Uitdagende toestande vir Wes-Kaap

Gepubliseer: 10 Julie 2020

1402
Ruan Schutte,
junior landbou-ekonoom en bemarker, Graan SA

Met die afskop van die nuwe seisoen was daar hoop in produsente se harte dat die 2020-seisoen ’n normale jaar sou wees. Die laaste vyf jaar het knellende uitdagings gebied, met onder gemiddelde reënval.

Hoë insetkoste en min vog hou die graanbedryf in die Wes-Kaap onder druk. Dit dra by tot die voortgesette druk op kontantvloei en die toename in oorlaatskuld. Die toestande soos hier onder bespreek, het gegeld op 13 Mei 2020 toe die artikel geskryf is. Hopelik het omstandighede in die streek al intussen verander.

Swartland
Die Swartland het vroeg in April goeie reën ontvang, maar daar het in sekere gebiede slegs 4 mm tot 5 mm opvolgreën geval. Die warm temperature het veroorsaak dat die grond weer vinnig uitdroog. Dit skep uitdagende omstandighede in die gebied. Aanplantings verlangsaam, terwyl produsente hoop dat daar binnekort reën gaan val sodat die aanplantingstempo weer kan versnel. In die meeste gebiede staan aanplantings einde se kant toe met sommige produsente wat aangetoon het dat hulle reeds klaar geplant het. Die produsente wat nog besig is om te plant, het reeds ongeveer 70% tot 80% van die aanplantings voltooi.

Ontkieming en opkoms van die geplante graan is baie wisselvallig en neig om tussen onder gemiddeld en swak geklassifiseer te word. Lae grondvog het definitiewe ontkiemingsprobleme geskep. Van die produsente reken dat dit die swakste wegspring tot planttyd in die gebied is sedert hulle tot soveel as 20 jaar gelede hier begin boer het. Heelwat produsente het ook aangedui dat talle diere gevoer moet word omdat daar nog nie weiding beskikbaar is nie. Dit blyk asof vee in die gebied ten minste nog tot einde Julie gevoer sal moet word. Dit plaas die kontantvloei van produsente net verder onder druk.

Suid-Kaap en Overberg
Die Suid-Kaap en Overberg lyk nie veel anders nie. Min reën het in die gebied geval in April en aan die begin van Mei. Met baie droë, uitdagende toestande wat wyd voorkom in die Heidelberg/Swellendam/Riversdal-vlaktes, is dit definitief nie optimale produksietoestande wat beleef word nie. Die Suid-Kaap se produsente het tussen 80% en 100% klaar geplant aan hulle kanola en gars, en in die omgewing van 55% tot 60% van hulle koring is in die grond. Die Overberg het self min reën gehad en die saad lê in droë grond. Dit veroorsaak dat daar ook probleme met wisselvallige opkoms en ontkieming in die Suid-Kaap en Overberg-gebied van die provinsie ondervind word. Die Overberg se aanplantings vorder vinniger en dit lyk asof 85% tot 100% van die gars en kanola aangeplant is en omtrent 65% tot 70% van die koring.

Talle produsente in die gebied sukkel ook met te min weiding en moet vee voer, wat weer ander uitdagings skep. Voer is skaars in die provinsie en produsente moet mielies ten duurste aankoop vir vee­voerdoeleindes. Die optimale planttyd in die Wes- en Suid-Kaap is vanaf April tot einde Mei. Die grootste gedeelte van die 2020-aanplantings is voltooi, maar die omstandighede is tans nie gunstig nie. ’n Mens hoef nie ’n profeet te wees om te voorspel dat daar baie uitdagings gaan wees met swak opkoms nie – wat die geskatte opbrengste reeds vroeg in die seisoen onder druk kan plaas. Ons kan net hoop en bid dat goeie reëns reeds geval het teen die tyd wat hierdie artikel gelees word en dat die negatiewe prentjie wat hier geskilder is, kon plek maak vir optimisme, hoop en goeie vooruitsigte.