Lede vertel waarom hul heffing betaal

    Dirk Kotzé, ledebemarking- en kommunikasiebeampte, Graan SA

    1523

    Ten spyte van ’n moeilike seisoen tot dusver, is ons lede steeds positief teenoor Graan SA. Hulle besef die waarde wat die organisasie tot die graanbedryf toevoeg met die doel om produsente winsgewend op die plaas te hou.

    Die bedryfsheffings vir die 2018/2019-jaar het ook goed ingekom en Graan SA bedank alle lede wat bygedra het tot die heffingsfonds. Wat veral verblydend is, is dat al hoe meer boereverenigings besluit dat alle lede van die vereniging moet bydra tot die Graan SA-heffingsfonds.

    Ons produsente vertel graag waarom hulle heffings betaal.

    Positief teenoor organisasie

    Gawie van Rensburg, voorsitter: Wonderfontein Boere-unie van Middelburg, sien dit soos volg:

    Wonderfontein Boere-unie se ledetal is ongeveer 105 en hierdie lede is gevestig in drie distrikte, naamlik Middelburg, Carolina en Belfast. Ons as boere-unie het die eer gehad om mnre Dirk Kotzé en Corné Louw van Graan SA as sprekers by een van ons boere-aande te verwelkom.

    Die algemene gevoel van die produsente in die verlede was redelik negatief teenoor Graan SA en daarom is die heffings nie ten volle of selfs glad nie betaal nie. Daar was egter ’n positiewe reaksie onder die lede teenwoordig na afloop van die intensiewe inligting wat deurgegee is deur die personeel. Hierdie positiwiteit het uitgekring na ander lede en daar is vrywillige oorbetalings gedoen. Magtigingsvorms is ook geneem en lede het onderneem om dit in die komende seisoen aan maatskappye aan wie hulle gewasse lewer, te oorhandig vir aftrekking van die heffings vir die uiteindelike oorbetaling aan Graan SA.

    Dit was vir ons as boere-unie verblydend dat al die streke van Graan SA saamstaan vir die afskaffing van die vervoerdifferensiaal. Ons is bevoorreg om mnr Gerrit Roos, hoofbestuurslid vir Streek 11, as lid van ons boere-unie te hê. Ons word sodoende gereeld ingelig oor die doen en late van Graan SA. Hy is maar kort in die tuig en die gevoel is dat ons hom meer kan bystaan met die bemarking van Graan SA in die streek.

    Wonderfontein Boere-unie adviseer alle ander produsenteorganisasies om sprekers van Graan SA uit te nooi ten einde bewus gemaak te word van hierdie organisasie se doelstellings en die voordele wat lidmaatskap inhou. Sterkte aan die medeprodusente van ons land.

    Hier kan jy nog jou saak stel

    Willie Marx van Wolmaransstad sê:

    Ek dink dit is nodig om heffings aan Graan SA te betaal as ons in die landbou in Suid-Afrika wil oorleef. Ons is nie in ’n maklike bedryf nie: Die klimaat is tans ongunstig en so ook die regerings- en ekonomie se beleid.

    Graan SA is een van die min plekke waar ons nog ons saak kan stel en wat probeer om vir ons ’n toekoms te verseker. Om dit te kan doen, het Graan SA fondse nodig. Baie lede weet ongelukkig nie van al die werk waarmee die organisasie se personeel besig is nie, want dan sou hulle kon sien ons kry baie meer as wat ons dink.

    Ledegeld ’n belegging in my besigheid

    Wikus Mostert van Grensplaas Landgoed, Schweizer-Reneke, skryf:

    Met hierdie briefie wil ek julle graag bedank vir al julle harde werk, goeie raad en deel van kennis met my as produsent. Ek vind gemoedsrus daarin om julle in my span van vennote in landbou te hê.

    Aangesien ek nie kans sien om met vreemde mense te onderhandel oor politieke en besigheidskwessies nie, ek nie ’n goeie redeneerder is nie en ook nie beskik oor die nodige talent en kennis om in elke situasie die regte argument te voer en nog te wen ook nie, vind ek my toevlug by julle.

    Ons is tans in Suid-Afrika in ’n tydperk waar die produsent nie veel regeringsondersteuning kry nie. Ek het lankal besef dat ek nie alleen hiervoor opgewasse is nie en ook bloot net nie goed daarmee is nie. Ek is ’n produsent en hou daarvan om in die natuur te wees. Kom ons los die vergaderings vir mense wat lief is daarvoor en ook ’n gawe van God daarvoor ontvang het.

    Die dae is verby waar elke produsent ’n Jack of all trades behoort te wees. Ken jou swak punte en stel iemand anders aan om die punte te verbeter.

    In my boerdery stel ek slegs iemand aan as hy die betrokke posisie beter as ek kan beklee. Daarom het ek Graan SA aangestel deur ’n lid te word, omdat hulle die betrokke posisie in my boerdery beter as ek sal beklee. Ek ag myself bevoorreg dat daar wel ’n organisasie soos Graan SA is, dat ek so maklik ’n lid daarvan kon word en al die voordele saam mag geniet.

    Die ledegeld sien ek nie as ’n onkoste nie, maar as ’n belegging – net soos enige goeie werknemer in my besigheid. Beur voort, ons waardeer elkeen van julle.

    Vir enge navrae oor die heffingsfonds, skakel vir Patricia Mahlatsi of Elray Stuurman by 012 943 6040, asook Dirk Kotzé by 082 492 3313 of Luan van der Walt by 072 476 9365.