekdoders is egter meestal giftig vir bye ongeag die chemiese klas van die aktiewe bestanddele.

Daar is twee metodes waardeur bye met insekdoders vergiftig word. Eerstens is dit deur direkte kontak met die by se liggaam soos wanneer ’n by in ’n spuitnewel rondvlieg of op ’n oppervlak land waar die spuitmengsel steeds nat is. Tweedens kan bye die plaagdoder inneem wanneer dit byvoorbeeld nektar drink of stuifmeel versamel. Dit is interessant dat direkte kontak in die geval van sommige plaagdoders dikwels gevaarliker vir bye is as wanneer die plaagdoder oraal ingeneem word. ’n Mens moet noodwendig aanvaar dat die insekdoders almal giftig vir bye is en daarom moet daar met groot omsigtigheid gehandel word as daar bye in of naby ’n gewas aan die werk is. Dit is veral belangrik in ’n gewas soos kanola wat deur bye bestuif word.

Neem etikette se voorskrifte ter harte
Al die insekdoders wat vir gebruik op kanola geregistreer is, het spesiale waarskuwings om bye teen vergiftiging te beskerm. Die algemene voorsorgmaatreëls stel dit duidelik dat die insekdoders nie aangewend mag word na blomknopvorming nie en ook nie as bye naby of in die gewas werk nie. Tegnies gesproke is dit moontlik dat selfs insekdoders aangewend kan word sonder om bye te benadeel as die etikette se voorskrifte en waarskuwings ter harte geneem word.

Kanola, soos enige ander gewas, sal op een of ander stadium die teiken van skadelike insekte word. Daar is oorgenoeg ses- en agtpotiges wat altyd saam wil eet aan die produsent se opbrengs en hy moet hulle met plaagdoders fnuik. Hoe op aarde gaan die produsent die peste aanvat sonder om die bye te benadeel?

Die antwoord lê in presisielandbou. Daar moet ’n paradigmaverskuiwing kom by gewasproduksie, veral met ’n hoëwaardegewas soos kanola wat nog boonop bye aanlok. Enige kanolaprodusent wat sy sout werd is, behoort te weet wat die uitdagings van plantpeste, -siektes en onkruide vir sy gewas in die komende seisoen gaan wees. Dit is belangrik om te beplan vir enige moontlike plae en dan te besluit watter plaagdoders daarvoor benodig sal word. Let daarop dat slegs plaagdoders wat vir kanola en die verwagte plae geregistreer is, aangewend mag word.

Gereelde monitering
’n Baie belangrike aspek van plaagbeheer is gereelde monitering. Dit gebeur ongelukkig selde en wanneer die produsent sy oë uitvee is die kanolalanderye vol ruspes wat soos goederetreine deur die gewas ploeg. Voorafkennis is ’n gedugte wapen teen peste. As daar byvoorbeeld teen laatmiddag swerms motte waargeneem word, moet die alarmliggies outomaties aanskakel, want dan is daar heel waarskynlik ’n Lepidoptera-infestasie op pad. Sulke plae kom gewoonlik baie vroeg in die produksieseisoen voor. Dit kan dan met insekdoders onder beheer gebring word sonder om bye te benadeel, want daar is geen blomme wat nektar en stuifmeel produseer nie. As monitering nie plaasvind nie, word plae te laat ontdek om dit op ’n omgewingsversoenbare wyse te beheer en dan gaan dit bars vir bye wat aan insekdoders onderwerp word tydens plaagbeheeraksies.

Watter plaagdoders is beskikbaar?
Die produsent moet homself ook vergewis van watter plaagdoders beskikbaar is. Agri-Intel (www.agri-intel.com) lys feitlik alle plaagdoders wat in Suid-Afrika op alle gewasse geregistreer is. Deur van die omvattende soekenjin in AgriIntel gebruik te maak, kan die produsent presies bepaal watter plaagdoder nodig is.

Dit is ongelukkig so dat verkeerde aanbevelings soms deur agente gemaak word. Kyk na die etiket en as dit nie na kanola verwys nie, mag dit nie gebruik word nie. Die fiasko vroeg in 2018 is veroorsaak omdat agente profenofos, wat nie vir kanola geregistreer is nie, op kanola in volle blom aanbeveel het. Die verantwoordelikheid vir die korrekte en verantwoordelike gebruik van plaagdoders berus by agente sowel as by produsente. Wanneer dit in krisistye nodig raak om wel plae in kanola te beheer, moet die produsent verseker dat daar geen byekorwe in die nabyheid is nie.

CropLife Suid-Afrika ondersteun die uitrol van ’n nuwe selfoontoepassing genaamd BeeMap Africa, wat ’n koppelvlak tussen die byeboer en die gewasprodusent is. Beide partye registreer en noteer hulle byekorwe of gewasse op dié toepassing. Wanneer die gewasprodusent plaagdoders moet aanwend, maak hy ’n nota op die toepassing en die byeboer word outomaties in kennis gestel sodat byekorwe uit die gevaarsone verwyder kan word. Die toepassing is nog in die ontwikkelingstadium en kan getoets word deur kontak te maak met Oscar Mandlmeier by 082 388 0170. Dit behoort baie kopsere vir gewasprodusente en byeboere uit die weg te ruim.

Een van die belangrikste aspekte is om altyd die etiket van die plaagdoder streng na te volg. Elke plaagdoder word vir ’n bepaalde doeleinde ontwikkel, met ander woorde om ’n spesifieke probleem in ’n spesifieke gewas op te los. As die plaagdoder aangewend word vir ’n ander probleem of op ’n ander gewas as waarvoor dit ontwikkel is, is nadelige gevolge onafwendbaar.

Verantwoordelike gebruik van plaagdoders
Dit is maklik om die wette oor plaagdoders voor produsente te gooi en te dreig met vervolging, maar dit is nie ’n wenslike situasie nie. CropLife Suid-Afrika probeer eerder die verantwoordelike gebruik van plaagdoders bevorder met die eenvoudige slagspreuk: Volg die etiket. Dit beteken dat ongeag wat enige persoon mag aanbeveel of die produsent probeer wysmaak, die etiket die uiteindelike riglyn bly waarvolgens die plaagdoder gebruik moet word.

Partye moet saamwerk
Bye is onlosmaaklik deel van landbou en is van deurslaggewende belang as bestuiwers vir baie van die wêreld se voedselgewasse en natuurlike blomplante. As kanolaprodusente en byeboere kan saamwerk en inligting oor die stand van korwe en spuitprogramme op die BeeMap Africa-toepassing uitruil, sal beide partye hul doel bereik, naamlik volhoubare landbouproduksie.

CropLife Suid-Afrika gaan gedurende 2019 groot pogings aanwend om bye te beveilig en al hierdie inisiatiewe sal in samewerking met gewasprodusente en byeboere geskied. Vir verdere inligting besoek www.croplife.co.za.

Publication: February 2019

Section: Mini-Focus on Canola