Ta’ Rose

1169

December 2018

Beste Grootneef

Die jaar het met goue sonstrale oor die stoeptrap gegly: Soggens en saans, 365 meetsnoere uitgedeel. Die nuwe jaar is ’n halwe nag weg, met die Aandster wat vanaand helder oor die Vrystaat-vlaktes skyn.

Ou Neef, ’n Oujaarsaand is gemaak om die vreugdes en pyne van ’n jaar wat verby getik het, te gedenk. En ook ’n glasie wyn te klink op die mense wat ’n verskil gemaak het. Soos ta’ Rose van Port Nolloth. Klein van postuur, maar met ’n ysere wil om mense om haar te laat oorleef.

Port Nolloth mag mooi op ’n poskaart lyk, maar die ou hawe is oor tyd deur die elemente verweer tot flappende dakplate en grou mure. Die visfabriek is nou verlate ruimtes, met net ’n vae herinnering van sy gloriedae toe tonne vis op ’n dag afgelaai is om verwerk te word.

Die kaai se relings van staal is deur roes en see verteer. Daar is gate in die kaai se loopvlak, wat ’n mens kan insluk as jy nie mooi oplet waar jy loop nie. Van die bakkieskuite lê leweloos hoog teen die duin voor die hawe getrek; reddeloos sonder ’n skipper met ’n permit, of brandstof vir die buiteboord. Die laaste snoekloop is lankal vergete.

Tussen al die vaalheid loop ons vir ta’ Rose met ’n handlyn op die kaai raak. Sy sit klein stukkies makriel aan die hoekie en slinger die aas en sinker met ’n geoefende hand die dieptes in.

Ta’ Rose trek die handlyn met plukkies nader tot die sinker en kaal hoekie deur die water flits – die klein vissies stroop alles skoon vandag. Weer word ’n stukkie makriel behendig met ’n mes van die grate gestroop en versigtig oor die hoekie gevou. ’n Mens weet nooit – dalk gee die see met die volgende gooi ’n grote.

Die asie en sinker flits weer in die middagson, om die golwe met ’n sagte plons onder die kaai te tref. Die lyn word weer met klein plukkies ingehark. Die golwe loop hul onderdeur die kaai te pletter teen die vlak water op die strand.

Ta’ Rose vertel tussenin van die groot storm. Die wind het in ’n oogwink in ’n Suidwester verander en die kus met ’n misbank toegevou sodat jy jou hand nie voor jou oë kon sien nie. Die klokboei net voor die diep water het met korter tussenposes weerklink soos die groter golwe ingerol het.

Die manne op die skuite was dié dag ver uit. Die omswaai van die wind het niemand sien kom nie. En toe bel hulle vir ta’ Rose op haar selfoon. En hulle vra watter kant toe, want hulle kan nie die land sien nie.

Ta’ Rose het self na die polisiestasie gehardloop om hulp te ontbied. Ook die Seeredding-mense is gekontak. Van die bakkieskuite is ingepraat totdat die verlore vissers die klokboei se ghong deur die mis hoor klink het en die vuurtoring se flits hul veilig tot agter die hawemuur gelei het.

’n Ander skuit met ’n bemanning van drie is nou nog weg. En daar huil ta’ Rose op ’n helder middag by vreemde mense oor haar vissers wat nooit weer uit die see gekom het nie.

Maar sy hou steeds die fort vir al die ander vissers wat uitgaan. Sy ken elk by die naam en weet of sy bakkie vroegoggend die golwe in is. En ook wanneer hul teruggekom het.

Vrou-alleen by die verslete ou visfabriek is ta’ Rose die hawemuur vir Port Nolloth se vissers. Want sy is ta’ Rose en as sy dit nie doen nie, wat sal tog van die mense word?

Ou Neef, partykeer moet jy ’n ding vir die mense om jou doen. Nie vir wins of aansien nie, maar om ’n verskil in lewens te maak. Soos ta’ Rose van Port Nolloth.

Vanaand op Oujaarsaand, ou Neef, gedenk al die mense wat al ’n vuurtoring in jou lewe was en jou veilig agter ’n hawemuur ingelei het.

Groete op die Oosgrens.

Publication: December 2018

Section: Features