Vroeg begin is half gewin – herfsbespuiting van onkruid wérk

Gepubliseer: 17 April 2020

3512
Pietman Botha,
SA Graan/Grain
redaksiespan

Onkruid onttrek vog en voedingstowwe uit die grond en winteronkruid in veral die somersaaigebiede doen dit besonder goed. Hierdie winteronkruide ontkiem gewoonlik in die laat somer en herfs, terwyl die lande met ongeoeste gewasse beplant is. Die volwasse plante gee die jong onkruid goeie beskerming en hulle floreer.

Dit is welbekend dat hierdie laat ontkiemende onkruid nie maklik beheer word nie. Tradisionele chemiese beheer is nie so doeltreffend nie, aangesien die onkruiddoder aktief moet bly totdat hierdie onkruide veel later as die laaste bespuiting ontkiem. Sonder ’n hoogloopspuit of lugbespuiting is die beheer van hierdie onkruide amper onmoontlik voor die oeste nie gestroop word nie. As winteronkruid – veral skraalhanse – eers ontkiem en gegroei het, word dit nie maklik beheer nie. Na die stroop van die graan is die beheer van die winteronkruide ook nie 100% doeltreffend nie, bloot omdat die onkruide deur stoppels en blare bedek is, wat die effektiwiteit van die chemiese doders benadeel. Indien vee die winteronkruid bewei, is die beheer selfs swakker.

Voordele
Produsente in die Schweizer-Reneke-distrik pas al ’n geruime tyd lugbespuiting toe om die laat opkomende onkruide in die ongestroopte mielies te beheer. Glifosaat in kombinasie met ander middels is eers deeglik ondersoek en toe gebruik. Moontlike probleme wat voorsien is, het ingesluit effektiwiteit, moontlike drywing van die onkruiddoder en of die onkruide in die bane bereik sou word. Ten spyte van die onsekerhede was daar tog produsente wat hierdie strategie geïmplementeer het en verbasend goeie resultate daarmee verkry het. Hulle het gevind dat die lugbespuiting van hierdie onkruide hoogs doeltreffend is en dat die voordele die koste en nadele verreweg oortref.

Baie goeie skraalhansbeheer word verkry waar die onkruiddoder korrek met die vliegtuig toegedien is.

Volgens produsente in dié distrik word daar tot 100 mm vog in die grond bespaar. Hoe hoër die onkruiddruk, hoe meer vog word bespaar. Hierdie vog is deurslaggewend om ’n goeie opvolggewas te verseker. Dis boonop nie die enigste voordeel nie. Produsente kon as gevolg van hierdie bespuitingspraktyk ook ’n besparing in hul onkruiddoderprogram realiseer, omdat die laat onkruide wel beheer kan word.

Die vroegtydige beheer van die winteronkruide maak verder die vroeë bewerking van die lande moontlik. Sodoende word vroeg plant weer ’n opsie, wat hoër opbrengste tot gevolg kan hê.

Sommige produsente in die Viljoenskroon-distrik pas ook hierdie praktyk met groot sukses toe. Die resultate is reeds sigbaar in die huidige seisoen. Een produsent het op die harde manier self die verskil agtergekom. By aangrensende huurlande wat al ’n geruime tyd deur die produsent bewerk word, was die een land bespuit en die ander nie. Hy kon dus die een in planttyd plant, maar moes die ander een eers skoonmaak en toe boonop vir reën wag voor hy daar kon plant. Tans is daar reeds ’n groot opbrengsverskil duidelik tussen hierdie blokke.

Waarom werk hierdie praktyk so goed? Die antwoord is eenvoudig: Jong, aktief groeiende onkruid neem die onkruiddoder beter op en die middels is dan meer effektief. Tydigheid van beheer is ongetwyfeld voordelig. Verder is dit so dat die meeste van hierdie winteronkruide in die bane tussen die rye opkom. Dit is hier waar die onkruid die beste groei. Met die toedien van die onkruiddoders van bo af word die onkruide goed geteiken en is die beheer goed.

Wenke
Chemiese onkruiddoders het oor tyd verander en daar is tans nuwe middels op die mark. Die gebruik van spuithulpmiddels maak die lewe vir die produsent ook makliker.

Produkte soos Interlock help om druppelgrootte meer eenvormig te maak, wat weer lei tot beter penetrasie van die produk na die teiken op die grond. Produkte soos Class Act saam met glifosaat verbeter die opname van die produk asook die benatting van die teikenonkruid. Class Act bevat ’n plant-herkenbare suiker wat die opname verbeter. Glifosaat in kombinasie met Interlock en Class Act is ’n baie goeie opsie. Daar is ook talle ander glifosaatkombinasies. Bereken watter een die goedkoopste gaan wees en die beste werking gaan verseker.

Die groot geheim is dat die skraalhanse nog in die rosetstadium moet wees vir die beste beheer. Die plante is dan nog plat op die grond en die produsent kry dus die beste bedekking met die onkruiddoder. In die laat herfs moet produsente net onthou dat die plante stadiger groei en dat die produkte dus stadig opgeneem en deur die plant versprei word. Wees dus gewaarsku dat die onkruiddoder langer gaan neem om die onkruide dood te maak – dit kan tot 30 dae wees voor hulle begin vrek. Die onkruide se groei word egter vroeg na bespuiting gestop en voggebruik verminder drasties.

Korrekte bespuiting met die vliegtuig of met hoogloopspuite is van kritieke belang. Maak seker dat die onkruiddoder wel die rye bereik. Die plasing van water-sensitiewe papierstrokies om die bedekking en penetrasie te monitor, is belangrik. As daar van hoogloopspuite gebruik gemaak word, is die kontrole van die bespuiting net so belangrik. Maak seker dat die spuitpunte reg is en dat die korrekte spuitpunte gebruik word. Gebruik genoeg water – ongeveer 200 ℓ/ha – om goeie bedekking te verseker.

Die tyd van bespuiting is ook belangrik. In die Schweizer-Reneke-distrik begin die produsente vanaf begin Mei om die lande te bespuit. Die tyd van toediening sal in elke distrik verskil – planttyd en reënval gedurende die seisoen speel ook ’n rol. Voldoende reën kan vroeër bespuiting vereis en as dit droër is, kan die bespuiting dalk ’n bietjie later wees. Dit is belangrik om die lande gereeld te besoek en die onkruide se vordering aan te teken. So kan ’n produsent met sekerheid sê wanneer bespuit moet word. Dit is belangrik om met medeprodusente en chemiese verteenwoordigers te skakel voordat hierdie praktyk geïmplementeer word.

Dr Gerhard Verdoorn, bedryfs- en rentmeesterskapbestuurder van CropLife SA, gee raad oor die moets en moenies van lugbespuiting. Druk op die QR-kode om die artikel te lees.

’n Praktiese wenk van ’n produsent om die werking te verbeter, is om die lande waar lugbespuiting gebruik word, te omsoom. So­doende kan die onkruidbeheer op veral die koppe van die lande verbeter word. Dit kos wel meer, maar die beheer is baie beter.

Vir verdere navrae kontak Pietman Botha by 082 759 2991.