Die volmaan

29

Beste Grootneef

Tyd vloei verby met die son en planete in ’n ewige vlug deur die ruimte. Met die aarde aan die draai al om sy eie as word dag en nag in gelyke maat aan die mensdom uitgedeel. Dae, maande en jare word oor ’n leeftyd ineengevleg. As jy sterk is, vir 70 jaar en as jy baie sterk is, vir 80 jaar.

Die verloopte tyd word geëts in toeka se jongmense wat nou effe krommer loop, of in die klipskeur van die Visrivier, waar eeue se erosie rotse uit die oertyd ontbloot.

Ou Neef, tyd stap meedoënloos aan en verander elke wese elke dag. Soms bietjie-bietjie, soos ’n gety wat in ’n baai in stoot, ander kere met storm en drang soos ’n orkaan oor die vlaktes.

Die een gebeurtenis wat die mensdom se denke vir ewig verander het, het 50 jaar gelede plaasgevind. En dit het alles met die maan te make gehad.

Vanaand het die volmaan hoeka stilweg uit die ooste verrys, met die nagloed van die son nog goudgeel in die weste. Die dag het stilweg oorgegee aan die nag. ’n Paar laaste tarentale het teen skemer die bloekombos ingevlieg.

Die sterre het hul vonkel oor die hemelruim gestrooi met Orion en Sirius weer terug nadat hulle vir die wintermaande buite sig was. Toe korrel ek, duim in die lug, maan se kant toe. En wonder hoe op aarde het die eerste mens op die maan geland. 50 jaar later bly dit steeds ’n epog wat saak maak, want met spore op die maan het die grense vir ewig verskuif.

Ou Neef, kwalik tien jaar voor die maanlanding het studente by van die voorste universiteite lesings ontvang oor waarom die mens nié op die maan kon land nie.

Wêreldbekende dosente het vertel van die aarde se swaartekrag wat nie oorwin kon word nie, die massas brandstof wat vir so ’n reis nodig sou wees en die suurstof wat in die buitenste ruim ontbreek. Die raaisel van die tyd was hoe om koers te hou oor afstand en tyd tussen bewegende hemelliggame. Die groot vraag was egter hoe om terug te keer en nie in die atmosfeer uit te brand nie.

Al hierdie vrae het ’n antwoord gekry toe Neil Armstrong die een klein treetjie uit ’n ruimtetuig, maar ’n reusetree vir die mensdom gegee het. Daar is nou voetspore op die maan.

Vandat president Kennedy die voorneme om op die maan te land, bekend gemaak het, totdat die eerste tree daar gegee is, het minder as ’n dekade se navorsing en beplanning geneem. Maar alles het begin met ’n droom. En die bereidwilligheid om nuut en skeppend na die maan te kyk.

Neil Armstrong was miskien die eerste man wat ’n tree op die maan kon gee, maar agter hom was ’n gedugte span wat geskiedenis moontlik gemaak het.

In ons eie land is daar baie uitdagings wat al te veel lyk na ’n maan wat nét te ver is om ’n voetspoor op te laat. Kom ons hoop dat ’n gedugte span mense ook hier hande sal vat om almal veilig te laat terugkom huis toe.

Ou Neef, die laaste paar dae sny die Augustus-winde oor die Vrystaat. Vroegoggend begin die wind stoot om later met volle oorgawe uit die noordweste te blaas. Die wintermaande se bittere koue is nou getemper met warmer dae, maar die veld vra vir reën. Die rooigras se hooi van die laatsomer is nou net ’n herinnering. Mens en dier wag vir die reën.

Groete op die Oosgrens.

 

Lesers is welkom om ‘n e-pos na Kleinneef te stuur by kleinneef@graingrowers.co.za.