Boerderygemeenskap se veiligheid is prioriteit

Mariëtta Cronjé, SA Graan/Grain medewerker

1703

Vir die Agri Securitas Trustfonds is die veiligheid van die boerderygemeenskap in Suid-Afrika ’n prioriteit. Daarom het dié fonds weer geld bewillig om sowat 420 produsente en 15 500 plaaswerkers regoor Suid-Afrika te help beveilig. ’n Geldelike skenking van meer as R1,5 miljoen is aan twaalf boereverenigings gemaak vir die oprigting van kameranetwerke en die aankoop van veiligheidstoerusting.

“Die veiligheid van ons landbouers en plaaswerkers is belangrik en met dié finansiële bydrae poog die Trustfonds om die bate wat verantwoordelik is vir stabiliteit en voedselsekerheid in die land te help beskerm. Die mate waartoe die landbougemeenskap onderworpe is aan geweld- en eiendomsverwante misdade skep ’n enorme probleem vir die sektor en alle Suid-Afrikaners moet daarvan kennis neem,” sê mnr Japie Grobler, voorsitter van die Agri Securitas Trustfonds.

“Fondse is bewillig aan boereverenigings in Noordwes, die Noord-Kaap, Limpopo, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap. Boereverenigings maak toenemend staat op die implementering van kamerastelsels wat aan hulle ’n observasievermoë oor ’n wye gebied verskaf. Met dié stelsels kan verdagte voertuie en persone wat ’n gebied betree, geïdentifiseer word. Dit stel die gemeenskap dan in staat om vinnig te reageer en op te tree in die geval van verdagte insidente.

“Veediefstal is een van die grootste eiendomsverwante misdade wat lede van die boereverenigings ervaar – met groot finansiële verliese. Huisrowe is ’n verdere misdaad waaraan die landbougemeenskap blootgestel word, met die gepaardgaande traumatiese gevolge. Die diefstal en vernietiging van plaasinfrastruktuur en smokkelhandel is misdade waaraan die boerderygemeenskap toenemend blootgestel word. Daarom poog die Trustfonds – met ’n bewese rekord en met die hulpbronne tot sy beskikking – om boerderygemeenskappe te help om hulleself te beskerm.

“Veiligheid op die platteland het ’n enorme koste-item geword vir boerderygemeenskappe. Met hierdie bydraes probeer die Trustfonds help om ’n veiliger produksie- en leefomgewing vir produsente en plaaswerkers te skep. Geen beskermingsmaatreëls kan dien as waarborg dat ’n plaasaanval nie sal plaasvind nie, maar die afskrikwaarde daarvan moet nie onderskat word nie.

“Landelike misdaad het baie verskillende dimensies. Dit beteken dat oplossings ook op verskillende gebiede gesoek moet word, insluitende beleid, samewerking, paraatheid en effektiewe polisiëring. Die Agri Securitas Trustfonds is slegs een van hierdie instrumente, maar ons glo dat dit ’n praktiese bydrae lewer tot die bevordering van die veiligheid van landelike gemeenskappe. Die Trustfonds bly ’n neutrale en ideale platform om ’n bydrae te maak tot die stryd teen landelike misdaad en die beveiliging van ons boerderygemeenskap,” sê Japie.