Mik vir HOËR PROTEÏEN-sojabone

364

December 2018

DR JAN DREYER, namens die Proteïennavorsingstigting

Sojaboonproduksie in Suid-Afrika het gedurende die afgelope aantal jare deur ’n hele paar stroomversnellings gegaan. Vanaf die wyer bekendstelling van die gewas tot die huidige rekordproduksie van 1,55 miljoen ton, het ’n groot aantal produsente, maatskappye, Graan SA en die Proteïennavorsingstigting grootse pogings ingesit om hierdie mylpaal te bereik.

Met die sojaboontonnemaat nou op koers, word al hoe meer klem geplaas op die kwaliteit van sojabone. Hierin speel proteïen- en olie-inhoud ’n groot rol. Die vraag is dus: Wat beïnvloed hierdie kwaliteitseienskappe en tot watter mate kan die produsent dit beheer?

Vir die doel van hierdie artikel sal slegs op proteïenvlakke gekonsentreer word. In die algemeen kan gesê word dat waar proteïenvlakke styg, die oliepersentasie in die graan daal. Hou egter altyd in gedagte dat die waarde van sojaboonpitte geleë is in ’n kombinasie van proteïen en olie – met opbrengs as belangrikste komponent.

Kultivarkeuse
Delf jy deur internasionale literatuur, is dit duidelik dat daar groot verskille in die proteïeninhoud van sojaboonsaad is. Wil jy egter wyd aangepaste kultivars hê wat algemeen geproduseer word, vind jy min kandidate waarvan die proteïeninhoud en opbrengs hoog is.

Die eienskappe van Suid-Afrikaanse kommersieel-beskikbare kultivars is van des te meer belang. In hierdie verband is die jaarliksgepubliseerde inligting van die Nasionale Sojaboonkultivarproewe, wat deur die Landbounavorsingsraad (LNR) uitgevoer word, van groot waarde.

In dié verslag word ruproteïenpersentasies vir ’n groot aantal kultivars oor vele produksiegebiede aangegee. In die 2017/2018 produksieseisoen is ruproteïenpersentasies van 35 kultivars op 18 lokaliteite in ’n verslag saamgevat.

Die inligting word verder ingedeel in koel, matige en warm gebiede. Die ontledingsmetode wat deur die LNR gebruik word, sal nie noodwendig dieselfde wees as data van ander laboratoriums nie. Wat wel van belang is, is die relatiewe waardes van die verskillende gebiede.

Met die oog daarop om nie verstrengel te raak in massas data nie, is slegs die gemiddelde ruproteïenpersentasie van die kultivar oor al die lokaliteite in die koel gebiede heen as eerste uitgangspunt met mekaar vergelyk. Hierdie inligting dui aan dat die gemiddelde ruproteïenpersentasie vir al 35 kultivars in die koel gebiede 32,85% is. Belangriker nog is dat die variasie tussen kultivars tussen 34,34% (hoogste persentasie) en 31,21% (laagste inhoud) wissel.

Met die gebruik van dieselfde metode is die resultate in die gematigde gebiede soos volg: Die gemiddelde ruproteïen is 34,88% met hoogste ruproteïengemiddeld 35,71% en die laagste 34,21%. Warm gebiede het ’n 36,45% ruproteïengemiddeld, met variasie van tussen 37,58% en 35,78%.

Die resultate dui op ’n duidelike toename in die proteïenpersentasie van die sojaboonsaad soos temperatuur toeneem. Selfs binne die verskillende produksiegebiede sal die warmer lokaliteite ’n hoër proteïenpersentasie hê. Hierdie tendens is in oorstemming met buitelandse bevindings: Proteïenvlakke in saad styg soos lugtemperature tydens die graanvulperiode toeneem. Sou vog egter gedurende hierdie periode beperk wees, sal beide opbrengs en olie-inhoud daal.

Inligting soos vervat in buitelandsgepubliseerde publikasies dui daarop dat 25°C tot 28°C optimaal vir die produksie van olie is; daarna verhoog die proteïeninhoud feitlik liniêr. Tog is dit nie duidelik waar temperatuur se positiewe invloed afneem nie.

Wat nog meer duister is, is wat die langtermyninvloed van ekstreme temperature vir ’n beperkte tydperk is – soos dié temperature wat gedurende die afgelope seisoen voorgekom het.

Die omgewing se invloed
Uit die voorafgaande is dit duidelik dat omgewingsfaktore ’n dominante rol speel. Droogte het ’n beduidende uitwerking op opbrengs. Gebrek aan vog tydens die blomperiode sal blomme laat afval. Minder peule sal vorm en die hoeveelheid saad per peul sal daal.

In die hele proses sal die proteïeninhoud van die saad styg en olie daal. Dit is interessant dat die peule van die boonste helfte van die plant sade het wat ’n hoër olie-inhoud besit en laer in proteïen is as die onderste helfte. Droogte sal hierdie verhouding uiteraard ook beïnvloed.

Produksiepraktyke
Met al die produksiepraktyke wat verband hou met proteïenopbrengs, is stikstofbinding deur middel van behoorlike produksie­praktyke die belangrikste. Dit is trouens ook van die min aspekte wat ’n produsent kan beheer met die oog daarop om die proteïenpersentasie van sojabone te verhoog. Hou in gedagte dat stikstof die vernaamste bousteen van proteïene in saad is.

Ten einde optimale stikstofvoorsiening aan die sojaboonplant te verseker, moet ’n produsent seker maak dat voedingstowwe ’n pH (KCl) van hoër as 5,2 het en verkieslik neutraal is. Die praktyk om sojabone sonder kunsmis te plant, met die veronderstelling dat die vorige gewas (meestal mielies) genoeg reserwes in die grond laat vir optimale produksie, is nie aan te beveel nie.

Daar is genoeg aanduidings dat waar voldoende fosfor (P) en molibdeen (Mo) voorsien word, proteïenvlakke in die saad sal styg – so ook die opbrengs.

Die ent van sojaboonsaad moet doeltreffend uitgevoer word – met genoeg entstof op die saad of in die onmiddellike omgewing van die saad (ent in saadvoor). Waar sojabone vir die eerste keer gevestig word, behoort enting op die saad en in die voor gedoen te word.

Onthou dat stikstof die belangrikste bousteen van proteïen is en dat die simbiose tussen die bakterieë (Bradyrhizobium japonicum) en die sojaboonplant in staat moet wees om nagenoeg 70 kg stikstof (N) per ton graan geproduseer, te bind. ’n Oormaat stikstof in die grond sal die bakterieë se vermoë om stikstof te bind beperk of vernietig. Die grootste gedeelte van die stikstof sal dan direk uit die grond opgeneem moet word.

Droogte, lae grondtemperature aan die begin van die seisoen en té lae grondtemperature in die groeiseisoen kan binding beperk, wat opbrengs uiters nadelig sal affekteer. In ’n groot aantal gevalle sal laer opbrengs die proteïenpersentasie opjaag – ten koste van olieproduksie en totale graanopbrengs.

Volgens die wêreldrekordhouer in sojaboonopbrengs, mnr Randy Dowdy, verdien kalium (K) ook spesiale vermelding. Sy eie waarnemings op die plaas stel die vereiste kaliumverbruik op heelwat meer as die 20 kg K-onttrekking per ton graan wat plaaslik aanbeveel word. Beperkte hoeveelhede van hierdie voedingstof sal stikstofbinding nadelig affekteer, omdat dit die algemene groei en ontwikkeling van die sojaboon raak.

Beperkings op enige voedingselement sal groei beperk, stikstofbinding kniehalter en opbrengs nadelig raak. Veral swael verdien aandag omdat dit ’n belangrike boustof van proteïene is. Die onttrekkingsyfers van hierdie element wissel aansienlik en kan so hoog soos 6 kg/ton graan wees.

As algemene boustene vir ’n gesonde plant behoort gesonde vlakke van kalsium, magnesium en sink veral aandag te kry. Met die oog hierop is gereelde grondmonsters noodsaaklik – en waar van toepassing blaarmonsters, ten einde moontlike tekorte aan te vul.

Slotsom

  • Kies die beste kultivars vir jou omgewing en versprei die risiko deur meer as een groeiseisoenlengte, wat steeds in jou gebied aangepas is, te kies.
  • Kry die grondvrugbaarheid so na as moontlik aan ideaal.
  • Bestry onkruide vroeg – verkieslik moet voor plant begin word.
    Op dié wyse kry die sojaboon die beste kans om optimaal te groei en stikstof optimaal te bind.
  • Maak seker dat rywydtes, plantpopulasie en veral egaligheid van stand en plantdiepte optimaal is. Verseker ook dat stroop­kapasiteit voldoende is wanneer sojabone ryp is.
  • Maak seker dat al die verbouingspraktyke so effektief as moon­tlik uitgevoer is, dan sal die sojaboon sorg dat die hoogste opbrengs en die beste kwaliteit geproduseer word.

Publication: December 2018

Section: On farm level