Impak van baie reën op graanoeste ondersoek

Valerie Cilliers, redakteur, SA Graan/Grain
Gepubliseer: 20 Januarie 2022

702

Hewige neerslae in dele van die Vrystaat en Noordwes het verskeie landbou-organisasie genoop om die regering te versoek om distrikte waarin die landbougemeenskappe die swaarste getref is as rampgebiede te verklaar.

Volgens Graan SA wys onlangse verslae dat die reënvalsyfer vir Desembermaand die hoogste in 100 jaar was. Verder is heelwat meer haelskade as in die verlede in sekere gebiede aangemeld. Die organisasie het Vrydag 14 Januarie en Saterdag 15 Januarie 2022 produsente wat deur dié onlangse reënval geraak is, besoek.

Graan SA-personeel rapporteer dat produsente se gemoedere bo-verwagting goed is. “My hart bloei en gaan uit na die boere wat die skade ondervind. Hierdie is weereens vir my ’n duidelike bewys van hoe sterk ons landbouers se geloof en vertroue is vir die uitkoms waarin ons glo en waarop ons hoop,” het dr Pieter Taljaard, hoofuitvoerende beampte van Graan SA in ’n persverklaring gesê.

Foto ingestuur deur Johan Kriel

Waterskade op somergraan
Alhoewel dit moeilik is om die omvang van die skade so vroeg in die seisoen te kwantifiseer, het Graan SA ook deur middel van ’n vraelys ondersoek ingestel om die blootstelling van somergraanaanplantings aan waterskade te bepaal.

Die vraelys, wat deur 434 produsente voltooi is, toon die negatiewe impak van waterskade in sekere produksiestreke duidelik aan.

“In ekstreme gevalle rapporteer individuele produsente ’n totale verlies van aanplantings. Oor die algemeen het 20% van produsente aangedui dat meer as 60% van hulle witmielie-aanplantings aan waterskade blootgestel is (geelmielies 15%, sojabone 13% en sonneblom 17%). In die Wes-Vrystaat veral het 39% van die produsente waterskadeblootstelling aan witmielies gerapporteer. Die ooste van die land en gedeeltes van Noordwes beleef ook uitdagings rakende waterskade, maar die intensiteit is laer as in die Wes-Vrystaat,” lui ’n persverklaring wat onlangs deur die organisasie uitgereik is.

Volgens dr Taljaard, is daar alreeds groot oppervlaktes binne die gebied wat afgeskryf kan word en ’n nuloes gaan lewer. Daar is ook aanplantings wat potensieel afgeskryf gaan word weens die plat topografie.

Hy sê die werklike impak op oppervlakte aangeplant sal eers waargeneem kan word wanneer die Nasionale Oesskattingskomitee die voorlopige aanplantingsyfers op 27 Januarie publiseer. Die impak van die waterskade op produksie sal eers werklik met die eerste somergraanproduksieskatting op 27 Februarie bepaal en geëvalueer kan word.

Daar is verder berigte van skade uit die wyer somersaaigebied wat gelokaliseerde skade opgedoen het, maar daarmee saam getuig produsente ook van fantastiese gewasse wat hulle tans het en die belofte van goeie en selfs rekordoeste op sekere lande.

Impak op wintergraan
In die Wes-Kaap het reën tydens oestyd toestande uiters bemoeilik en verskeie produsente het opbrengs- en graadverliese gely. In die binneland kon produsente in sekere gevalle nie hulle koringlande stroop nie as gevolg van die nattigheid. Waar daar wel koring in die binneland gestroop kon word, was gradering ’n groot uitdaging gegewe die vogtoestande.

Dr Taljaard sê Graan SA is bekommerd oor die uitwerking van die ekstreme weerpatrone – veral in ’n tyd waar produsente steeds finansieel herstel van die droogtetoestande van vorige jare. “Genadiglik is die internasionale graanpryse op gunstige vlakke. Ons doen weer eens ’n beroep op die regering om, gegewe die uitdagings en die onlangse grootskaalse styging van insetkoste, ’n bekostigbare oesversekeringskema in plek te stel sodat produsente hul risiko’s beter kan bestuur. Daar is reeds voorstelle hiervoor op die regering se tafel. Suid-Afrikaanse produsente ding mee met produsente in ander lande, wat toegang tot soortgelyke voordele het wat hulle sodoende in moeilike produksie-omstandighede ondersteun,” voeg hy by.

Graan SA raai produsente aan om vroegtydig met hul finansierders in verbinding te tree indien grootskaalse skade ervaar of verwag word. “Indien individuele produsente enige hulp of advies benodig, is hul welkom om met die Graan SA-span in die verband te skakel,” nooi dr Taljaard.