May 2015

HESTIA NIENABER, LNR-Kleingraaninstituut, ‘n afdeling van die Veldgewasdivisie

Die definisie van onkruiddoderweerstand is alombekend. Dit is die inherente vermoë van ‘n plant om ‘n onkruiddoderdosis te oorleef, wat normaalweg die wilde tipe sou doodmaak en daarna steeds lewenskragtige saad produseer.

Weerstand in die wêreld

Onkruiddoderweerstandbiedendheid teen 2,4-D is reeds so vroeg soos 1957 in Hawaii gerapporteer. Die eerste offisiële verslag van onkruiddoderweerstand is egter in 1968 in die VSA gepubliseer. Hierdie weerstand is aangeteken teen triasiene in Senecio vulgaris.

Parakwatweerstand is vir die eerste keer in die laat 70’s en vroeë 80’s gerapporteer in vaalskraalhans. Die eerste geval van sulfonielureaweerstand (ALS-inhibeerder) is in 1990 gerapporteer in Kochia scoparia L. en wildeslaai (Lactuca serriola L.).

Sedert 1975 was daar ‘n skerp toename in die hoeveelheid weerstandbiedende spesies. Tans is weerstand teen onkruiddoders afkomende van die ALS-inhibeerdergroep (Groep B) die ergste in die wêreld. Weerstand teen ander onkruiddoders het ook toegeneem.

Raaigras is die mees wydverspreide en problematiese onkruid in Australiese en Suid-Afrikaanse landbou. Dit kom ook voor in hoë digthede, het hoë genetiese variasie en weerstandbiedende biotipes is deur die jare intensief geselekteer deur die herhalende gebruik van onkruiddoders met dieselfde aktiewe bestanddeel.

Glifosaatweerstand het redelik stadig ontwikkel sedert die vrystelling daarvan, ten spyte daarvan dat glifosaat die mees gebruikte onkruiddoder in die wêreld is. Weerstand teen glifosaat is gevind in wilde bokwiet in Australië en Kanadese skraalhans in Amerika.

Weerstand is ook aangeteken teen Kanadese skraalhans in verminderde bewerkingsisteme. In 1996 is Roundup-weerstand biedende raaigras gevind in ‘n veld wat tien maal in die voorafgaande 15 jaar met glifosaat gespuit is.

Hierdie geval het weer eens klem gelê op die belangrikheid van afwisseling van onkruiddoders binne ‘n sekere landboustelsel. Sedertdien is verskeie onkruidspesies met weerstand teen glifosaat aangeteken.

Sedert 2003/2004 het weerstand teen glifosaat egter skerp toegeneem in vergelyking met voorafgaande jare. Waar slegs vyf spesies voorheen weerstandbiedend was, is daar in 2014 meer as 30 spesies aangeteken met weerstand teen glifosaat.

Weerstand in Suid-Afrika

Die eerste bevestigde geval van onkruiddoderweerstand is aangeteken in 1986 in wildehawer. Hierdie wildehawerbiotipe was weerstandbiedend teen diclofop-metiel. Weerstand teen triasiene in misbredie is in 1996 aangeteken.

Ramenas het tekens getoon van weerstand teen chloorsulfuroon in 2001 en parakwatweerstandbiedende raaigras, afkomend van ‘n wingerd, is ook in 2001 aangeteken. In Januarie 2003 is ‘n skraal hansbiotipe gevind wat weerstandbiedend was teen glifosaat en parakwat. Tongblaar, met glifosaatweerstand, is in Mei 2003 gevind. Parakwatweerstand is ook gerapporteer in ‘n raaigraspopulasie van die Wes-Kaap in 2004. ‘n Wilde bokwietspesie is in 2011 gevind met weerstand teen glifosaat. Die bevestiging van weerstand in Suid-Afrika vind egter meer plaas op informele vlak as op wetenskaplike vlak, dus moet daar nie onder ‘n wanpersepsie verkeer word dat weerstand nie in Suid-Afrika bestaan nie.

Weerstand by verskeie onkruide, teen verskeie onkruiddoders, word jaarliks in talle gewasse wat in Suid-Afrika verbou word, gevind. Suid-Afrika is een van die lande met die grootste voorkoms van on kruiddoderweerstandbiedende raaigras.

imageimage

Hoe voorkom/beheer ‘n mens weerstand?

Weerstandbiedendheid word beheer of voorkom deur die volgende maatreëls te volg:

  • Onkruiddoders moet met mekaar afgewissel word om so te voorkom dat dieselfde onkruiddoder jaar na jaar op dieselfde onkruidpopulasie gebruik word.
  • Pas gewasrotasie toe indien moontlik. Dit is dié faktor wat wêreld wyd as die beste oplossing vir weerstandbiedendheid voor gehou word. Gewasrotasie veroorsaak dat verskillende on kruid spesies, in die verskillende gewasse wat verbou word, voor kom en verskillende onkruiddoders met verskillende metodes van werking gebruik kan word.
  • Moet nooit ongeregistreerde mengsels maak nie. Hou ten alle tye by die etiketaanbevelings. Let op na die middels waarmee die onkruiddoder mengbaar is en onthou om die geregistreerde byvoegmiddels by die onkruiddoders te voeg.
  • Hou rekord van onkruiddoders wat gebruik word asook die dosis waarteen dit gespuit word.
  • Die produsent moet gereeld die lande monitor, sodat weerstandbiedende kolle betyds raakgesien en uitgeroei kan word, byvoorbeeld met behulp van kolbespuiting.
  • Sorg ten alle tye dat die onkruiddoder op die regte groeistadium toegedien word.
  • Sorg dat die regte dosis altyd gebruik word. Té hoë dosisse en té lae dosisse kan weerstandbiedende onkruide selekteer.
  • Sorg dat die spuittoerusting korrek gekalibreer is en dat die persoon wat verantwoordelik is vir die spuitproses voldoende opleiding ontvang het.
  • Volg altyd die onkruiddoderetiket se aanbevelings.

Samevatting

Onkruiddoderweerstandbiedendheid is ongelukkig ‘n realiteit en moet dus in ag geneem word in alle landboupraktyke. Hoe vroeër dit opgemerk word in ‘n land, hoe vroeër kan effektiewe beheer daarvan begin.

imageDie LNR-Kleingraaninstituut (LNR-KGI) het onlangs met ‘n diens begin wat onkruidsaad/saailinge vinnig kan toets vir teikenareaweerstand teen ALS- en ACCase-inhibeerder onkruiddoders. Tans is dit gratis en resultate kan binne so vinnig as 72 uur verkry word.

Vir enige verdere navrae, kontak Hestia Nienaber by 058 307 3420 of deweth@arc.agric.za.

Publication: May 2015

Section: On farm level