Graan SA ontvang sy lede met trots op NAMPO Park

Gepubliseer: 3 Mei 2022

1167
Alzena Gomes skakelbeampte, Graan SA alzena@grainsa.co.za

Groot opgewondenheid heers by Graan SA in die aanloop tot vanjaar se NAMPO Oesdag en oor die moontlikhede wat hierdie jaar se Oesdag aan lede gaan bied. Dit is slegs wanneer iets nie meer daar is nie dat ’n mens opnuut besef hóé baie dit gemis kan word.

Hoewel die fisiese NAMPO Oesdag slegs vir twee jaar gekanselleer is, het dit veel langer gevoel. Landbouers en landbou-entoesiaste kan nie wag vir die Oesdag om aan te breek nie en uit die vele kommentaar wat ons ontvang het, loop die opgewondenheid hoog. 2022 se NAMPO Oesdag beloof om wéér ’n besonderse belewenis te wees.

Die 54ste Oesdag – wat vir die eerste keer oor vyf dae aangebied gaan word om voorsiening te maak vir die verminderde kapasiteit – sal landbou se nuutste tegnologie, masjinerie, innovasies en produktiwiteitsoplossings op een platform ten toon stel. Die 2022-tema “Beleef dit!” is ’n uitnodiging aan die landboubedryf en die breë publiek om die grootste landbouskou in die Suidelike Halfrond eerstehands te ervaar. Niemand hoef meer te wonder óf hulle verbeelding in te span om die goeie ou dae te onthou nie. Die uitnodiging is oop – kom beleef self die opwin­ding, die toerusting, die tegnologie en die kameraderie op NAMPO Park.

Eksklusief vir Graan SA-lede
Opbetaalde Graan SA-lede het hul gratis NAMPO-kaartjies en eksklusiewe ledeparkeringtoegang elektronies ontvang. Verder het lede ook die opsie om vóór die publiek addisionele kaartjies aan te koop.

Ledeparkeerkaartjies is geldig vir eenmalige gebruik, maar op enige van die vyf dae wat NAMPO aangebied word. Ledetoegang tot die park word deur ’n elektroniese kaartjiestelsel verkry en verseker ’n moeitelose
en doeltreffende lede-ervaring.

Kom belééf dit
Die NAMPO Oesdag het hierdie jaar ten doel om werklik weer die NAMPO-droom te verwesenlik en as unieke eenstopnetwerkplatform vir elke landbougeesdriftige te dien, waar Graan SA-lede met die landboubedryf se toprolspelers kan netwerk en vriendskapsbande smee. Graan SA ontvang sy lede met trots op NAMPO Park met die gebruiklike gholfkarretjieritte asook stomende cappuccino’s en warm sjokolade as pantser teen die vroeg­oggend- Vrystaatse koue, bedien deur die John Deere Financial-baristas. Die ledelokaal sal deur die dag verversings aanbied en ’n koel lafenis teen die middaghitte verskaf met die ledestoep as ideale kuierplek wanneer die dag begin taan.

SA Graan/Grain se spesiale NAMPO-uitgawe is ook nou aanlyn beskikbaar. Klik op die QR-kode om meer te lees oor alles wat by NAMPO ’22 aangebied gaan word.

Klere en promosie-items met die NAMPO-handelsmerk sal in die NAMPO-saal te koop aangebied word, terwyl die Graan SA & NAMPO­ Belewenissentrum by die ledelokaalingang be­soekers ’n interessante kykie sal gee op die graansiklus met die uitstalling Van Saad tot Saad. Volg die graanpad en verstaan hoe Graan SA in die graanketting inskakel. Produsente sal toegang tot intydse Safex-inligting kan kry om so­doende op hoogte van die markte te bly. Die Graan SA-ekonome sal met navrae behulpsaam wees, en benewens die inligting wat aan produsente beskikbaar gestel word, kan lede ook uitsien na ’n eenstopdiens met personeel byderhand om van hulp te wees.

Graan SA poog om elke lid en besoeker se NAMPO-ervaring onvergeetlik te maak en sien uit daarna om almal in die ledelokaal te verwelkom vir ’n onvergeetlike volle vyfdagweek van dié nuutste, beste en grootste landboutentoonstellings. Vir diegene wat altyd gewonder het en vir elke terugkerende besoeker wat dink dat hulle die besienswaardighede en klanke dalk vergeet het – julle word uitgenooi om die 2022-NAMPO Oesdag te besoek… en dit te belééf!